Elke keer as ek in Nederland of Skotland kom, hang die grys winterwolke so laag (soms selfs in die somer) dat dit soos ’n skof op my skouers voel. Asof ek nie my kop gelig kan kry nie. Daarom is ek dankbaar dat ek ’n holte vir my hart in Provence kon vind, want hier is die hemel mos eindeloos blou en die lig verblindend helder en . . .

Nee. Nie altyd nie. Die afgelope winter was die ergste in dekades. Oral in Europa. En in sogenaamde “sonnige” streke, waar dit nie eintlik “veronderstel” is om te sneeu nie, kan ’n enkele week van diep sneeu veel groter ontwrigting veroorsaak as elders waar dit elke winter aanmekaar sneeu.

Stel jou voor jy word een oggend in Kaapstad wakker en die sneeu lê kuithoogte om jou huis. Ja, goed, jy gaan soos ’n lawwe jong hond buitentoe storm en jou bure met sneeuballe bestook. (Sneeu, veral buitengewone sneeu, het nou eenmaal die manier om selfs die waardigste volwassene in ’n verspotte kind te verander. Dis een van die vreugdes van sneeu.) Maar daarna moet jy by die werk kom. En die kinders by die skool.

En jy’t nie sneeukettings vir jou motor se bande nie en jy’t nog nooit in sneeu bestuur nie. En die munisipaliteit het nie genoeg sout of gruis om op die besneeude paaie te strooi nie, dus kom alle vervoer tot stilstand. Nie net motors nie, maar busse, treine, vliegtuie, alles. Dan raak die kos in die huis op, en die winkelrakke leeg, en jou voete vries, want jy’t nie die regte skoeisel nie. En jy’t nooit, ooit kon droom dat sneeu soondraaglik koud kan wees nie!

Kortom, dan word sneeu ’n katastrofe.

Dis min of meer wat laas winter in ons Mediterreense omgewing gebeur het. Teen die derde dag van diep sneeu kon ons nie meer die 5 km na die naaste dorp ry om te gaan
kos soek nie. Die paaie tussen dorpe het eenvoudig verdwyn, die loeiende wind het alles wit gewaai, jy kon nie sien waar die landskap ophou en die lug begin nie. Elke paar meter is jou weg versper deur ’n ander motor wat vasgeval het in die sneeu, en as jy stilhou om die arme mense te help om hul motor uit te grawe word jou eie motor binne minute begrawe.

“Apokalipties,” het ons oudste seun geprewel terwyl ons in die toegesneeude motor sit en die brandweer probeer bel. “So iets het ek nog net in movies oor die einde van die wêreld gesien.” (Toegegee, hy kyk te veel flieks, maar ek kon waaragtig nie aan ’n beter beskrywing dink nie.)

Die brandweer kon ons nie help nie. Die brandweerwaens het ook iewers in die sneeu vasgesit. Maar hou moed, het ’n effens histeriese brandweerman ons meegedeel, die weermag is pas ingeroep en behoort môre op die toneel te wees. Ons moet net probeer om die nag in die motor te oorleef . . .

Die gedagte aan die jonger kinders heelnag alleen en honger in die huis het soveel adrenalien deur ons verkluimde lywe laat stroom dat ons die motor met ons kaal  hande uitgegrawe het. Ure later, ná vele ompaaie, het ons eindelik by die huis ingestrompel.

Dit was bloot die eerste episode van die winter se ontbering. Toe ons in Maart wéér ’n week van swaar sneeu kry, het ek nie eens ’n enkele lawwe sneeubal in die straat gaan gooi nie. Die kind in my was toegesneeu, kan jy seker sê.

Maar ’n paar dae later sien ek twee songeel krokusse  wat deur ’n dik laag sneeu in die tuin gebars het. Tóé rol ek daardie sneeubal en gooi dit uitbundig hoog in die blou lug op. Joegaai!
Nog nooit was twee geel blomme vir my só mooi nie. Nog nooit was die lente só welkom nie.