En wie het vir jou na my pity paartie genooi?

Die swart brak sit my astrant en bekyk.

Ja, ek praat met jou! Sie jy!

Die gebroedsel agtervolg my op 'n afstand. Nes die hondsdol hond in Etienne van Heerden se Dol Hond vir Jakadas en Kintie en hulle kinders op die donkiekar gevolg het.

Soos hulle met die donkiekar gery het op soek na nuwe hoop het die dol hond skeef-skeef met 'n skuimbek agter hulle aan gedrentel.

As hulle net water kan kry, het Jakadas gehoop. Dol honde hou niks van water nie.

Water gaan my hond nie verjaag nie. Pille help, maar mens moet hom self wegja van jou donkiekar af.

Voertsek!

Die dokter sê 'n ekstra pil in die oggend sal help.

Sarah sê ek dink te veel. Sy glo sy kan my dink-siekte verdrink deur al om die uur 'n koppie tee op my lessenaar te kom sit.

Ek weet die bliksemse brak skrik as ek hard werk. Ek vra sommer vir nog werk.

Ga weg jou vieslike ding!

Die sielkundige het gesê ek moet leer om my gedagtes te beheer. Elke keer as my kop verkeerde koers neem, moet ek hokaai skreeu.

Dis goeie raad. Ek het 'n soms ontembare brein. 'n Besige dinkmasjientjie wat dag en nagte lank situasies kan dissekteer. Maar hy is nou ge house train. Gedra vir jou en moenie op my matte piepie nie! Dus, aan sekere situasies en mense dink jy nie.

Die kern van my probleem ken ek goed. Dis nie nodig om daarna te soek voor ek beter gaan word nie.

My emosies en gedagtes word in die son uitgegooi, soos my sielkundige aanbeveel het. Anders as ander wat in hulle binnekamers wroeg, praat ek openlik oor my seer en sensasie.

Dit hou daai kwylende dier op 'n afstand.

Ek is nie 'n slagoffer wat onder my duvet wegkruip nie. Ek voel party dae lus om dit te doen, maar ek weet dit is die laaste ding wat dié girl moet doen. As jy gaan lê, hap daai brak vir jou. Dink liewer aan plan B, C, D ... E.

Dit werk vir my.

Ek weet al die lewe skuld my niks nie. Elke regdenkende mens weet ook as jy nice is met ander mense, gaan hulle nie noodwendig goed vir jou wees nie. Net jy kan jouself hieruit kry ... Jou geluk kom van binne ...

Bla la bla.

Ek ken al die lingo en cliché's van die situasie.

Oorweeg jy soms selfmoord? vra die dokter.

Nee, maar ek wens baie dae ek het op 'n hangmat onder 'n koelteboom langs die hemel se goue strate gelê. Daar hoef ek nie te worry oor begrotings wat nie wil klop nie en mense wat my gruwelik drop nie.

Die dokter het blykbaar nie 'n sin vir humor nie en is geskok. Ek dink hy oorweeg dit om die foon op te tel en die mense met die straight jackets te bel.

So wat is eintlik my probleem?

Ek het maar net my knieë nerf af geval. Ek besef die fleur van my loopbaan is verby en ek worry hoe ek my kind se studies gaan finansier ...

Bladie bladie  bla.

Daar is nog plan B, C, D en E.

My probleem is niks vreeslik nie. Die verbrande hond mors eintlik sy tyd met my klein probleempies.

'n Vriendin het kanker, nog een is verkrag, 'n ander een se kind het kanker en een wag desperaat op 'n leweroorplanting. Dan is daar die een met 'n moeilike gestremde tienerseun, die vrou wie se man haar en haar kind gelos het en sy bly klaar in 'n motorhuis ...

Hier sit ek in een van die pragtigste ou Vrystaatse opstalle uit die draai van die vorige eeu. Ek het geen skuld nie. Ek het 'n wonderlike werk. My kinders is talentvol en super-slim, my mense het my lief.

Omstandigheidsdepressie, sê die sielkundige. Post traumatiese stres.

Okei, nou het ons die diagnose en die pille. Wanneer gaan dit nou ophou?

Ek is al baie geïrriteerd met myself.

Ek sluk die ekstra pil van die dokter.

Maar ek besluit ook ek is nou hartlik keelvol vir die slepende boosheid wat my donkiekar agtervolg.

In Van Heerden se kortverhaal vlug Jakadas en Kintie voor die hond uit. In hulle desperaatste oomblikke kom daar uitkoms.

Uiteindelik besef hulle die hond is weg. Daar is nie eens spore wat wys hy was daar nie.

Dié dat ek besluit het ek het ook nou genoeg van die gedoente gehad. Ek gaan staan agter op my lewe se wankelende donkiekar en ek skreeu die nag in.

Sie jy! Gaan weg! Gaan soek iemand anders om te volg. Ek kan jou nou al sê ek gaan nié stadiger ry of van my donkiekar afklim sodat jy my hakskeen kan byt nie.

Sorry, got things to do and places to go!

Ek weet ek gaan een oggend opstaan en dan gaan sy spore weg wees.