?Waar ek nou woon, is Nuwejaar gróót. Dit voel nooit soos mosterd na die maal nie, dit voel eerder asof Kersfees bloot die voorgereg was en Nuwejaar die eintlike hoofdis. En nou praat ek nie net van kos nie – hoewel kos natuurlik ’n onmisbare deel van die Jour de l’An is. Letterlik vertaal beteken dit “dié dag van die jaar”. En as kos op enige ander dag in Frankryk belangrik is, is dit éérs belangrik op dié dag.

Maar daar is vele ander gewoontes wat Nuwejaar spesiaal maak. My kinders se Franse ouma en oupa gee nooit juis Kersgeskenke nie, maar op die eerste dag van die nuwe jaar kry elkeen van die kleinkinders die tradisionele étrennes. Dis ’n geskenk of ’n bedrag geld om geluk te bring vir die 365 dae wat voorlê. Onvoorstelbaar om die jaar daarsonder aan te durf

Tot ’n dekade of drie gelede was dit ook die gebruik dat kinders aan bure se deure gaan klop om étrennes te vra, amper soos Amerikaanse kinders met Halloween maak. As jy ’n ouer alleenlopende vrou was, het jy op 1 Januarie nie jou deur vir sommer enigeen oopgemaak nie. Die eerste mens wat oor jou drumpel tree, moes ’n jong seun wees vir wie jy étrennes kon gee. In ruil kon jy ’n bietjie van sy jeug oorneem om langer te kon lewe...

My man vertel dat hierdie bygeloof vir hom as kind taamlik grillerig was, met al die ou tannies in die straat wat gretig agter gordyntjies uitloer, soos vampiere wat vars bloed nodig het om vir ewig te lewe. Een tantetjie van amper honderd het elke jaar pens en pootjies bo-op haar eetkamertafel geklim en daar staan en wag vir die eerste jonge heer wat haar huis betree.Wáárom sy dit gedoen het, kon niemand ooit vir hom verduidelik nie – en sy is dood voordat hy genoeg moed bymekaar kon skraap om haar self te vra. Maar haar dood het darem bevestig dat sy nie regtig ’n vampier was nie.

’n Ander tradisie wat steeds getrou gehandhaaf word, is die galette des Rois – ’n blaardeegtert met ’n vulsel, gewoonlik van fyngemaalde amandels – waarin ’n gelukbringertjie van porselein weggesteek word. As jy die gelukbringertjie in jóú sny tert vind, kry jy ’n goue kartonkroon en vir die res van die dag kan jy koning kraai. Die gewoonte het ontstaan om “die drie konings” te gedenk, ook bekend as die drie wyse manne, wat beteken die tert behoort eintlik eers op 6 Januarie geëet te word. Dis wanneer die Fees van Epifanie gevier word, toe die drie konings oplaas by die stal in Betlehem uitgekom het.

Maar teen Tweede Nuwejaar het die meeste Franse lánkal voor ’n sny galette des Rois geswig. Gelukkig kan jy aanhou swig, weer en weer, want dié lekkerny word regdeur Januarie in elke bakkery in die land verkoop.

My Franse vriende stuur ook nie Kerskaarte of selfs seisoensgroete vir mekaar nie, maar van Nuwejaarswense kan niemand wegkom nie. Solank jy vroeg in die nuwe jaar vir almal wat jy ken voorspoed toewens, kan jy maar tot volgende Oujaarsaand almal se verjaardae en huweliksherdenkings vergeet. Jy sal vergewe word. Voorwaar ’n aangename stelsel vir vergeetagtige en verstrooide siele, wat ek dadelik wil inspan om my goeie wense aan al die getroue lesers van hierdie rubriek oor te dra:

Mag jy elke dag die spreekwoordelike gelukbringer iewers in jou lewe vind. Mag jou denkbeeldige goue kroon jou aanmekaar laat straal. En mag jou geliefdes jou die hele jaar lank soos ’n koning(in) behandel.