Sy het met een of twee ghrênd jong kêrels van die studentegemeenskap uitgegaan en by haar koshuis was daar glo gereeld ’n tou hoopvolles. Die verteller beskryf homself as ’n vaal spreeu van ’n ou wat haar maar op ’n afstand bewonder het, heel eerbiedig, omdat hy geweet het sy kanse is nul.

Tania, die skoonheid, is eenparig as joolkoningin/lentekoningin verkies en op die dag van die lente-optog het sy op haar koningin-sierwa gelyk asof sy ’n skone nimf uit ’n Griekse mite is.

En so het die dae daarna verbygegaan, met die verteller in die skaduwees - totdat sy hom op ’n dag aangespreek het met: “Koos, hoe gaan dit met jou?” Dit het uitgeloop op ’n koffieafspraak, ’n vriendskap, en later, toe hy versigtig vra of sy dalk in meer as vriendskap belang stel, ’n spontane: “Ja, hoekom het jy my so laat wag?”

Daarna volg ’n idilliese somer en ’n jaar of wat - en, dink ek, ’n troue - totdat, voorspelbaar, Tania jonk en skielik sterf. Die verteller eindig sy storie met die herinnering dat hy eenmaal ’n lang lente saam met sy geliefde gehad het, dat hy altyd haar beeld in sy hart bewaar en dikwels fluister: “Tania, my lentekoningin ...”

Dis soos ek dit het, min of meer: ’n heerlike smartlap van ’n storie, druppend van soet liefdesromantiek, lente en trane. En ek vra myself af: Hoekom onthou ek juis hierdie een en soms nie veel van ander grootse literêre werke wat ek ’n paar jaar later gelees het nie?

Eenvoudig: Die meeste van ons hou van ’n storie van liefde en jeug en lente, van die eintlik onmoontlike gemeng met ’n knippie hartseer, of sommer ’n hele eetlepel daarvan. Dit was so effens die resep van die Europese Romantiek van die 18de eeu en wat selfs in ons sogenaamde post-moderne eeu bly roer in verskillende vorme. Maar voor ek diep in die filosofie beland (ek hét ’n paar jaar gelede by die SA Akademie die slotrede oor Romantiek in kulturele verband gelewer), terug na storietyd:

’n Jong meisie het in ’n lentetuin verlief geraak op ’n briljante jong pianis, sê maar Francois du Toit, wat ’n uitvoering vir genooide gaste gehou het. Hy sou daarna na Duitsland vertrek, maar toe hy die meisie sien, het die hormone gewerk, hulle het ewige trou beloof en hy het sy oorsese studie tydelik uitgestel en musiekonderwyser by ’n skool geword. Toe breek die groot oorlog uit en die moontlikheid van studie het in kruitrook opgegaan.

Die verteller sit in ’n deftige hotel se sitkamer terwyl ’n pianis met gryserige hare agtergrondmusiek speel. Hy vra vir die kelner wie dié begaafde man is. Natuurlik kom die antwoord: “Sy naam is Francois du Toit. Hy is waarlik ’n groot kunstenaar. Jammer die oorlog het sy groot loopbaan gekelder, maar hy en sy vrou, wat daar by hom sit, is ’n pragtige paartjie ...”

Dié storie (so min of meer) het in die ou Brandwag verskyn: die keuse tussen liefde en roem, ’n ou-ou tema van die Grieke wat in elke geslag maar weer gebore word soos die nuwe lente. Die liefde blom altyd weer hoopvol of fluister van ekstase en ’n (somtyds hoë) prys wat betaal word. Soos die ware verhaal van ’n jong ma wie se seuntjie aan ’n ongeneeslike siekte gely het. Die kind het vir haar in die somer ’n pakkie blomsaad as geskenk gegee. Sy het dit gesaai. In die winter is hy weg, maar in die lente het die papawers kleurryk in die tuin gestaan.

Die boek se naam het ek vergeet, maar nie die strekking nie. Geen liefde gaan verlore nie. Daar kom altyd weer blomme op, al is dit net ’n herinnering.

So is dit immers in God se plan: altyd ’n vernuwing. Die bome bot in kleurryke bloeisels, maar die bloeisels moet afval. Dan word die blaartjies groener en word die vrugte ryp in die somer en die son, in die volle lewe van verganklikheid en ewigheid.