Met opgewondenheid deel ek en my man ons nuwe slaapkamer met julle en die lesers!

Ons het dit getransformeer van sement vloere , geel mure en ‘n groot waterlek tot die vertrek waar ons nou in die aand kan rustig word na ‘n lang dag, met God kan praat en ons batterye kan herlaai.

Verf kombinasies was gekies met opgewondenheid en ons het geverf tot laat in die nag. Die manne was gou gou ingespan om te meet en te pas en met presiesie is die gelamineerde vloer gelê.

Toe het my gunsteling tyd uiteindelik aangebreek…..die dekor!!

Een van die groot bederfies met ons nuwe huis was ‘n nuwe bed, maar nie net enige bed nie. Ons het iets baie spesifieks ingedagte gehad. Weens ons liefde vir Thailand wou ons graag ‘n oosterse styl bed bekom. Na baie ure op die internet het ons begin rondry. Die resultaat is sigbaar in die foto. Ons was ekstaties oor ons nuwe bed en het geweet dit sal die inspirasie en fokuspunt van ons slaapkamer wees.

Die klein groen enkeldeur kassie het ons gekoop vir ons eerste huis se badkamer. Dit was oorspronklik gemaak as ‘n kombuiskassie. As jy dit sou omdraai en teen die muur hang sou die koppies onder afhang. Wel opsluit het ek en die verkoopsman besluit die kas moet omgedraai word en pote kry…die res is geskiedenis.

Langs die kassie is ‘n staander wat ek sover as moontlik vir praktiese en dekoratiewe doeleindes inspan. Klere vir die volgenda dag, my handdoek, ‘n string krale en ander bykomstighede kry elkeen ‘n beurt op die staander.

Dan is daar die dubbeldeur koskas wat dateer uit die vroëe 1900’s. Vandag gebruik ons dit vir ekstra pakplek. Ek het dit by my skoonma afgerokkel en besluit om dit af te skuur ‘n laag verf te gee , ‘n kristal deurknop aan te sit en sommer te versier met my alledaagse krale. Die binnekant is nog oorspronklik tesame met die knippie aan die bokant. Die bokant van die kas is versier met geskenkies van familie en vriende, ‘n foto van my hondekinders en twee van my gusteling parfuum bottels. Die hart in die agtergrond is die grootste in my huis en een van veertien in die slaapkamer. Ek doen graag sitplekplanne vir troues met die hart maar andersins is die koskas sy rusplek.

Sien ander hoekies/vertrekke