My laaste skanse teen die vooruitgang het met die skryf van 'n boek geval. My getroue werksmaat van bykans tien jaar, my Sony-bandopnemertjie, het finaal die gees gegee. (Sy voorganger, die Panasonic, het afgetree toe ek sy parte met 'n rek bymekaar moes begin hou en met behulp van prestik die batterye in posisie moes vasplak. Hy is steeds in my laai.)

Ek kan nie eens begin om te dink hoeveel bekendes en beroemdes se stemme daardie "masjientjies" al opgeneem het nie.

Ek het 'n kassie met 'n argief van ou bandjies. Op een sê een bekende hy weet nie hoekom hy sy vrou verkul het nie, op 'n ander een vertel 'n rugbyspeler snikkend hoe drank en dwelms byna sy loopbaan vernietig het, 'n sangeres vertel van haar aborsie in die sewentigs, op een vertel 'n oud-staatshoof se vrou hoe sy buite die eg op hom verlief geraak het en dan is daar die klassieke een waarop 'n jong en jeukerige sanger baie onvleiende goed vir my skreeu oor ek in the line of duty vir hom 'n sensitiewe vraag moes vra. (Nie dat dit my gewoonte is om onsensitiewe vrae te vra nie.)

'n Ruk gelede al het ek 'n digitale opnemer gekoop, 'n JNC. Nugter weet waarvoor dit staan, maar jy kan ook musiek op hom luister en selfs na video's kyk. (Dit het my paniek eerder vergroot as om my te beïndruk. Ek WIL nie op 'n snaakse gedoentetjie so groot soos 'n vuurhoutjiedosie en so dun soos 'n koevert video's kyk nie. Ek wil klou aan my ou roetine van 'n bandjie indruk en PLAY en RECORD gelyk druk.)

My kind sê die JNC is soos 'n superweergawe van 'n MP3 Player. Vir my gee die ding angsaanvalle.

My eerste onderhoud op hom was met Steve Hofmeyr. Ek het ewe nonchalant die ou Sony langs die JNC neergesit.

"Wat op aarde doen jy?" vra Steve my daar in sy studeerkamer.

"Ek gebruik die ou bandopnemer as 'n back up, want ek vertrou nog nie die nuwe een nie."

Steve wou hom doodlag, maar toe ek dieselfde met Ian Roberts doen, het hy my dilemma verstaan.

"Ek trust ook nie 'n masjien as ek nie die kassetband kan sien draai nie," het hy my verouderde gewoonte verdedig.

Ja, besluit ons toe beide, 'n masjien wat nie eens 'n knoppie het wat sê "Fast Forward" en "Rewind" nie, so 'n ding gaan 'n mens lank vat voor jy hom vertrou.

So besluit ek toe (seker teen my eie beterwete) op 'n dag om vir 'n baie belangrike onderhoud vir 'n boek die moderne JVC by die huis te los. Net ek en my getroue Sony vat die pad Pretoria toe.

My bandjies netjies genommer en in volgorde sit ek hulle tussen my en Cezanne Visser se ma, Susan Lemmer, op 'n koue winterdag op haar dubbelbed neer. Kombersies oor ons bene, koffiebekers in die hand en 'n plak Lindt-sjokolade tussen ons, gaan ons twee nou lekker gesels ...

Gelukkig het ek die neurotiese gewoonte om so nou en dan terloops te loer of die bandjie nog draai.

En daar steek ta toe sommer vas. Genoeg gehad van 10 jaar se onbaatsugtige diens.

Paniek slaan in koue sweet teen my slape uit. My onderhoud vir die dag is nog net kwartpad! Gelukkig is die Menlynsentrum net om die draai.

Ek jaag soontoe, draf Game binne en soek desperaat na "'n bandopnemer wat nog met bandjies werk". Die man by die toonbank kyk my aan asof ek met 'n time machine uit die tagtigs gou kom kuier het.

Ek stap R1 000 later daar uit met 'n Olympus digitale opnemer. Dié het darem 'n groen liggie wat wys sy battery is nog oukei en jy kan die digitale sekondes sien aftik.

Ek is dus terug by 'n Olympus, maar dié een lyk soos 'n mini-ruimtetuigie vergeleke met die Olympus-tikmasjien waarop ek in die vroeë tagtigs by Beeld leer stories skryf het.

Ja, ek en hy moet mekaar nog vind.

Ek vertrou hom steeds nie, want, soos Ian Roberts tereg sê: "Hoe weet mens dit wat ons nou gepraat het, is binne-in daai dingetjie?"