Ek is gebore in Vryheid in KwazuluNatal as enigste dogter en, veronderstel om te wees, 'n laatlam vir my moeder, toe 44 en liewe vader van 55. Dit was my nie beskore om sogenaamd 'n "laatlam" te wees nie, want my moeder, wat veronderstel was om ouma te wees, vir my oudste boetie van 21, se eersgeborene, se vrou het besluit om hom te verlaat en hy het nie kans gesien om die seuntjie van 7 maande groot te maak nie en het hom by my ma kom aflaai. Nodeloos om te sê het ons as boetie en sussie grootgeword en het hy vir Ouma begin Ma sê en vir my Sussie. Middelkind, Boetie, soos ons hom genoem het, het natuurlik nog meer middelkind gevoel, nog meer aandag gesoek en onttrek. Pa was kondukteur op die treine en het 18 ure skofte gewerk. Ma het klere gemaak en was tuisteskepper met die blinkste stoepe op die dorp. Op 5 het ons Louis Trichardt toe getrek. Traumatiese kinderjare, dink ek. Kan nie so mooi onthou wat alles met my gebeur het nie. Baie baklei, boeties wat voorkeur kry, ek, ekke, wat slae kry vir hulle, veral vir aanneemboetie se part. Sy pa sterf geweldadige dood in 'n kroeg bakleiery. Toe ons ouer word raak "aanneemkind" die pad byster, verlaat skool met standerd 7, gaan weermag toe, skiet iemand dood, kom huis toe, begin steel, verpand alles wat hy in die hande kry, gaan tronk toe. Middelkindboetie het intussen sy studies opgeskop, lugmag toe gegaan, ook by die spoorweg begin werk, 'n oorplasing Durban toe gevra, betrokke geraak met dagga, alkohol en 'n beroerte gekry. By ouers kom bly, (ek intussen getroud) en my ma moes omtrent rondspring tussen hom en my ou liewe pa wat intussen afgetree het en Alzheimers gekry het. Hy is op die rype ouderdom van 87 oorlede. ('n storie vir 'n ander tyd) Ek moes skool begin saam met "aanneemboetie" op vyf en 'n half" en matrikuleer in 1981 op 17 jaar en 4 maande met Universiteitsvrystelling. Ek besluit egter ek moet uit die huis kom. Maak nie my studies klaar nie - verkeerde keuse in elk geval (maatskaplik in plaas van verpleging wat my droom was) - verlief, dom, onnosel, trou vroeg. Hê my kinders vroeg. Twee pragtige seuns, slim, talentvol, van kleins af gewild, sportief, leiers, maak hulle so te sê alleen groot, pa in lugmag - baie weg van huis. Toe is my jongste (18) in matriek, hoofseun, briljant, slim, top tien akademie, 1ste span rugby, Gauteng sagtebal, speel rugby na hoofbesering tel weer hoofbesering op na 'n duikslag. Hy word breindood verklaar en 'n dag daarna skakel ons die masjiene af. Ons het hom nie 'n kans gegun nie! 'n Maand na hom val (of slaan my "mal" middelbroer my ma met sy driepootkiere oor haar kop - ek weet tot vandag toe nie wat het gebeur nie) van 'n stoel af en doen ook 'n breinbesering op en sterf. Ek neem my broer wat tien jaar terug 'n beroerte op 42 gehad het in my sorg. Hy begin my ook aanrand. Ek laat hom opneem en in 'n tehuis plaas want ek is nie in staat om na hom om te sien nie. Tussenin teister die aangenome "boetie" my want hy wil nie werk nie, hy het 'n vrou en 'n kind maar hy wil nie werk nie. Hy was gewoond daaraan dat my ma (sy ouma) vir hom kos en blyplek gegee het as dit nou regtig moeilik gegaan het en middelkind boetie nie te erg daaroor gekla het nie. Hy wil ook sy pond vleis van my he en ek kan net nie meer gee nie. Ek het niks om te gee nie. My kind is dood, My ma is dood, Ek voel dood. Ek rou, ek is seer, ek is leeg, ek besef nie eers ek het nog 'n seun wat lewe nie en toe, en toe 'n jaar en 'n maand na sy boetie, spring Boeta (21) by 'n bewegende motor uit! Sy vriende neem hom nie na die naaste hospitaal nie. Hulle besef nie hy het seergekry nie (dink ek). Neem hom toe na 'n 'n hospitaal maar die dokter en verpleegpersoneel dink hy het net te veel alkohol ingeneem, doen geen noodbehandeling, hy sterf binne drie ure aan 'n ernstige hoofbesering. Niemand doen iets daaromtrent. Ek is in 'n waas, weet niks van sy begrafnis. Kan niks daarvan onthou en gaan aan asof ek nie regtig twee kinders verloor het nie... Ek en my man gaan aan vir nog twee tot drie jaar. Sy broer gaan oral saam ons, met vakansie, ons deel 'n karavaan, ons deel alles, het geen privaatheid, ons praat nie oor ons verlies, ons verstaan nie mekaar se verlies. Sy broer beheer ons lewens, hy besef dit nie. Tot op 'n dag - ons hou nog vakansie in die karavaan wat sy pa vir ons agtergelaat het. Sy broer verkoop die karavaan aan mense terwyl ons nog in die karavaan "vakansie" hou en se vir die vrou sy kan alles neem wat daarin is. My ma se goed is daarin sê ek, kan ek ten minste 'n sê daarin he, vra ek. Hy begin my vloek, my man vat sy kant. Toe besluit ek, ek het my man ook afgestaan, nie aan die dood nie maar wel aan sy broer. Toe besef ek ek moes seks he met my man terwyl sy broer in dieselfde karavaan as ons geslaap het, hoe siek was dit nie? Hoeveel keer het dit nie gebeur nie? Is dit waaraan ek myself blootgestel het? Ek besef toe ek kan nie meer nie, ek wil nou net allleen wees, ek het niks en niemand nie. En nog teister aangenome boetie my. En nog is die egskeiding nie afgehandel nie want mnr X het besluit hy koop sy polisse af. Sy kan maar nog swaarder kry. Hoekom sal hy nou vir die nuwe liefie wat so vinnig in haar plek daar was afskeep (was sy nie maar tog al die tyd daar nie?). Ek wat maar altyd moes sorg vir alles in die huis. Wat maar skuld moes aangaan sodat daar kos, vleis, skoonmaakgoed, en al die ander dinge in die huis gedoen word. Hoekom sal hy dan nou na 25 jaar plus nog vir haar sorg? Nie na die vernedering van 'n egskeiding nie? Die broodjie is nie meer gebotter aan beide kante nie? Die kinders is in elk geval weg. Dank vader die honde waaroor sy so aangegaan het is ook weg! En weet julle ek is so kwaad want Seuna moes nie daardie verskriklike dag rugby gespeel het nie, want weet julle ek het geweet hy het seergekry die week voor daardie verskriklike dag en almal het dit geweet maar hulle het hom laat speel!! Hulle het hom wragtig laat speel al het ek hoe gesoebat en gesmeek hulle moet hom afhaal! En nou is my kind dood en ek is opstroppelis daaroor! Ek is na 6 jaar en amper twee maande wragtig opstroppelis en dis daaroor dat my oudste kind ook aan depressie gely het (en ek al 6 jaar en twee maande ly) en die verdomde motor se deur oopgemaak het en uit die verdomde motor geklim het en op die verdomde rotse wat op die eiland in die middel van die pad gepak was, geval het en sy breinstam so erg beseer het dat hy aan die bloei gegaan het en doodgebloei het en 'n dokter wat te dom was om dit raak te sien, het dit nie gestop nie!!!! En ek was te laat om die laaste keer te groet en vir hom te sê hoe lief ek hom het en hoe jammer ek was dat ek vir 'n jaar nie gelewe het en daar was vir hom nie - omdat sy pa nie vinnig genoeg aangetrek het nie en nie vinnig genoeg hospitaal toe gejaag het toe ons die oproep gekry het nie!!! (Maar ek mag nie verwyte gooi nie - net hy mag en dit op skrif in briewe aan sy kinders in die graf!!!) Hoe jammer ek was dat ek hom nie ondersteun het soos ek moes nie en dat as dit waar was soos sy pa in 'n brief aan hom gesê het ek hom dalk "geteister" het, ek verskriklik jammer was daaroor en dat ek dit onbewustelik gedoen het. JA ek is KWAAD! Ek het vergewe maar ek is nog KWAAD! Daar is so baie om te sê oor wat met my gebeur het in 48 jaar van my lewe. Ek wil eintlik 'n boek skryf, maar weet nie waar of hoe om te begin nie. Al wat ek weet is dat as ek dit doen ek dalk bevry gaan wees van alles wat ek in my ronddra, al die swaarkry, al die vernederings, al die vertrap. Ek wil net nie vergeet van die twee wonderlikste ervarings van my lewe en dit was die geboorte en grootmaak van seker die twee mooiste seuns in die wêreld nie. Hulle was so spesiaal, het soveel mense aangeraak, het soveel liefde gehad en uitgedeel. Ek mis hulle ongelooflik en wil so graag hulle storie met mense deel. Ek moet ook vertel dat die laaste jaar van my lewe het ek sterker geword en na my egskeiding het ek besef dat ek 'n mens in eie reg is en dat ek nie onderdanig hoef te wees nie en dat ek 'n mens is wat ook standaarde het en het ek weer in myself begin glo. Ook dat daar mense is wat belang stel in watse werk EK doen. Weet julle in 22 jaar het my skoonfamilie nie regtig geweet wat ek doen nie? Dit maak egter nie meer saak nie. Ek het so ontwikkel dat ek 'n spanleier kon word in direkte bemarking en weer die selfvertroue kon ontwikkel om voor mense te kan praat. Iets wat doodgedruk is vir jare en jare, veral die laaste 6 jaar want dit was begrawe saam met my seuns. Ek wil vertel van vrouwees, van nie hoef in te gee wanneer daar aangedring word op gemeenskap binne 'n beperkte ruimte waar daar ander mense ook in die prentjie is nie. Wanneer jy gedwing word om toe te gee aan dinge waarvan jy nie hou nie anders word daar vir jou gesê jy is nie lief nie. Of jy word eenvoudig net oorheers omdat jy nie sterk genoeg is om te keer nie. Dan kry jy die volgende oggend net 'n sms wat sê "ek is jammer, dis nie hoe dit behoort te wees nie" en alles verder is maar "OK". Ek wil vertel van vakansies wat so verkeerd uitdraai dat daar nie een woord met jou gepraat word vir 1500 km nie. Net omdat jy gesê het jy het lankal gehoor daar is 'n "moontlikheid" van 'n buite egtelike kind en as dit so is, gaan soek na hom, jy sal hom aanvaar en jy gun hom dit want dan is daar ten minste vir hom die moontlikheid van 'n kleinkind. Onthou ek gaan niks hê nie, het niks nie... Hoe en waar begin hierdie opstroppelis "vrou" om haar verhaal te woord te bring? Hoe en waar vertel hierdie moeder van haar spesiale Engelkinders? Hoe vertel 'n moeder van 'n wete dat sy 'n niks is en tog 'n iets is as sy nie meer 'n iets het wat haar naam ook kan gestand bring aan die einde van haar lewe nie? En wat noem jy 'n moeder wat nie meer 'n moeder is nie al is sy in hart en siel en wese nog 'n moeder maar daar is niks meer wesenlik om aan vas te hou nie behalwe twee grafstene, langs mekaar, 'n spieëlbeeld van mekaar, 'n jaar, een maand en 2 dae uitmekaar maar tog langs mekaar, twee boeties herenig in die lewe hierna en wat wag op mamma maar wat tog gesê het mamma moet eers "wag - jou plekkie is nog nie gereed..."? Van 'n Opstroppelis Mamma/Vrou Miskien kan Janie my hiermee help - ek het soveel om te vertel...