Vakansie is vir skoolkinders van die belangrikste tye van die jaar. Maar hoe gemaak as ma en pa nog werk en die spruit is tuis?

Een manier om die spruit besig te hou, is om te sorg dat daar ’n stapel boeke is om te lees. As daar ’n klompie boeke met aktiwiteite in is, is dit nog beter.

CailinCailin Spickett van Pretoria is tien jaar oud en ’n baie ywerige leser. Met die hulp van pa Arthur skryf sy ook heel behendig kort stukkies oor haar leeservaring. Hierdie week deel sy haar mening oor ’n stapeltjie boeke wat sy kaf gedraf het tydens die vakansie.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Bobbie, Elizabeth Pienaar (Human & Rousseau, R120)

As jy glo dat ’n hond ’n mens se beste vriend is, is hierdie boek vir jou! Hierdie verhaal wat op ware feite gegrond is, begin baie hartseer wanneer Natasha, Bobbie se eienaar, sterf in ’n motorkaping. Haar ouers gaan weg uit die land en Bobbie word agtergelaat. Niemand wil hom eintlik hê nie. Bobbie gaan deur moeilike tye. Verwaarloos en alleen beland hy uiteindelik by ’n diereskuiling. Hierdie hartroerende verhaal oor Bobbie se goeie en slegte tye, totdat hy vir Jessie ontmoet, leer jou om nie moed op te gee nie en solank daar hoop is, is enigiets moontlik. Ek kon glad nie die boek neersit tot ek klaar was daarmee nie.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

My Binneste. Ontdek die menslike liggaam en takel meer as 20 aktiwiteite, Anna Clayborne (Struik Lifestyle, R140)

Hierdie sagteband boek vertel mens alles van hoe ongelooflik die menslike liggaam is. Jy ontdek hoe jou lyf werk. Elke verduideliking het pragtige bypassende prente en foto’s en dit word interessant in verstaanbare taal beskryf. Daar is grillerige feite en baie pret aktiwiteite, soos om die lengte van jou derms te meet. Die hart, bloed, longe, spiere en sintuie word verduidelik met praktiese, pret aktiwiteite wat dit nog makliker maak om te verstaan. Die boek laat jou op ’n speelse manier uitvind hoe jy hoor, sien en ruik, hoe jou spiere jou laat beweeg en waarom bloed rooi is. Werklik ’n pragboek waarmee ek my liggaam en sy werking kan leer ken.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Knolle, Bolle & tuinkapperjolle: Plant jou eie groente. Idees vir resepte en kunsprojekte, Samantha van Riet (Tafelberg, R180)

Tog so lekker om met rede vuil te word! Hierdie pragtige volkleur hardebandboek leer jou om seisoenale groente in jou eie groentetuin te plant. Die boek is verdeel in twee dele – eerstens leer jy hoe om die grond voor te berei, die saadjies te saai en die plante te versorg. Dit gee ook inligting oor die seisoene en voëls en insekte wat jou plantjies sal vreet. Die tweede deel gaan oor die groente self – met ’n dubbelbladsy vir elkeen van die 23 soorte – selfs spinasie, broccoli en wortels! Volledige instruksies vir beplanning word noukeurig uiteengesit. Met die maklike resepte vir die groente uit jou tuin kan jy ook heerlike disse vir jou gesin voorsit.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Groot, Vet Suid-Afrikaanse Kindergrapboek (Zebra Press, R120)

Vet pret! Meer as 200 bladsye met maklik leesbare en verstaanbare grappe oor enigiets en alles. Die boek kan mens ure besig hou; lees self, lees saam of lees vir ’n maatjie. Geniet die kort grappe, lang grappe, simpel antwoorde en dom vrae op jou eie of saam met ander. Dit is veral lekker om die boekie saam te neem op lang reise. Lekker lag!

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die Ongelooflike Liggaam: ’n Opwip-en-uitvou boek, Richard Walker (Human & Rousseau, R210)

Hierdie groot, hardebandboek vertel mens alles van hoe ongelooflik die liggaam is en werk. Elke opwip-deel en flappie het bypassende prente en word in interessante verstaanbare taal beskryf. Die verskillende dele van die liggaam en sy werking word opgedeel, elk in twee volbladsy gedeeltes, met beskrywings van: Binne en Buite – die vel, selle, weefseltipes en naels; Hartsake – die hartklop, bloed, bloeddruk, en bloedsomloop; Asemskep – longe, asemhaling, lug vervoer na selle; Voeding – spysverteringsstelsel, proe, verteer, absorber en uitskeiding van kos; Skoonmaakdienste – die lewer, die niere, blaas en waterbalans; Nuwe geslagte – voortplanting; In beheer – die brein, senustelsel en hormone; Sien en hoor; die skelet; Spiere; Siektebestryders – selle, sisteme wat die liggaam beskerm teen siektes. Dan is daar ook ’n uitgebreide woordelys en ’n fantastiese lewensgrootte uitvou-en-opwip plakkaat van die liggaam. Werklik ’n pragboek waarmee ek my liggaam en sy werking kan leer ken.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die rower Hotsenplots, Otfried Preussler (Protea Boekhuis, R165)

’n Opwindende storie! Die rower Hotsenplots besteel Kasper en Stoffel se ouma en hulle probeer die skelm vang. Maar dinge loop lelik skeef. Hotsenplots vang die twee seuns. Kasper word oorgegee aan die grote towenaar Petrosilius Plagelman, terwyl Hotsenplots self vir Stoffel gevangene hou. Lees maar self verder hoe die twee maats uit hierdie penarie kom.

Diè innemende storie van oor die 100 bladsye, met baie kinkels, draaie en snaakse situasies is maklik leesbaar vir dogters en seuns op graad 4 vlak en verskaf lekker afleiding. Die storie word ook ingekleur met illustrasies om die verbeelding te prikkel.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Eerste Feiteboek, Helen Lewis (Metz Press, R200)

Die ondertitel van hierdie boek is: ’n Kennisskatkis vir kinders van 5 tot 9 jariges. En dis werklik wat die boek is. Dit gee leersame en interessante feite oor Lewensvaardighede, Wiskunde, Afrikaans as huistaal en Engels as eerste ekstra taal. Die boek is saamgestel vir hierdie vakke volgens die nasionale skoolkurrikulum en die inhoud is van baie hulp met gewone skoolwerk, veral met huiswerk. Al is ek in graad 4, kan ek nog steeds naslaan oor die waterkringloop, hulp met wiskunde, die lewenssiklus van verskillende diere en nog baie meer van dit wat op skool gedoen word. Die boek is baie goed ontwerp met mooi prente en foto’s en dis lekker om nuwe kennis en interessante feite op te lees in maklike taal. ’n Handige boek om te hou om dinge weer en weer op te soek.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Musiekensiklopedie vir kinders, Monika en Hans-Günter Heumann, illustrasies deur Andreas Schürmann (Potea Boekhuis, R180)

Die boek is ’n ware ensiklopedie wat alle en enige term wat met musiek te make het beskryf van A tot X. Dit bevat meer as 200 kort artikels oor instrumente, beroemde ou- en hedendaagse komponiste en musiekterme uit jazz, klassieke- en popmusiek. ’n Mens kan lank saam met Klara en Frederik deur die boek werk, allerhande interessante artikels oplees (hoe werk ’n klavier) en enigiets oor musiek leer of naslaan (bv. wat is ’n doedelsak, toonleer of tarantella). Daar is ook ’n lys met omtrent 1 000 terme, en soveel as 200 kleurvolle foto’s en prente van musikante en instrumente (ek het nooit kon dink daar is so baie nie), verklarings van waar die terme vandaan kom en hoe om hulle uit te spreek. Nie ’n leesboek nie, maar werklik ’n bêreboek, om op my tyd deur te werk met al die interessante kort artikels. Alles word maklik leesbaar gemaak met Klara en Frederik wat dinge verduidelik.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Prinses Stories, oorvertel deur Gretel Wybenga met illustrasies deur Zinelda McDonald (LAPA Uitgewers, R100)

In die boek word nege baie bekende ou sprokies oorvertel, meestal in die eerste persoon. Die klassieke stories van Aspoestertjie, die Prinses en die ertjie, die Twaalf dansende prinsesse, die Paddaprins, Doringrosie, Sneeuwitjie, Duimelize, Raponsie en Liza en die elf swane kry nuwe lewe. Ons ken die stories van kleintyd af, maar elke storie word weer vars met hierdie oorvertelling. Deur die karakters met hul eie woorde te laat praat in slim, gewone Afrikaans (soms met snaakse sêgoed) maak dat die stories lewe kry en wanneer elke karakter se woorde met ’n ander stemtoon hardop gelees word, soos ’n storie verteller sou doen, is dit groot pret. Die illustrasies is pragtig, kleurvol en pas mooi by elke storie en beeld die karakters se gevoelens (geluk, hartseer, moegheid) goed uit.