Ons lê in ’n dagkliniek en wag vir ons ‘prosedures’ in die teater. Behalwe die ‘prosedures’ het ons vier in saal 3A oënskynlik niks gemeen nie. Maar na ’n rukkie kan ek nie help om te glimlag oor die Terry Pratchett satire wat mens sou kon skryf oor wat in daardie kamer gebeur het nie. Ek hou nie van narkose en ‘prosedures’ nie en is dus nie my spraaksamige self nie. Ek kruip hoflik en vriendelik agter my boek weg. Later besef ek, ek is eintlik ‘n voyeur. Want ek het nie ’n rol te speel in die klein verhoogstuk wat om my begin afspeel nie. Langs my lê ’n vername vrou van een van die ryk buurte van die stad. Ek weet dit, want sy het ’n reuse chip van new money op haar skouer. Haar man het pas vir haar die nuwe Mercedes-Benz CL-Class gekoop. Sy het haar Cartier horlosie en ringe liefs by die huis gelos. “Mens weet nooit nie.” Sy vertel hoe sy glo een van haar huishulpe besteel haar. Die effense klank van rassisme in haar storie laat my ineenkrimp. Dit als weet ek net uit haar gesprek met die suster wat ons almal se bloeddruk kom neem. Die vrou oorkant my werk by ’n Franse kosmetiekmaatskappy en sy geniet Suid-Afrika baie, vertel sy die suster. Langs haar lê ’n meisie van Sentraal-Afrika. Dit lyk my sy is net so min lus vir praat soos ek. Gelukkig vir ons zoom Mevrou Spogbuurt in op die Franse vrou. Hulle het immers iets gemeen. Mevrou gebruik die hele reeks Franse skoonheidsprodukte van kop tot toon en sy het 20 jaar gelede in haar eerste jaar Frans as vak gehad. O ja en sy was al drie keer in Frankryk. Sy is mal oor alles wat Frans is. Ek is baie dankbaar sy ignoreer my heeltemal. Ek lyk seker nie vir haar important genoeg nie. Ek dink nie dit sal help as ek vir haar sê ’n deel van my bloedlyn het so ’n paar geslagte gelede uit Frankryk hier aangekom nie en dis net ons neuse wat ons van ons Franse bloed oorgehou het. O ja, en ek het een keer bronchitis in Frankryk gehad. Ek glo ek kan in Frans hoes want ’n dokter daar het sonder dat ons mekaar kon verstaan die regte medisyne vir my gegee. Die jong meisie oorkant my interesseer Mevrou ook nie. Ek sou op my boek kon konsentreer as die vername vrou nie skielik oorgeslaan het in haar beste Frans nie. Dit gaan behoorlik horte en stote, maar ek moet dit aan haar toegee, sy volhard en ignoreer heeltemal die feit dat die Franse vrou heel goed Engels kan praat. Kort-kort kyk sy of sy ons ander twee imponeer. Ek weier om haar erkenning te gee vir haar vertoning en steek my glimlag agter my boek weg. Hier raak dinge mos al hoe interessanter! Ek dog dis net ek wat die komiese situasie raaksien, maar toe vang my oog die groot pikswart oë van die Afrika-tiener wat glinster van die genieting. Die Franse vrou hou haar pose. Sy is immers hoof van bemarking by die maatskappy se Afrika-tak. Sy glimlag professioneel. Maar selfs ’n vrou direk uit die Franse kosmetiese adel kan ook net so lank uithou. Sy verskoon haar later om toilet toe te gaan. Die intrige verdiep toe sy op pad terug is na haar bed en die Afrika-meisie se tydskrif van haar bed af val. Die Franse vrou tel dit op. “Merci beaucoup!” sê die skaam meisie. Iets aan haar aksent moes die Franse vrou se aandag getrek het. “Parlez-vous le français?” “Oui, j'étais né en France.” Die meisie is in Frankryk gebore maar haar ouers is nou diplomate in sentraal Afrika. Ek kan omtrent Mevrou Spogbuurt se duur krone op mekaar hoor klap. Haar mond is die eerste keer in ’n uur toe. Die Franse vrou en die meisie gesels tog te lekker verder in hulle moedertaal. My glimlag agter my boek raak al hoe breër. Is die lewe nie wonderlik nie? Hier lê vier vreemdelinge in ’n dagkliniek in Johannesburg. Twee is Frans, een kan in Frans hoes en een gebruik Franse cream ...