Ja, sê ek.

Die rakke is vol Kersfeesgoed! sê sy.

Ja, sê ek.

Wie koop hierdie tyd van die jaar Kersfeeskoekies? vra sy.

Hulle stoor is seker vol, sê ek.

Sesuur sluit ek die winkel en jaag huis toe. Dis tyd! sing my hart. Ek storm die stoorkamer binne en klim op ’n tas. Op die heel boonste rak wag die groot wit houer.

Hierin word al die CD’s met die Kersfeesmusiek gebêre. Ek steek ’n paar kerse aan, skink ’n glas wyn en lig die deksel. Nee, ek hou nie op die eerste Oktober ’n Kerspartytjie nie (ek sou graag wou!), maar dis wel tyd om te begin soek na musiek vir die jaarlikse Kersfeesproduksie. Nadat die musiek opgespoor is, moet die stories geskryf, kostuums ontwerp, dekor beplan en met die musikante gerepeteer word, dan is dit einde November

“The First Noël” dreun deur die huis. Binne oomblikke is daar die reuk van kaneel, daar is duisende liggies in die tuin, ek hoor my ouma skarrel in die kombuis, gangaf hou ek en my niggies konsert en in die yskas wag ’n drillende koekstruif met heeltemal te veel groen jellie. ’n Leeftyd van feesvier word opgeroep deur die eerste paar frases van ’n Kerslied.

Ek het al baie geskryf oor die feestyd, die kos, geskenke, afwagting, samesyn, familiedruk, spanning, verlange, hoop en geloof, maar nog nooit rêrig gepraat oor die ongelooflike impak van die musiek nie. Meer as enige ander seisoen, fees, geleentheid of viering dien Kersfees as inspirasie vir die mooiste musiek wat ons ken. Of dit kerklik, klassiek, tradisioneel of kommersieel van oorsprong is, die musiek van geleentheid het feitlik al elke moontlike grens - kultureel, stilisties of histories - oorgesteek. Dieselfde lied kan keer op keer dieselfde emosies, of dit nou blydskap, hartseer of opwinding is, aanwakker. Dieselfde lied word suksesvol en met oorgawe gesing deur klaskamers vol kinders, ’n familie, ’n gemeente, ’n massakoor, ’n bedelaar of ’n wêreldberoemde popster.

Dieselfde lied word jaar ná jaar, geslag ná geslag terugverwelkom sonder om ooit sy bekoring te verloor. Dieselfde lied dwing my en musikante jaar ná jaar tot hoendervleis, al word dit elke keer aangepak met ’n nuwe styl en verwerking

Kersmusiek het ’n verbasende geskiedenis. Die heel eerste liedere is geskryf en uitgevoer in opdrag van die Kerk, dit was meestal in Latyn en glad nie gewild by die publiek nie. Vroliker liedjies het uit die volksmond ontstaan, maar is as minderwaardig beskou en selfs verbied. Die “carol” het sy ontstaan gehad as ’n feestelike dans, eers jare later is woorde bygevoeg. In die Middeleeue het mense feitlik heeltemal opgehou om Kersfees met musiek te vier. Sint Francis van Assisi het dit verander deur toneelstukke met verstaanbare musiek op te voer. Kersliedere soos ons dit vandag ken, het eers in die Victoriaanse tyd gewild geword

Ek kan my nie ’n Kersfees sonder musiek voorstel nie. Dit is die klank van kleintyd, verlede jaar, volgende jaar en elke ander Kersfees wat ek ooit mag deurmaak. Dit is die note wat sê ons is deur nog ’n jaar, almal is nog hier of ons het iemand verloor, dit is die wysie van hoop en dankbaarheid, dit is die begeleiding vir feesgeregte opdis, geskenke oopmaak, kerse aansteek en glase opvryf, dit is die herinnering aan engele.

Elke gunsteling dra ’n ander boodskap en ’n unieke herinnering. “Adeste Fideles” (“Kom herwaarts getroues”) bly die mees majestueuse stuk musiek wat ek ken, “Cantique de Noël” (“Oh Holy Night”) die mees meesleurende. Elke jaar groei die versameling. Dit het onder hedendaagse kunstenaars ’n tipe bevestiging of tuiskoms geword om ’n Kersalbum uit te reik. Popdivas lewer hul beste vertolkings met die wete dat ’n Kersalbum nooit verouder nie en baie langer na geluister word as enige van die treffers. My wens vir elkeen is ’n weelderige Kerstyd, verryk met weergalose musiek, vrede en hoop.