Die probleem is (selfbewuste laggie van my moderne vriendin) daar’s ’n muis in haar huis.

En muise was altyd haar man se afdeling.

En ek snap onmiddellik.

In my huis word take nie noodwendig volgens tradisionele verwagtinge verdeel nie, eerder volgens tyd en talent en ervaring. Mans is “veronderstel” om meer rigtingvas as vroue te wees, maar my Fransman sal in sy eie sitkamer verdwaal - terwyl ek van kleins af graag skattejag gespeel het, kamtige seerower-kaarte geteken het en verlangend na straatkaarte van eksotiese stede gestaar het. Wanneer ons dus na ’n onbekende bestemming reis, sal hy bestuur en ek navigeer. Die enkele kere dat ons dit andersom gedoen het, het ons so ver van die roete afgewyk dat ons kort duskant die skeihof omgedraai het.

Hy kook net so gereeld kos soos ek en was waarskynlik meer gereeld skottelgoed. Maar as dit by klere was kom, beweeg ons op my terrein. Nie omdat ek gek is oor die gorrelende geluid van ’n wasmasjien nie, glo my, bloot omdat ek dit beter doen as hy. Hy sal my splinternuwe rooi rok saam met sy beste wit hemp in kokende water was - en opreg verbaas wees as albei kledingstukke pienk anderkant uitkom.

Dis nie ’n gebrek aan intelligensie nie. Dis nie dat hy nie verstaan hoe ’n wasmasjien werk nie. En nee, hy’s nie kleurblind nie. Dis net, wel, dis nie sy afdeling nie.

Daar’s dinge wat ek in my alleenloperjare gedoen het - en heel skaflik gedoen het, al moet ek dit nou self sê - soos om ’n spyker in ’n muur te kap of ’n kaggelvuur aan te steek, maar omdat Alain dit beter as ek doen, het dit sy afdeling geword.

En dan is daar dinge wat ek nog nooit gedoen het nie en nooit wíl doen nie. Soos om muise te vang. Muise is my man se verantwoordelikheid. Met ’n bietjie hulp van die kat, darem.

Ons wollerige, grys kat het haar luilekker lewe in ons huis te danke aan die muisplaag wat ons elke winter tref. Alain wou nie ’n kat hê nie, maar hy het alles probeer - verskillende soorte gif, verskillende soorte lokvalle, verskillende soorte aas - totdat die manne in die plaaslike kroeg hom oortuig het dat ’n kat die enigste oplossing is. Dit het nie dadelik gewerk nie. En dit werk steeds net gedeeltelik.

Die eerste winter het die klein katjie uit die vertrek gevlug elke keer as ’n muis inkom. Daar moet fout wees met haar gene, het Alain bespiegel. Dalk net oor sy ’n meisiekat is, het ek gedink. Meisies hou nou eenmaal nie van muise nie. Maar toe bewys my eie dogter my verkeerd. Mia was skaars drie bakstene hoog, toe steek sy haar plomp peuterhand uit en vang ’n muis aan die stert en swaai haar buit giggelend rond ...

Of dalk wys dit net hoe mak ons muise was - omdat ons kat so lafhartig was.

Dis nou so drie winters later en die muise het inderdaad minder geword. Kosi-kat vang soms, so half per ongeluk, ’n babamuisie wat sy dan met sadistiese genot doodmartel. Maar die blote teenwoordigheid van ’n kat - hoe onbevoeg ook al - blyk tog ’n afskrikmiddel te wees. Amper soos die teenwoordigheid van selfs ’n onbevoegde polisieman in ’n buurt glo help om misdaad te bekamp.

En wanneer ons misdadige muise wel handuit ruk en helder oordag ’n waaghalsige terroriste-aanval op die spens loods, dan vervul my man sy plig. Hy stel die lokvalle op die mees geskikte plekke, hy kies die regte aas (ons muise is skynbaar karnivore wat ham bo kaas verkies) en, belangrikste punt, hy raak die volgende oggend diskreet van die slagoffers ontslae.

As ek ooit weer op my eie moet lewe, sal ek seker weer leer om die meeste dinge op my eie te doen. Maar by muise steek ek vas. (Steek vas en spring op die naaste stoel.) Dis skandalig outyds en onfeministies en glad nie ’n voorbeeld vir die jonger geslag nie, ek weet.

Maar muise is my man se afdeling.