Die naam Margaret Roberts is sinoniem met kruie in Suid-Afrika. In Januarie vanjaar het haar kruiesentrum in De Wildt sy dertigste bestaansjaar gevier.

Maar Margaret se pad met kruie het reeds baie vroeër al afgeskop. Al die kennis en inligting wat sy deur die jare oor kruie en speserye opgedoen het, skryf sy op in boeke – ‘n kleinood vir almal wat meer oor dié plante en hul gebruike wil leer. Haar skryfstyl is baie toeganklik en die raad wat sy gee is prakties en maklik toepasbaar. Dis nou te sê as jy die plante in jou tuin het! Gelukkig beskryf sy hoe en waar jy elkeen van die kruie moet plant.

Foto: veraskaf Foto: veraskaf

In haar jongste boek, 100 Edible & Healing Flowers (Random House Struik, R230) beskryf sy honderd plante met eetbare blomme, wat terselfdertyd gesondheid aanhelp. Margaret se teks is deurspek met vele persoonlike anekdotes, wat die boek boeiend en interessant hou. Daar is ook ‘n swetterjoel resepte, van geregte waarin jy kruie kan gebruik, maar ook van produkte wat jy kan maak, soos handeroom of  masseerolie. Die resepte is ontwikkel deur Margaret se dogter, Sandy Roberts.

Foto: Phyllis Green Foto: Phyllis Green

Foto: verskaf Foto: verskaf

Onlangs is Margaret se Kruie-joernaal (Random House Struik, R120) ook vrygestel – ‘n tipe dagboek waarin jy ‘n persoonlike joernaal kan hou. Ek het met Margaret gesels oor hierdie groot werk van haar.

Hoe lank is jy al besig met kruie?

Seker al so 45 jaar. Ek het saad gebruik om my heel eerste kruie te groei en later het ek plante ingebring van Italië. Die eerste plante was suring, Griekse orego, costmary, bonekruid en dragon. Omdat ek nie saad in Suid-Afrika kon kry vir die plante nie, het ek dit van Engeland af ingevoer. My belangstelling in kruie en plante het begin nadat ek plantmateriale gebruik het om patrone op klei te maak vir keramiekware wat ek gemaak het. Ek het koringblomme, kamille en van die grassoorte gebruik. My keramiekware was te koop in ‘n paar winkels in Johannesburg. Een van die winkels het iemand gekry om goedkoop namaaksels van my artikels te maak en ek was toe so teleurgestel daarmee, dat ek besluit het om iets heeltemal anders te doen. Toe het ek begin om reekse te skep rondom kruie en speserye. So het ek toe potpourri in kleipotjies, tuisgemaakte sepe met seepbakkies en ander kombuisware gemaak. Ek het ‘n klein kwekery begin waar ek kruieplante in kleipotte (wat ek self gemaak het) verkoop het. Ek het ook korrespondensiekursusse uit Engeland gevolg om meer te leer oor kruie. Een van die eerste boeke waaruit ek geleer het, is geskryf deur Mrs Grieves. Ek het ook kontak gemaak met die Herb Society of  England en so het my lewenstaak met kruie begin.

Hoe besluit jy watter plante om te kweek?

As ek iets oor ‘n spesifieke plant hoor of lees, dan weet ek dié  plant vra vir aandag. Die plant wat tans oral opduik in alles wat ek lees, is Ashwaganda.  Dis een van die mees waardevolle plante wat as medisyne gebruik kan word. Dan is daar nog ‘n plant, Sida Rhombifolia, wat ek elke dag sien op pad wanneer ek na die Herbal Centre toe ry. Baie mense noem dit die Pretoria-bossie. Ek is ook nou besig om inligting bymekaar te maak hieroor.

Raak jy nogal obsessief  oor ‘n plant?

Beslis. Van die oomblik wat ek ‘n steggie plant, maak ek aantekeninge om te sien hoe die plant vorder. Ek kry sommer so swaar gevoel as die plant nie groei nie, want dit gaan uiteindelik daaroor om welstand (wellness) te bevorder. Ons moet onthou dat alles by plante begin.

Wat doen tuin maak aan jou?

As ek in die tuin is, vergeet ek van alles, van al my sorge, angstigheid en hartseer. Ek raak so vasgevang, al trek ek net bossies uit. Dit maak my rustig en kalm.

Watter plant is jou gunsteling in 100 Edible & Healing Flowers?

Dis onregverdig om my dit te vra! Ek gebruik al die plante, terwyl ek daaroor skryf. Maar een wat my hart altyd ligter laat voel is katjiepiering. Die geur daarvan is ongelooflik. Dan hou ek ook baie van daglelies, veral om dit in slaai te gebruik. Dit maak my opgewonde om te wag vir plante om te blom en te weet ek kan dit in my dieet inkorporeer. As almal maar weet hoe wonderlik tiemie is, dan sal hulle dit elke dag in slaai eet. Dit help om gifstowwe uit die liggaam te verwyder; hoe kan ons dit nie eet nie.

Is daar een waarvan jy nie eintlik hou nie?

Nie regtig nie, maar wildeals is vir my baie bitter. Dis regtig een van die beste medisinale plante, maar dit proe nie eintlik lekker nie. Die ander kan ek almal hanteer.

As daar een plant is wat mense moet probeer insluit in hul dieet, watter een beveel jy aan?

Pietersielie is een van die mees onderskatte kruie. Dis ryk aan minerale en chloroform en ons eet nie genoeg daarvan nie. Pietersielie help mens om te ontgif. Dit help ook vir hoë bloeddruk.  As jy twee maal per week die volgende slaai eet, sal dit jou energie en lewenskrag gee. Meng lusern- en bokwietblomme met gekapte pietersielie, avokado en seldery. Besprinkel met sesamsaad, olyfolie en suurlemoensap. Dis heerlik en gesond.

Waarom het jy The Herb Journal geskryf?

Ek het nog altyd baie aantekeninge gemaak en ek het oral notaboeke wat byderhand  lê. Hierdie joernaal het ek geskryf, sodat mense hulle eie dagboek kan hou, maar van positiewe en mooi dinge. Die gedagtes wat hulle in die joernaal skryf, moet hulle help om hul denke te fokus. Ek wou graag op elke bladsy ‘n teenwoordigheid hê, of dit nou is deur ‘n lyntekening of ‘n wenk oor kruie. Die hou van ‘n joernaal is ‘n manier waarop mens vandag sin van die lewe kan probeer maak. Ek weet my joernale is iets wat my al dikwels gered het in ‘n mal, besige wêreld.

Hoe skryf jy?

Ek is baie gefokus en skryf op eksamenskryfblokke. Ek skryf natuurlik ook alles met die hand. Geen rekenaar vir my nie! Ek het selfs ‘n skryfblok langs my bed, want ek word dikwels in die nag wakker en dan is dit wat ek wil skryf baie helder in my gedagtes. Ek pen dit onmiddellik neer. Ek probeer ook om soggens te skryf voor my dag begin. En ek werk altyd aan die mees drukkende spertyd eerste. Ek is nou besig met die skryf van my boek, 100 New Herbs.

Hoeveel boeke het jy reeds geskryf?

Ek dink dis so ongeveer 36, maar as ek al die artikels wat ek al in my lewe geskryf het by reken, kan dit maklik 100 boeke wees.