Die spontaneïteit van hul sang (die een lied vloei sommer ewe gemaklik na die volgende), die vrolikheid, die nostalgie, die nootvastheid - hoekom is sommer lekker uit die hart sing so gemaklik by dié mense?

Baie van hul liedere is kultuurgoedere uit die verre verlede: Der Gipfel des Berges funkelt im Abendsonnenschein . . . Hoekom sing ons nie meer ons ou bekende Afrikaanse liedere nie? Goed, daar kom hier en daar ’n nuwe treffer (“De la Rey”!), maar wanneer laas het jy “Sarie Marais” gehoor?

As studente het ons soms “Suikerbossie” op ons eie manier in die groot badkamers van die koshuis gesing (af en toe tot irritasie van die meer “behoudende” tokkelokke). Juis omdat ons hier en daar ’n koortjie bygesit het, effens kru maar darem genotlik, as die koortjie so half uitgeskreeu word:

Suikerbossie ek wil jou hê . . . SONDER BROEK!
Wat sal jou Mamma daarvan sê . . . SONDER BROEK!
So loop ons so onder deur die maan . . . SONDER BROEK!

Nou nie juis op ’n hoë vlak nie, maar ons het ons “koortjie” by al die lekker Afrikaanse liedjies met ordentlike pouses vir ons insetsel gesing. Ons het ’n paar laataande by meisieskoshuise gaan “serenade” en ons “uitvoering” het begin met: “Ragel, Salomien, kom speel op jou kitaar” en terwyl ons wegstap: “Hoor die uile in die laan.” Ons het nogal toejuiging uit die vensters van die meisieskoshuise gekry. Maar ons het “sonder broek” liefs uitgelaat. Ons was darem gemanierd!

Baie jare gelede het ek in die Hofbräuhaus in München saam met die Duitse studente uit hul groot bierbekers gedrink en gelukkig hul liedjies geken. Hulle het naderhand rye gevorm, mekaar om die middel vasgehou en tussen die tafels deur “geslang”, lustig met “Mein Vater war ein Wandersmann” . . . Dis een van die “foto’s” wat ek gemaklik met klank en al in my gemoed oproep.

Tot baie onlangs het ek daaraan gewanhoop of ons liedjieskat van destyds daarmee heen is. Maar toe trou ek gister twee vriende in Aasvoëlkop se kerk, Jannie en Ronél Otto, baie ghrênd en statig, met die troumars en ’n jubelende orrel, en lekker gaste wat daarna by die Johannesburgse Buiteklub partytjie gehou het. Dit was ’n plegtige kerkgeleentheid en ’n vrolike samekoms later. Die bruidegom het by die onthaal opgestaan en vertel dat hy en sy bruid dansklasse geloop het om die baan behoorlik te open op die wysie van:

My hartjie, my liefie, die son sak weg, daar anderkant die blou berge . . .
en ek het, ek hét, ek het na die nooientjie gevry . . .
daar anderkant die blou berge . . .

Jannie is ’n regte “boerseun”, maar om ’n geldjie te verdien is hy dekaan van die regsfakulteit by die Universiteit van Johannesburg. En hy onthou van “anderkant die blou berge . . .” Op hul troukaartjie het gestaan dat hulle ons nooi vir ’n lekker bord kos en ’n seties!

My Chérie-kind het pas by die huis gekom ná ’n naweekstaptoer in die Vrystaat, daar anderkant Parys waar die meteoriet miljoene jare gelede geval het. Sy sê die stap was moeilik en besweet, maar hulle het gesing “Bobbejaan klim die berg”, “Suikerbossie”(!), “Die rooi rok”, “Sarie Marais”, die hele oeuvre van Afrikaanse liedjies. Interessant dat ek in dieselfde naweek van ou liedjies hoor. Wys dit iets?

Chérie sê sy het aan die begin gesukkel, synde ’n stadsprokureur wat nie baie in die veld kom nie, maar toe hulle eers lekker aan die sing kom, het sy “op maat” gestap en die pad was skielik nie meer so lank nie.

“Ek het soos ’n Voortrekker gevoel,” sê sy, “en terwyl ons so sing, het ek ook baie gedink . . . Dit was vir my weer ’n kans om met my eie kultuurmense ’n band te smee en ’n ervaring van die veld te hê wat ek nie in Sandton kry nie . . .”

Dít het my bly gemaak. Verlede jaar het ek by ’n gemeente gepreek waar hulle baie Engelse liedere sing wat ek nie ken nie. Die singery het my nie veel geraak nie. Toe sê ek aan die einde van die diens:

“Kom ons sing Ps. 146. Die ou beryming.”

En toe dreun dit soos hulle saam met Totius sing:

Prys die Heer met blye galme,
O, my siel daar’s ryke stof.
‘K sal solank ek leef my psalme
vrolik toewy aan sy lof . . .