Tussen die groen heuwels van die Middel-Atlasgebergte in Marokko nestel twee stede. Saam skitter hulle soos tweeling-gesteentes tussen die kroonjuwele van ’n land wat eens deur magtige sultans regeer is. Meknès is ’n moderne vooruitstrewende stad, wat ook as die Versailles van Marokko bekend staan. Die ander, Woloebilis, dateer uit die 3de eeu voor Christus en word as die belangrikste argeologiese terrein in Marokko beskou. Dit was laas in 280 n.C. bewoon. Tog kan ’n mens nie die een stad besoek sonder om ook die ander se towerkrag te ervaar nie.

Ek en Ben, my man, het met rugsakke deur Marokko getoer en besluit om in die voetspore van die sultans te loop. Reeds in die trein op pad na Meknès betower die golwende groen landskap ons. Die kruisement-landerye vanwaar die Marokkane se gunsteling-tee, thé à la mente, kom, strek van horison tot horison. Die werkers se fleurige djellabas (jurke) sorg vir helder spatsels teen ’n blou winterlug. Bale kruisement word met fietse en sleepkarretjies aangery stad toe en vars aan die talle teehuise gelewer. En eers as jy lui-lui met ’n glasie kruisementtee in ’n salon de thé (teekamer) ontspan het, verstaan jy meer van die Marokkane se vermoë om nooit haastig te raak nie.

 

Bale kruisement word met fietse en sleepkarretjies aangery stad toe

 

Meknès is in die 10de eeu deur ’n Berberstam gestig. Vandag is dit die vyfde grootste stad in Marokko. Die oudste deel van die stad is langs die ville nouvelle (nuwe stad) op die walle van die Boufekrane Wadi. Ons kry verblyf in ’n klein, netjiese hotel met die gepaste naam Splendid. Met ons Lonely Planet-gidsboek besluit ons op ’n paar besienswaardighede:

Medina
Die medinas (ou distrikte) in Marokko het deur die eeue heen die hartklop van elke stad gebly. Só ’n medina bestaan uit verskillende soeks (buitelug-markpleine), met stalletjies wat dieselfde items verkoop saam gegroepeer, bv. matte hier, materiaal daar, borduurwerk, leer, speserye, kruie, neute en, my gunsteling - fyngebak. Ná die warboel van kleure en geure kom ons aan die anderkant uit met ’n boksie patisserie. Dié handgemaakte snoeperye is van amandel, heuning, botter en blomgegeurde water. Dit smaak net so lekker soos wat dit mooi is. Danksy ’n oplettende kruiesmous, wat vir my ’n sterk mengsel in ’n linnedoekie toeknoop, word my hooikoors die nekslag toegedien. En al traan my oë so dat ek byna nie kan sien nie, wyk die hooikoors gou. (Net jammer die kruiehandelaar sal nooit sy geheime mengsel verklap nie.)

Dar Jamaï-museum
Nie ver nie is Dar Jamaï, die paleis wat in 1882 gebou is deur die magtige Jamaï-familie, wat raadgewers van die sultan was. Met die sultan se dood het die Jamaïs in onguns geraak en al hul besittings verloor. Ook die paleis. Vandag is dit een van Marokko se beste museums en dit spog met twee fonteine, zellij-teëlwerk en ’n Andalusiese tuin met hoë sipresse. Tradisionele keramiekwerk, juweliersware, tapyte, borduur- en houtwerk, asook gebruiksartikels word uitgestal. Die unieke silwer juwele trek dadelik my aandag. Die Berbers beskou goud as onrein, daarom word die meeste juwele van silwer gemaak. Wanneer ’n vrou ten volle geklee is vir ’n tradisionele stamseremonie kan dit tot 20 kg juweliersware insluit. Veral die kombinasie van silwer, skulp en koraal is buitengewoon mooi.

 

Die sultan het met sy dood 500 vroue en bykans 800 kinders gehad

 


Moelay Ismail-mausoleum

Moelay Ismail het as 25-jarige aan die bewind gekom. As waarskuwing aan ’n paar oproerige stamme het hy die koppe van 10 000 verslane vyande op die stadsmure laat uitstal! Hy en Louis XIV van Frankryk was tydgenote en het oor en weer vir mekaar geskenke gestuur. Dis egter gestaak toe Moelay Ismail op die Sonkoning se dogter aanspraak wou maak. Die sultan het egter nie ’n tekort aan vroulike geselskap gehad nie - met sy dood het hy 500 vroue en bykans 800 kinders gehad. Sy mausoleum is ’n entjie buite die Bab el-Mansoerstadspoort. As nie-Moslems word ons hier ingelaat. Ons los ons skoene volgens gebruik by die ingang en ek bind my kopdoek as teken van respek om. Die gewyde stilte, lieflike argitektuur en heilige geskrifte, wat met die hand uitgebeitel is, nooi ons om vir ’n rukkie van die geroesemoes daarbuite te ontsnap.

Danksy die vriendelike Marokkane, wat ondanks ons karige Frans altyd bereid is om te help, voel ons gou tuis in Meknès. Die Marhaba-restaurant, naby die stasie, word ’n tweede tuiste. Ons sit lank en gesels oor borde stomende sop, aartappels in ’n skerpsousie, platbrood en gekookte eier. Daar is ’n mandjie plastiekblomme op elke tafel en jou kos word in eenvoudige blikborde voorgesit. Die kelner is ’n dierbare omie met ’n grys oorjas en handgebreide trui. Hy het die gawe om jou te laat voel asof jy in sy eie kombuis eet. En boonop kos ’n maaltyd vir twee net 20 dirham (sowat R17).

Woloebilis
Nou is dit tyd vir Woloebilis (oftewel Volubilis in Engels), sowat 33 km verder. Dié Romeinse ruïne is tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar en is volgens ons gidsboek ’n móét. Ons haal ’n grand taxi. Een van die vele Mercedesse uit die sewentigs wat as minibustaxi ingespan word. Die padreëls in Marokko is, ná amper drie weke in die land, steeds duister. Ons kom egter heelhuids en dankbaar in Woloebilis aan. Die stad lê oor groen koringlande uitgestrek. Die meeste toeriste is weg. Ons kan onverstoord deur die keisteenstrate dwaal en kyk hoe die ooievaars nes maak op pilare wat al meer as twee millennia oor die landskap uittoring. Fyn mosaïeke lê ná eeue, sonder enige vorm van beskerming teen die elemente, nog grootliks ongeskonde. Selfs die oorspronklike kleure kan duidelik onderskei word.

 

Die padreëls in Marokko is, ná amper drie weke in die land, steeds duister

 

Ons stap deur ’n indrukwekkende ingang na die raadsaal en mymer by die oorblyfsels van die hooffontein in die middel van die stad. Die kliprande glad geskuur deur duisende hande oor baie jare. By die triomfboog trek ’n enorme inskripsie bo die 8 m hoë boog ons aandag. Goewerneur Marcus Aurelius Sebastenus het die boog tot eer van sy ma, Julia, en sy vrou, Caracalla, laat oprig. Op pad terug stop die grand taxibestuurder in die dorpie Moelay Idriss om ons die uitsig oor Woloebilis te wys. Onder in die pad hoor ons mansstemme dreunsing. Daar’s ’n begrafnisstoet in aantog. Die afgestorwene word skouerhoog onder ’n kombers met Arabiese inskripsies na sy laaste rusplek gedra. ’n Paar honde draf baldadig vooruit. Die taxi-bestuurder beduie ons moet ry. Die son gaan binnekort onder en dan moet ek en Ben uit die dorp wees. Moelay Idriss is heilige grond en as nie-Moslems mag ons nie tussen sononder en sonop daar wees nie. Terug in Meknès word ons op ’n stowwerige pleintjie afgelaai en met seënwense gegroet . . .

Die tydjie in Marokko raak min. Ek ontwikkel die behoefte om elke oomblik in my geheue te groef. Twee jong mans op ’n bromponie wat al geselsend deur die verkeer vleg. Tieners wat saamkoek om ’n skootrekenaar. ’n Skoenpoetser wat laggend toegee dat daar nie salf aan ons stewels te smeer is nie. ’n Blommeverkoper wat Ben se toestemming vra voordat hy vir my ’n roos gee. Toe ons later by die Marhaba-restaurant instap, roep die kelner, sonder dat ons hoef te vra, ons bestelling na die kombuis. Harira, pain, makoeba et oeuf bur! Deux! (“Sop, brood, aartappel en gekookte eier! Twee van alles!”) Hy kom oop en toe tussen die Formica-tafels en houtbankies aan, vee ons tafelblad skoon en skik die plastiekblomme met sorg terwyl hy gesellig oor ditjies en datjies gesels. Asof ons nooit weer hoef huis toe te gaan nie . . .