NEEM SÓ DEEL

Skryf ’n brief van 600 tot 800 woorde vir jou geliefde en stuur dit per e-pos na sarie@sarie.com, óf pos dit saam met jou naam, van, adres en telefoonnommer aan: SARIE/THE GRAND HOTEL-wedstryd, Posbus 511, Kaapstad 8000.

HOE WERK DIT?

Nóg ’n lekkerte van dié wedstryd: Jy sal van begin 5 Maart op www.sarie.com vir jou gunsteling-e-posbrief kan stem. SARIE se redaksie sal die pos-inskrywings beoordeel.

Die beste 3 inskrywings sal in SARIE verskyn.

KRY HIÉR INSPIRASIE

Jy wil sê hoe diep jou liefde lê, maar jy kan nie die regte woorde vind nie? Hier's inspirasie in Love Letters of Great Men, saamgestel deur Ursula Doyle (Pan MacMillan, R170). Lees hoe Lord Nelson vir Lady Emma Hamilton die hof gemaak het met sy woorde van ewige liefde en trou. In sy briewe aan Josephine stort Napoleon sy hart uit oor sy hopelose en hartverskeurende liefde vir sy ontroue vrou. Die boek is saamgestel ná Carrie vir Mr Big voorgelees uit 'n denkbeeldige boek met liefdesbriewe in die fliek Sex and the City.


Vergeet van onpersoonlike e-posse en SMS’e. Dis weer ín om lekker, outydse liefdesbriewe te skryf - veral ná ’n warm-om-die-hart-toneel soos in die fliek Sex and the City, waar Carrie vir Mr Big voorlees uit ’n boek met beroemde liefdesbriewe. Roerende woorde van die komponis Ludwig van Beethoven aan sy “immortal beloved”: “Ever thine. Ever mine. Ever ours.” Ná die fliek was daar soveel navrae oor dié denkbeeldige boek dat ’n slim uitgewer dit toe regtig laat saamstel het!

Nou’s dit jóú kans om vir jou geliefde te vertel hoe jy voel. Jy kan dit vir ons pos of e-pos. Om jou ’n bietjie te inspireer het ons die digter-skrywer Carina Stander gevra om die voorbeeld te stel met ’n liefdesbrief aan haar man, Gerrit van Niekerk.

“Gerrit, Gerbos, Gerberg, Gerster

Gister het ’n rukkie gelede vandag geword. Vandag is jou verjaarsdag en ek vier dit met ’n brief. Want al drink ons soggens saam koffie, loop laatmiddae saam langs die see en bêre ons slaapklere onder dieselfde kopkussing, wil ek hê dat jy my woorde vir langer as ’n dag vashou. Jy moet die rooi koevert op die skinkbord langs jou koffiebeker oopskeur en lees: ‘Sielsmaat, reismaat, lyfmaat. Ek het my liggaamshitte in jou trui vergeet. Bring dit saam as jy netnou kombuis toe kom.’

Terwyl jy vanmôre ’n bietjie later slaap, is die sonsopkoms rooi soos vuur. Onthou jy die skokrooi sampioentjies wat ons raakgeloop het onder die sneeu in Yosemite? ’n Vlamrooi heuningvoël wat opvlieg bo ’n slapende vulkaan in Hawaii. Mosambiek met sy bloedrooi seesterre waar ons met net die paddapote aan ons voete in die bont koraalrif verdwaal. En die eerste Kersfees met ons krulkopbaba op die Bosveldplaas, breek jy voor die hele familie die ryprooi kroon uit die waatlemoen - en gee dit skaamteloos vir my.

My manste, jou liefde maak my vry. Daarom is ek opgewonde om jou te vertel van die avontuur wat ek vir hierdie verjaarsdag beplan ...

Jou vrouste

C”

SLUITINGSDATUM 27 Februarie 2009
* Die wenner sal teen middel Maart telefonies in kennis gestel word en daarna ’n brief ter bevestiging ontvang.

JOU BEDERF
THE GRAND HOTEL bied ’n weelderige see-vakansie vir jou en jou geliefde. Smul aan tradisionele SA geregte by kerslig, sink weg in jou donsduvet of bad met ’n asembenemende uitsig oor Plettenbergbaai. En asof dit nie genoeg is nie, sal julle boonop bederf word met ’n heerlike spa-behandeling by The Grand Petit Salon. Vir besprekings, kontak THE GRAND by 044 533 3301 of besoek www.thegrand.co.za.

*Vlieg met Airlink tussen groot stede en kleiner dorpies en jy verdien steeds Voyager-myle. Airlink het vlugte na George vanaf Kaapstad en Durban en gee 2 retoer-vliegkaartjies vanaf een van dié stede vir die wenner. Sprei jou vlerke en besoekwww.flyairlink.com

WEDSTRYDREËLS
1. Die beste brief volgens die beoordelaars se beslissing, wen die prys. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen gesprek of korrespondensie sal daaroor gevoer word nie. 2. Die wenner sal telefonies en daarna per brief verwittig word en hul name sal in ’n latere stadium op die webtuiste www.sarie.com verskyn. 3. Die pryse is nie vir kontant omruilbaar nie. SARIE bied hierdie wedstryd namens CELEB SA en THE GRAND aan as ’n diens vir haar lesers. CELEB SA en THE GRAND voorsien en is verantwoordelik vir die pryse. SARIE aanvaar geen verpligting hoegenaamd t.o.v. die ontvangs van die pryse of gestanddoening van die voordele daaraan verbonde nie. 4. Werknemers en hul gesinne van Media24 (SARIE se moedermaatskappy), CELEB SA en THE GRAND en hul reklamemaatskappye mag nie aan die wedstryd deelneem nie. 5. Media24 en CELEB SA en THE GRAND word gevrywaar teen alle eise en/of laste wat die wenners kan hê weens skade/beserings vanweë hul deelname aan die wedstryd of benutting van die pryse. 6. Die prys sluit nie drank by jou aandetes in nie. 7. Die prys sluit nie lughawebelasting in nie. 8. Besprekings is onderhewig aan beskikbaarheid.

Deur aan die wedstryd deel te neem, stem jy in om van tyd tot tyd sekere promosie-korrespondensie van SARIE te ontvang.