Gister, moet ek erken, was ’n ligte skok. Die kuiertjie was soos altyd heerlik. Die tee was salig en jou kat is nog steeds oulik. Maar dat jy wag tot ons by die voordeur is, ek met my voet reeds buite, en tóé eers jou openbaring maak, dit het my oorbluf.   So asof dit niks is: Ek moes seker ’n tert gekoop het, ek verjaar vandag.   Heel toevallig. Iewers tussen Jammer ek is hier, en Ag, dit ook nog. Iewers tussen nietig en niks, anderkant die hoofpyn, net voor die afgrond. Iewers tussen die vergetelheid en die nooit ooit.   Lelietjie, dis dan jou dag! Ten spyte van elke traan, steilte, vraagteken, donkerte en lange nag het jy dit gemaak tot hier. Haal uit die ballonne, poets die silwer, stof af die koets, rangskik die trompette en nooi die koning! Nie een keer durf jy hierdie dag laat verbyglip sonder dat jy stilstaan en omkyk, opteken en trots of teleurgesteld jou glas lig nie.   Verjaarsdae het baie betekenisse en beloftes vir individue, kulture en geloofsgroepe. Persoonlikhede word ontrafel, die sterre word beloer en die toekoms uitgewys. Daar word gekyk na die lewens en karakters van historiese en beroemde figure, wêreldgebeure word ontleed, geboortedatums word omgesit in syfers en slim sommetjies word gemaak om ’n lewenspad aan te dui, kaarte word gelees, daar is baie, baie aktiwiteite rondom ’n datum van geboorte. (En iewers beteken elkeen van hierdie sisteme iets vir iemand en al weet ek alles is verbind en verloop volgens ’n interaktiewe plan, raak ek net effe benoud as ek dink hoeveel geboortes word verkeerd aangeteken, hoeveel keer is die almanak en tydsberekening deur die eeue al verander en in hoeveel primitiewe dele van die wêreld word ’n geboorte nooit gedokumenteer of onthou nie, buitendien glo ek vas die hart praat harder as die sterre, maar dis ’n ander dag se baklei.)   Ounooi, hierdie brief is net ’n poging om te verseker dat jy nooit weer jou verjaarsdag sal verbylaat sonder dat ons dit vier nie. Kies ’n ander datum as jy wil, maar een keer ’n jaar móét jy jou lewe, jouself, jou pad en jou geskiedenis vereer. Moeilik of maklik, onbelangrik of doelgerig, pynlik of sommer net flou, hoe ook al jy dit mag ag, een keer ’n jaar moet ons feeshou, terugdink, dankbaar wees, wonder en plesierig raak oor dit wat jou hier gebring het. Of ons dit nou begryp of nie, liewe Lelie, daar is ’n oorsaak, ’n rede en ’n plan.   Hoe droewig, hoe sieldodend, dat daar op dese aarde kinders is wat nie geleer word van ’n geboortedag nie, vir wie daar net ’n bont ding in die hand geprop word, vir wie daar net ’n lawwe kersie in ’n winkelkoek gedruk word, want die volwassenes is besig, van kosbaarheid en respek word daar eers later geleer, gewoonlik uit ’n boek.   Watter voorreg om ’n kind van aankoms af te wys hy is welkom, hy is begeer, hy is gekies. Hoe heerlik om ’n joligheid te organiseer ter herdenking van ’n kind (Of ’n vriend! Of ’n ouer!) se geboorte, om vir iemand te wys hy word bewonder en bemin, hy verdien ’n bohaai.   Lelie, ek hoop jy geniet die pakkie. Weens jou onverantwoordelike stilstuipe is dit inderhaas bymekaargeskraap. Gooi dit in die bad, sprinkel dit in jou bed of sproei dit agter jou ore, gun jouself ’n oomblik se luukse, ek vermoed jare se lafenis lê iewers in die stof, wagtend op jou goedkeuring.   Ons wag vir volgende jaar. (Ons beplan reeds ons uitrustings.) Jy kan swierige uitnodigings uitstuur of jy kan swyg, maar ons sal opdaag. Met arms vol tulpe en mandjies wat oorloop. Jy kan jou maar vervies, teëstribbel en huil, ons kom jou wys ons is verheug jy is hier.