Die juffroue wat wens almal moet mooi en gelyk sing en die gehoor wat wens ’n kleintjie wil hardop vergeet hy is in ’n konsert en begin waai en groet. Elke nou en dan sien jy ’n klein dromertjie wat lankal vergeet het hy is deel van die vertoning terwyl hy hom vergaap aan almal en alles om hom.

En natuurlik dink elke ma (en almal wat saam met haar daar is om haar aller wonderlikste bloedjie te kom bewonder) dat daar net een ster van die aand is. Agter staan bedrewe “Hollywood-kameramanne” en hou die familie-argief by. Vriende van genoemde kameramanne vrees natuurlik vir die volgende ses maande dat hulle uitgenooi gaan word om dié kunsvideo saam met ander vakansie-meesterstukke te kom deurworstel.

Só het ek al laerskoolkonserte sien kom en gaan, maar een konsert sal ek nooit vergeet nie. Almal wat sulke konserte ken, sal weet dat daar êrens ’n skoonheid haar verskyning gaan maak. ’n Prinses wat van blinkers, maskara, rooigemaakte wange en lokke aan mekaargesit is. Almal weet ook hoe elke meisietjie in die skool sou wens om so te lyk.

Party van ons kyk na die lelike eendjies (daar bestaan natuurlik nie so iets soos ’n lelike klein meisietjie nie) en wonder wat het met klein selfbeeldjies gebeur in die hele proses van die keuse van die skone prinses.

Die konsert wat my altyd sal bybly, het weer eens die hele aand opgebou na die oomblik dat die prinses haar verskyning moet maak. Ek moet erken ek het gesluk en moes selfs ’n vogtigheid om die oë verwyder toe die prinses wel verskyn. Sy het gestraal en die fraaiste klomp meisiemensies het om haar gekoek.

Niemand in die gehoor sou vir een oomblik wonder wat agter die skerms gebeur het nie. Niemand sou skinder (want so gaan dit maar met laerskoolkonserte) oor ’n voortrekkery van ryk ouers se bedorwe kinders nie. Almal was dit eens dat daar nog min in die geskiedenis van skoolkonserte so ’n prinses was.

Die gehoor het met vermurfte harte die lomperige prinses aanskou. Haar effe leperige ogies het geskitter. Haar lippe, wat selde ’n duidelike woord kon vorm, was rooi en haar handjies het half onbeheers en sonder sukses probeer om haar wit prinsesgewaad mooitjies reg te vryf.

Sy kon geen sinnetjie bydra of liedjie sing nie, maar haar verskyning het almal vervul met ’n diep belewenis van medemenslikheid.

Almal was bly dat ’n meisietjie met soveel gebrek van liggaam en verstand vir een aand beeldskoon kon voel.

Skoonheid is daardie aand verhef tot ewige dimensies. Die begaafde kinders wat behulpsaam om ons prinsessie gedraai het, het ’n mooiheid uitgestraal wat verhewe was bo pêrelrokkies en balletlyfies.

En iets in my het verlang na ’n dag wanneer Iemand gaan kom om die stukkend en die hartseer van ’n brose wêreld te verander.