Ek leun vooroor in die saal en streel saggies oor haar wit maanhare en die kant van haar kop.

Sy luister met aandag na elke woord terwyl ons rustig die paadjie tussen die groen weiding en die ertjieland afstap.

"Jy is beslis die mooiste perd in die wêreld. Al hou jy daarvan om in die stof en modder rond te rol. Grênd vroue in die stad betaal honderde rande vir so 'n mud wrap en buitendien gee dit jou so 'n strawberry blonde voorkoms," so boost ek haar ego oor haar hare, nes myne, in alle rigtings staan. Haar lang hare is vol modder en stof. Myne staan so oor ek kroontjies op verkeerde plekke het.

"En jou spierwit lang wimpers kontrasteer pragtig met jou swart oë. Geen lashes in 'n maskara-advertensie sal ooit mooier kan lyk nie."

Versigtig is haar naam. Oor sy in die veld altyd versigtig is vir dinge wat sy nie ken nie.

"Ook maar soos ek in die lewe is," verseker ek haar.

Op haar rug vergeet ek hoe hard ek vandag gewerk het. Sy is die rede hoekom ek my shrink nie meer nodig het nie.

Ons doen altyd die sundowner-rit.

Die son sak anderkant die Vaalrivier agter die Koepelberge. Ek dink met 'n lekker gevoel in my hart dat ek vier jaar gelede dié tyd van die dag in die spitsverkeer tussen Sandton en Linden vasgesit het.

Terwyl van my vriende nou na die traffic report luister, hoor ek en Versigtig hoe die voëls mekaar vertel waar hul vlerke hulle vandag orals heen geneem het.

Dit lawe ons siele.

Sy is my gunsteling. Dié wit perd wat maar net nie skoon kan bly nie. Sy laat haar nie deur Tjaka boelie as hulle saam gery word nie. Sy wil voor wees. As hy dit waag om voor haar te probeer indruk, trek sy haar ore so effe agtertoe. Dan moet mens maar ferm met die toom stuur voor sy happerig begin raak. Ek verstaan hoe sy voel.

Tjaka is 'n ouer hings. Hy laat dié merrie met die sterk wil maar begaan. Goeie ou Tjaka.

 "Goed so, my meisie! Moenie toelaat dat mans ooit voor jou indruk en jou boelie nie. Hulle moet jou respekteer want maak nie saak wat Prinses van jou sê nie, jy is 'n lady."  Sy en Prinses deel 'n kamp. Prinses laat my aan Paris Hilton dink. Ek verstaan hoekom Versigtig haar wil hap. Ek sou ook.

Thunder is die een wat nie kan verduur om agter 'n merrie te gallop nie.

"Tipies," skinder ek in Versigtig sê oor. "Jonk en arrogant, maar hy weet net nie hoe hy uit mis nie. Hy mag dalk dink die slanke Prinses wat op kamp staan en jaloers runnik oor sy nog te vurig is om te ry, het sexy boudjies en dun enkels, maar hy kry nooit kans om ons twee se vroulike rondinge van agter te sien nie! Sy verlies my girl."

Ek weet nie hoeveel suikerklontjies Versigtig op 'n middag eet nie, maar met elke soethappie kyk ek en sy mekaar betekenisvol in die oë. Dan vryf ek haar oor die voorkop en die fluweelsagtheid van haar neus en sit sommer 'n klontjie in my kies ook.

Ons verstaan mekaar. Ons merries.

Ons sal dit anderdag afdraf.