Die ikoniese Louis Vuitton vier vanjaar sy 160ste verjaardag. Die maatskappy is in 1854 deur Louis Vuitton gestig.

SAARTJIE inboxDie handelsmerk het dalk al 'n paar myle op sy kerfstok, maar sjoe! dit bly steeds enige vrou se droom om een van dié kunswerke te besit. Ja, ek noem dit kunswerk, want soos kunswerke is dié bykomstighede ‘n belegging. Dis op my droomlys, net soos om Van Gogh se skildery "Sterrenag" (The Starry Night) te kan besit.

Het jy geweet... dat Louis Vuitton se seun, George Vuitton, die monogram ontwerp het ter herdenking aan sy pa, in 1896? Dit was ook die eerste luukse-handelsmerk en is vandag 'n universele simbool.

Nou, met Louis Vutton 160ste verjaardagvieringe, het my droomlys verander na ‘n begeerlys en jy sal verstaan wanneer jy na dié Louis Vuitton-items in die galery kyk.

Louis Vuitton het 6 ikoniese kunstenaars gebruik om deel te wees van sy feesviering. Die ses ikoniese ontwerpers is Christian Louboutin (Franse skoen-ontwerper), Cindy Sherman (Amerikaanse fotograaf), Frank Gehry (Kanadees-Amerikaanse argitek), Karl Lagerfeld (Duitse ontwerper en kreatiewe direkteur van die modehuis Chanel), Marc Newson (Australiese nywerheidsontwerper) en Rei Kawakubo (Japannese modeontwerper). Hulle is elkeen gevra om die internasionaal herkenbare monogram van Louis Vuitton te interpreteer. Elkeen het met 'n unieke ontwerp vorendag gekom om deel te wees van die Monogram-projek 2014 – Celebrating Monogram

© Louis Vuitton/Jean-Philippe Delhomme © Louis Vuitton/Jean-Philippe Delhomme

Christian Louboutin se skoene word gereeld aan bekendes se voete gesien. En hoe weet jy iemand dra ‘n paar Louboutin-skoene? Kyk net na die rooi sole, dít is die kenmerk van sy skoene. Daardie tikkie rooi is ook sigbaar in die handsak, palmsak en caddy (eksklusiewe inkopie-trollie) wat hy vir Louis Vuitton ontwerp het. Hy het ook die inspirasie van Les Nabis en Japannese kuns gebruik om die unieke caddy vir inkopies by 'n Paryse mark te ontwerp. Dit is baie prakties en nuttig vir ‘n trippie mall toe ook.

Cindy Sherman is bekend vir haar konseptuele foto's. Cindy se idee vir die koffer (trunk) was dat dit vintage moes lyk, daarom is dit met reisplakkers versier. Die plakkers is van haar eie werk en die binnekant van die koffer se kleure is geïnspireer deur haar papegaai se uitgestrekte vlerke. Sy wou ook graag 'n kamerasak hê, en omdat sy baie reis, het die idee vir die koeriersak ontstaan.

Frank Gehry is ‘n ikoniese argitek en veral bekend vir die Guggenheim-museum in Bilbao, Spanje. Frank speel graag met vorms en dit is ook sigbaar in sy ontwerpe vir Louis Vuitton. Dit is vir seker een van Louis Vuitton se mees unieke handsakke en nie iets wat jy aldag sal sien nie.

Karl Lagerfeld het besluit om iets te ontwerp wat vroue én mans kan gebruik om van hul frustrasies ontslae te raak. Hy het ‘n hele stel boksgereedskap ontwerp. Die kis bevat boks-handskoene, -sakke en ‘n boksmat.

Marc Newsonbekend vir sy "out of the box”-ontwerpe, het besluit om sy ontwerp te baseer op duursaamheid en funksionaliteit, vandaar die rugsak. Sy grootste uitdaging was om ‘n rugsak te ontwerp wat nie sal omval nie. Dié rugsakke is beskikbaar in verskeie kleure en is met skaapwol bedek. Daar is ook ‘n gedeelte van die Louis Vuitton-monogram op die rugsak.

Rei Kawakubo is die stigter van die modehuis Comme des Garçons wat bekend is vir hulle deconstructed ontwerpe. Hierdie gevoel is ook sigbaar in die handsak wat Rei vir Louis Vuitton ontwerp het. Die tradisionele Louis Vuitton-tote kry 'n nuwe voorkoms deur “cut-outs”. Die handsak sal ‘n paar koppe laat draai.

Louis Vuitton het beslis van die talentvolste kunstenaars gebruik om die unieke skeppings deel te maak van hul 160ste verjaardagviering. Watter een is jou gunsteling?

Kyk hier vir elkeen se ontwerpe: