Maar hoe weet ek of jy eendag wyn sal waardeer? Die wêreld word so belaglik gesondheidsbewus dat julle oor dertig jaar dalk net water en wortelsap sal drink. En ’n bottel van die beste wortelsap in die wêreld klink nou eenmaal nie soos ’n geskikte geskenk nie.

Buitendien, jy weet goed ek het nie genoeg geld vir sulke grootse gebare nie, so miskien moet ek jou eerder iets gee wat geld nie kan koop nie. ’n Paar kosbare lewenslesse vir jou pad vorentoe? Maar ek het nog nooit rêrig voorbeeldig genoeg gevoel om lesse uit te deel nie. Allermins aan my eie kind wat beter as ander mense weet hóé onvoorbeeldig ek soms kan wees.

Ek moes maar so langs die pad uit my eie foute leer. (Ek leer steeds, helaas.) Dis hoe jy ook jou weg sal vind, my seun, deur soms verkeerde afdraaie te kies en op onnodige ompaaie te beland. Dis die enigste manier om die regte roete te onthou.

Ek het wel deur die jare ’n bietjie padkos by ander mense gekry, ’n paar brokkies raad wat verstommend genoeg steeds vars genoeg proe om nou in jou rugsak te pak.

My ma het op ’n dag vir my gesê, toe ek omtrent jou ouderdom was, dat elke probleem ’n oplossing het. As dit nie ’n oplossing het nie, is dit nie ’n probleem nie, maar ’n feit, en dan moet jy leer om daarmee saam te lewe. Dis die wreedste, wysste raad wat ek ooit gekry het. Ek kou steeds daaraan.

John Lennon het op ’n keer gesê die lewe is wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Dis nou wat ek ’n lekker praktiese peuselhappie noem. Trek jou toekomsplanne op, droom jou ambisieuse drome, maar wees altyd gereed om verras te word deur die lewe. Dit maak die pad sóveel interessanter. Dit kan ek jou uit eie ervaring waarborg.

Iemand anders, ek wonder altyd wie, het gesê engele kan vlieg omdat hulle hulself nie te ernstig opneem nie. Begin solank daaraan knaag, my seun, want dis ’n harder korsie brood as wat jy dink. Dis móéilik om te leer om vir jouself te lag. Sommige mense kry dit nooit werklik reg nie. Dis waarom hulle altyd aardgebonde bly. Maar as jy leer om vir jouself en jou eie onnoselhede te lag, kry jy dalk, wie weet, vlerke. En ’n paar vlerke is wraggies nie te versmaai wanneer jy ’n lang en steil bult moet aandurf nie.

Maar voordat jy soos Hansie Slim die wye wêreld invaar, wil ek ook vir jou dankie sê. Julle kinders is veronderstel om dankbaar te wees vir alles wat ons as ouers vir julle gedoen en geleer het. Maar ons wat ouers is, vergeet dikwels om dankie te sê vir alles wat julle vir óns gedoen en geleer het.

Toe jy so ’n kortbeentjokkertjie was, het jy dit vir my moontlik gemaak om weer ’n kind te word. Om saam met jou kabouters in die tuin te soek en kastele op die strand te bou en monsters in die wolke te sien. Om my gunsteling-sprokies saam met jou te geniet, en nuwes saam met jou te ontdek. Jy’t my geleer om dapper
te wees (ek kon mos nie vir jou wys dat ek net so bang soos jy is vir die donker nie!) en kalm te bly wanneer ek eerder wou gil en flou val. Soos die keer toe jou gesig ’n bloederige pappery was ná ’n fietsongeluk, of die keer toe ’n klip jou in die oog getref het, of die keer . . .

Vandat jy ’n buierige tiener geword het, het jy my geleer om my eie buie te (probeer) beheer. En om geduldig te wees (dit bly móéilik, hoor) en bowenal, die héél moeilikste les, om jou te laat gaan. Om onafhanklik van jou te word, soos jy onafhanklik van my moet word, sodat jy binnekort jou eie paadjie op jou eie manier kan aandurf.

Bon voyage, Seun. Onthou jou padkos.

Liefde,

Ma