Jy vererg jou vir die kinders, verwens jou man wat nie sy kant bring nie, en selfs die hond moet dit ontgeld. By die werk gekom, loop mense draaie om jou as hulle die donderwolk op jou gesig sien . . . Kortom: Jy’s in ’n vrotsige bui en wil sommer net terugklim in die bed en eers weer jou kop uitsteek as jou gemoed bedaar het. Maar daar ís ’n ander uitweg:













BEGIN HEEL VOOR

  • Stel vas wat jou regtig pla.
  • Besluit op daadwerklike stappe om jou bui te lig (insig alleen is nie genoeg nie).
  • Kry kits-verligters wat vir jou werk

Is dit PMS?

Jou reaksie op die nat handdoek op die badkamervloer is só erg dat jy dit self nie kan glo nie. Moenie PMS se invloed onderskat nie - jy slaap sleg, staan dus moeër op, jy is fisiek ongemaklik, jou gemoed is troebel . . . Maar die tekens is dikwels subtiel. Jy kom dit dalk eers ná ’n dag of twee agter. Dit kan ook voel of baie meer kwessies jou pad kruis as jy PMS het, maar eintlik verander jou wêreld nie - dis net jou perspektief wat anders is.

Doen Ken jouself. Leer die tekens vroegtydig raaksien. Stel vas wat jou beter laat voel. Drink meer water, doen oefening, en vra jou dokter oor aanvullings soos omega-3-vetsure en kalsium. Moenie in dié tyd groot besluite neem soos oor ’n werkverandering of jou huwelik nie.

Onafgehandelde sake?

Die uitdrukking unfinished business beskryf dit so raak. Dikwels is daar kwessies in jou lewe wat pla of dinge in jou verlede wat jy nie verwerk het nie en wat jy onbewustelik onderdruk of vermy. Jy vaar uit teen die verkeer of ’n lang vergadering laat ’n wolk oor jou toesak, maar as jy begin krap, is dit dalk jou kind of jou verhouding wat eintlik pla. Doen selfondersoek. Wat is die onderliggende redes wat jou bui beïnvloed?

Doen ’n Persoonlike kwessie kan nie oornag opgelos word nie, maar dis dikwels ’n verligting om net te weet wat die werklike probleem is. Kry hulp by ’n terapeut of berader. (Soms is ’n vriendin te betrokke om objektief te kan raadgee oor seerkrydinge.) Werk dit deur saam met die betrokkenes. As jy ’n probleem het, moenie net kla nie. Vermy die slagoffer-rol, anders ontneem jy jouself alle beheer. As jy bv. buierig is omdat jy jou werk verpes, kan net jý iets daaraan doen. Die wêreld is nie teen jou nie, al voel dit so!

Meer geneig tot gemoedskommelinge?

Party mense se gemoedstoestand wissel deur die loop van die maand, ander is meer gelykmatig. Jou bui word beïnvloed deur die werking van chemikalieë soos serotonien in die brein, en sommige mense word meer geraak as ander.

Doen Stel vas wat jou laat beter voel as jy buierig is (sien kassie: Hier's kits-verligting). As jou gemoed egter oor dae, weke en maande troebel bly, kry professionele hulp.

Gemengde emosies?

Deurmekaar emosies kan jou irriteer en verwar, veral as die emosies nie by mekaar pas nie. Soos as jy kwaad én seergemaak is. ’n Deel van jou wil huil, die ander deel wil aggressief optree, en dit maak jou emosioneel ongemaklik.

Doen Dis normaal om meer as een emosie op ’n slag te ervaar, en die twee kan mekaar affekteer. Gestel jy is woedend vir jou man ná ’n stryery, en dit word vererger omdat jy hartseer is oor ’n vriendin se siekte. Probeer elke probleem een vir een oplos.

Karin Büter

is 'n kliniese sielkundige 021 863 3127/8 

 

Hier’s kits-verligting

  • Oefen. Stap vinnig, draf, strek.
  • Bederf jouself op ’n gesonde manier. (’n Cappuccino, maar nie drie snye koek nie.)
  • Raak besig - doen iets met jou hande, nie noodwendig jou kop nie. Raak kreatief in die tuin, of met ’n verfkwas, klei . . .
  • Raak iewers stil - al is dit net vir 10 minute.
  • Blaas stoom af by ’n goeie vriendin. Verduidelik jy wil nie raad hê nie. Jy gaan klaar beter voel as jy net kan sê: “Ek voel vandag beduiweld.”
  • Skryf alles neer: Watter aspekte van jou lewe jou dalk omkrap, wat jou laat beter voel . . .