Marita van der Vyver se jongste roman, Misverstand, verskyn in Maart by Penguin uitgewers.

Die persvrystelling daaroor beskryf dit as volg:

“Misverstand vertel die verhaal van Willem Prins, ’n middeljarige Suid-Afrikaanse skrywer wat ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is om ’n boekie erotika, wat hy tot sy skaamte onder ’n skuilnaam geskryf het, bekend te stel. Hier ontmoet hy vir Jackie, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is Jackie wat saam met hom is dié Vrydagaand die dertiende toe terreur in Parys losbars.

Van der Vyver se roman is nuuswaardig en aangrypend, maar ook humoristies en teer. Misverstand wys waarom dié skrywer sedert die verskyning van Griet skryf ’n sprokie een van die gewildste skrywers in Afrikaans is.”

Hierdie leser kan nie wag vir haar eksemplaar nie, maar was so voorbarig om vir Marita per e-pos ’n paar vrae oor Misverstand (Penguin) te vra.

FOTO: Willem Lourens/SARIE FOTO: Willem Lourens/SARIE

Dis jou eerste volwasse boek in ’n lang tyd. Hoe so?

Weet jy, dis nie asof ek voor my rekenaar gaan sit en besluit nou wil ek ’n kinderboek of ’n radiodrama of ’n volwasse roman of wat ook al skryf nie. Dis eerder ’n idee vir ’n storie wat by my kom spook, en eers as ek daarmee begin werk, word dit duidelik watter ‘genre’ dit gaan wees.

Waar het die gedagte vir die storie vir jou ontstaan?

Dit het te doen met middeljarige ontnugtering. Ons droom mos almal oor wat ons eendag wil word. En dan, op ’n dag, besef jy daar is nie meer ’n ‘eendag’ nie. Jy het geword wat jy is en jy moet jouself aanvaar soos jy is. En dis seker een van die moeilikste dinge op aarde om te aanvaar.

Gee ’n beknopte oorsig van die kern van die verhaal.

Willem Prins is ’n middeljarige skrywer wat vir ’n paar dae in Parys beland omdat een van sy prulverhale, wat hy onder ’n skuilnaam geskryf het, in Frans uitgegee word. Hy is so mismoedig oor sy eie middelmatigheid dat hy absurde selfdoodplanne uitdink - in die hoop dat ’n onverwagse verdwyning sy boekverkope sal opstoot. Maar dan word hy en ’n jong Suid-Afrikaanse meisie wat as au pair in Parys werk, byna slagoffers in die terreuraanvalle wat die stad op 13 November 2015 tref.

Het jy uit eie ervaring oorsee gedelf om Willem se lewe in Parys te skep?

Terwyl ek aan die storie geskryf het, moes ek meer as een keer Parys toe reis (van my huis in die suide van Frankryk) vir ‘fact checking’. Om as’t ware saam met Willem deur die strate te stap, in die parke te sit en in die metro en die treine te ry. Maar die meeste van my navorsing het met die terreuraanvalle te doen gehad. Ek het plekke soos die Bataclan en sommige van die restaurante besoek, en ek het diep en deeglik op die internet gedelf.

Hoe het die terreuraanvalle in Parys bygedra tot hierdie aspek van die verhaal?

Ek het nie geweet die terreuraanvalle gaan deel van die storie wees toe ek begin skryf het nie - nes Willem nie daarvan geweet het toe hy daardie naweek in Parys beland het nie. Ek het omtrent ’n derde van die storie reeds geskryf toe die terreuraanvalle op Vrydag die 13de my voete onder my uitruk. Ek was ’n week of wat totaal paniekbevange, gedog nou sal ek die hele verhaal van voor af moet aanpak, en toe besef ek skielik nee, dis ’n gegewe, dit moet deel word van die verhaal.

Wat is die ding waarvan jy die meeste hou aan die karakter, Willem? En aan Jackie?

Sy selfspot. Daar is heelwat humor, soms absurd en soms gitswart, in hierdie storie. Ek sien hom as ’n manjifieke verloorder. En ek is mal oor omtrent alles aan Jackie. Sy’s ’n swart Van der Merwe van Pniel met ’n woeste bos hare soos ’n Black Panther van die jare sewentig. Haar jeugdige lewensdrif is die teenpool van Willem se middeljarige sinisme.

Was daar ’n aspek van die verhaal waarmee jy gewroeg het?

Ek wroeg oor elke sin, elke punt en elke komma. Styl bly vir my bitter belangrik.

Waar kom die titel vandaan?

Willem se hele lewe en wat hy geword het, voel vir hom soos een groot misverstand. En in die loop van die verhaal is daar verskeie ander misverstande, soms komies, soms tragies.

Is daar reeds ’n volgende verhaal waaraan jy werk?

Ek het so ’n spul idees in my kop dat ek wonder of ek nie weer ’n slag kortverhale moet skryf nie. Ek het eenvoudig nie genoeg tyd oor om al hierdie idees in romans te verander nie. Ons sal maar moet sien watter ene die hardste gaan spook om geskryf te word ...