Destruction before creation

Ek het sy naam ingetik en met my rekenaarmuis een kliek gegee.

Block this user. Kliek ... en daar sit ’n gat wat iemand vir 28 jaar in my lewe gevul het. Dit was vir my ’n oorwinning.

Toe ’n vriendin in die jare voor Facebook en rekenaars my vertel het hoe sy mense uit haar adresboekie Tipex, het ek gedink sy is wreed.

Maar sy het toe al wysheid gehad wat ek met jare moes aanleer.

’n Wyse vrou het my een keer die storie vertel van die man wat met ’n skaap onder sy arm loop. Die skaap is swaar en ongemaklik om te dra. Later vrek die skaap en so stap die man oor heuwels en berge met die dooie skaap onder sy arm. Die vleis begin ontbind en die stank omhul hom terwyl hy stap. Die vrotsel trek in sy klere in. Maar hy weier om die skaap neer te sit.

Dit het my laat nadink. Ek het ’n hele paar vrot skape onder my arm vergader. Ek het party sommer met ’n kruiwa probeer aanstoot.

Dis wat ons met mense doen wat nie goed is vir ons nie. Toksiese verhoudings, mense wat jou aftrek met hul negatiwiteit, skinderbekke, mense wat jou kritiseer, oordeel, jou aanval...
Dit kan ’n lang lys word.

Ek is baie sentimenteel en geneig om aan goed en mense vas te klou. Ek buig agteroor in verhoudings.

Dit het baie trane, terapie en slapelose nagte gekos om tot die besef te kom dat jy nie ander mense of hulle persepsies oor jou kan verander nie.  Jy kán van jou kant af probeer.

Maar as iemand ’n vrot dooie skaap onder jou arm begin word, moet jy kies.

Nee, dis nie maklik nie.

Na ’n reeks traumatiese gebeure in my lewe het ek besluit om op te staan en weer te begin leef. En om te kan leef, moet ek ontslae raak van die vrot skape in my lewe.

Dis ’n ou cliché, maar gelaai met diep waarheid: Jy kan nie altyd kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy dit hanteer.

Ek het gekies.

Ek is 52 jaar oud en ek wil LEEF.

Ek maak foute, ek struikel, ek rou en huil. Maar ek kan elke keer weer opstaan, die stof afskud en besluit wat kan ek nou doen om die lewe opnuut aan te gryp.

Kobus Burger het vanoggend, asof hy geweet het ... die volgende waarheid op Facebook gelos:
“We must be willing to get rid of the life we've planned, so as to have the life that is waiting for us. The old skin has to be shed before the new one can come... You can't make an omelet without breaking eggs. Destruction before creation.” - Joseph Campbell (from A Joseph Campbell Collection)

Ek gooi daai ou velle af. Ek breek eiers en maak geurige omelette.

Dis my keuse.

Ek is ’n lojale, liefdevolle mens teenoor diegene wat dit verdien en wie ek verkies ek deel van my lewe wil hou. Ek staan by hulle deur hulle foute, geluk en daaglikse struggles. Ons verskil ... en vergewe mekaar. As die papaja die fên strike, trek ons laer.

Ek oordeel ander nie oor hulle besluite, oordele, oortuiginge en wat ook al van hulle die mense maak wie hulle is nie, maar ek het geleer om te besluit wie se teenwoordigheid, raad en insette ’n positiewe bydrae tot my lewe maak.

Ongelukkig werk die lewe wat ons beplan het, soos die wyse Campbell sê, nie uit nie.

Johan is gister presies twee jaar gelede dood. Ek rou oor dit wat ons beplan het, deurgemaak het en dit wat die afgelope paar jaar gebeur het. Op sy graf het ek laat inkerf: Wees vry en gelukkig.

En dis ook my drome vir my en my kinders.

Om dit te bereik, moet ek keuses maak want ek glo ons verdien van nou af net die heel beste.

Twee jaar gelede net na vyf het my foon gelui.

Gistermiddag vyfuur het ek en Lieneke op ons perde geklim en die veld in gery. Ons het nie gepraat nie. Die wind het ysig gewaai en die veld is plek-plek afgebrand.

Maar nog lank voor die eerste reën gaan kom, sien ek al groen spriete tussen die brandsel uitsteek.

Nuwe lewe.

Destruction before creation.