Lise vra die moeilike vrae oor diegene wat agterbly ná selfdood en Louis gee antwoorde.

LISE: In ons vorige rubriek het ons gesels oor selfdood (lees dit hier), en op persone gefokus  wat selfdood as ’n opsie oorweeg. Ons het gesien dat daar ’n sterk verband tussen depressie en selfdood is en dat dit beter is om iemand te ondersteun en te behandel voordat die persoon op die punt kom waar selfdood vir hom/haar die enigste opsie is. Vandag wil ons gesels oor die effek op dié wat moet agterbly nadat ’n geliefde deur selfdood verloor is.

LOUIS:  Ek wil byvoeg dat ons eerstens nie disrespekvol wil wees en probeer voorgee dat daar ’n sekere manier is om die dood van ’n geliefde te verwerk nie. Ek dink nie daar is enige iemand wat die reg het om namens ander te probeer “slim” of voorskriftelik wees nie.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA: Mens hoor tog gereeld dat daar sekere roufases is wat die meeste mense ná die dood van ’n geliefde moet deurgaan. Is dit belangrik om dit te kan identifiseer en daarvolgens op te tree?

LOUIS ANTWOORD: Dit is seker so dat daar min of meer fases is wat mense oor die algemeen deurgaan intense persoonlike verlies. Dit is normaal om kort ná ’n verlies eers ’n vorm van ontkenning te ervaar, wat baie mense as “dofheid” beskryf. Dit is ook algemeen om op ’n stadium kwaad of aggressief te voel, veral omdat mens so magteloos is en gewoonlik niks aan die verlies kan doen nie. Intense verlies kan verder ’n lae gemoed, met ander woorde ’n vorm van depressie veroorsaak. Vir mense wat dit regkry om uiteindelik met hulle lewens te kan aangaan, kom daar ook ’n vorm van aanvaarding, of in ander terme, ’n manier wat gevind kan word om met die verlies te kan saamleef.

Dit is egter baie belangrik om te besef dat mense nie so maklik gekategoriseer kan word nie, of dat mense se ervaring van verlies sommer net in fases opgedeel kan word nie.  Elke persoon se belewenis van verlies is uniek en baie persoonlik en dit kan geweldig van ander mense s’n verskil.  Daar kan dus nie ’n “regte” of “verkeerde” manier wees om met verlies om te gaan nie.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE:  Is daar dan sekere aspekte wat algemeen vir almal is ná die dood van ’n geliefde?

LOUIS: Afgesien van intense hartseer en skok, vind ek dat dié wat agterbly dikwels skuldig voel.  Mense voel oor die algemeen dat hulle meer kon doen om ’n geliefde se selfdood te verhoed, of dit ten minste voor die tyd kon raaksien en voorkomende stappe kon neem.  Die vraag: “Wat as…?” kan hulle erg teister. ’n Voorbeeld is: “Wat as ek die oggend net by die huis gebly het en nie kafee toe gery het nie”.  Omdat hierdie vrae moeilik logies beantwoord kan word, kry hulle swaar hiermee.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA: Hoe lank is te lank om te rou? Is daar ’n sekere tydperk ná die verlies van ’n geliefde wat mens in staat behoort  te wees om te kan aangaan met jou lewe?

LOUIS ANTWOORD: Hier wil ek sommer reguit sê dat daar geen regte antwoord is nie.  Mense is so uniek en kompleks, dat party persone ’n paar maande neem om te rou, ander neem jare, en sommige neem vir ewig.  Dit is onmoontlik om vir iemand voor te skryf hoe lank hy of sy “behoort” te rou.  Daar kom egter ’n tyd wat mens darem deur die ergste pyn is, en op ’n manier veronderstel is om op ’n basiese manier te kan aangaan.  Op ’n stadium moet mens darem kan opstaan in die oggend en min of meer daaglikse take kan verrig.  As dít te moeilik is, is dit waarskynlik tyd om hulp te kry.

Professionele hulp sou ideaal wees in dié omstandighede - nie om slim antwoorde uit te dink nie, maar om te begelei en saam te dra aan die verlies. Sodoende kan mens stap vir stap op ’n punt kom waar die lewe kan aangaan. Dit is egter baie belangrik om te besef dat aanvaarding nie daaroor gaan dat mens die persoon wat oorlede is “vergeet” of “agterlaat” nie, maar juis ’n manier kry om aan te gaan met die lewe, en die herinneringe van die oorledene in stand te kan hou.

Op dié manier kan mens dan seker sê dat die selfdood van ’n geliefde ’n permanente wond vir die meeste mense sal los en dat dit vir altyd mense verander. Dit is dus onwaarskynlik dat mens weer “dieselfde” sal wees daarna, maar al bly daar ’n wond, kan mens met die tyd ’n roof laat groei en steeds ander maniere vind om aan te hou leef.

Louis en Lise Louis en Lise

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?