Die geliefde Liewe Heksie is terug! Haai oe, maar sy het bietjie vergeet van verjaarsdae en daarom vier sy haar “eerste” verjaarsdag in Oudtshoorn. Met haar persente, ‘n biki-kini en rolskaatse beloof sy om Blommeland nog kleurryker te maak. Maar ai, die groot grillerige Geelheks probeer haar vieringe in die (rolskaats)wiele ry. Levinia vra mooi:”Asseblief klein en groot kaboutervriende van Menseland, help my dat ons al die stoute karnallies kan verwilder.” Verna Vels se immergroen verhale word verlewendig met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck (alias Dowwe Dolla) is die “ultimate”, nimlike Heksie en Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. ‘n Aanbieding vir die hele gesin: laasjaar het van die volwassenes gesê- dit was die vermaaklikste produksie by die KKNK!