En wás dit ’n kuier!

Buiten dat jy nie hoef voor te gee nie - dit help nie, sy ken jou te goed - hoef jy ook nie veel te sê nie. Sy het die kuns van gesels vervolmaak. Nou is die huis stil. As sy vertrek, is daar altyd ’n leemte en ’n hartseer. ’n Mens sidder. En jy wonder ...

Daarom is dit gepas om die laaste kuier op papier te sit.

Tragies dat ons wêreld jonk-wees so paniekerig verhef tot dit waaroor alles gaan. Daar is soveel skoonheid in ’n mooi oumens. Is dit net ek, of is daar ’n geslag wat verbygaan wat vir ons (wat ons verbeel óns weet) ’n ensiklopedie vol lewenslesse kan leer? Al heelwat verby sewe dekades, en sy werk steeds soos net haar geslag kan.

As ek na haar en my skoonma kyk, raak ek moeg. Rokke, gordyne, kosmaak - en toe die kragte meer was, sommer bou en verf, en toe ek klein was, selfs skoene maak. Ek ken mense wat moeër word van verskonings maak as wat my ma was nadat sy vir agt kinders (buiten dié in pleegsorg!) vakansie-uitrustings gemaak het.

Harde werk veredel hulle wat daarmee besig is. Nou, op haar oudag, neem sy skilderlesse. Die wêreld van die abstrakte en surrealistiese bekoor haar, en sy skryf ’n boek oor haar lewenservarings. Ons verluister ons. Dit klink asof sy honderd lewens geleef het - en weer ‘n nuwe aanpak. Alles is mooi, alles word bekyk en bespreek. Sy probeer nuwe geregte. Nuwe wyne. Die kinders draai om Ouma. Haar boek sal ’n ereplek op my boekrak hê.

Die verhaal van Gertbrecha Alleta Susanna Knight, gebore Wessels.

Daar is mense wat weet van regtig lewe. As jy mooi luister, sal jy vind hulle kry hul lewe by dieselfde ewige Bron.