Ek sit in die kardioloog se wagkamer met vorms van een van my man se lewenspolisse. Hulle wil hê die dokter moet invul hoe ernstig my man se hartkwaal was.

Die dierbare man op wie se skouer ek al soveel keer gehuil het skryf dat my man vier hartaanvalle gehad het voor die noodlottige een en dat hy twee miniatuur springs in sy are gehad het om dit oop te hou. Dan was daar die pasaangeër wat niks daarvan gehou het as my man 'n whisky te veel gedrink hê nie.

Ek stap met die vorms na die intensiewe waakeenheid van die hartsaal se wagkamer. Ek weet nie hoekom ek daar gaan sit nie.

Die laaste keer wat ek daar was, het 'n gesin oorkant my gesit en huil.

Dit voel soos gister ...

Op die bed links van my werk mediese personeel met 'n vrou wat besig is om 'n hartaanval te kry. Op die bed regs van my lê my man. Sy hart fladder 185 slae per minuut. Agter die gordyn hoor ek hoe hulle die vrou herhaaldelik skok. Dan is daar 'n stilte.

Die geskarrel rondom Johan se bed word intenser. Ek word uit die pad gedwing. Hulle trek die gordyne voor my toe en ek staan na die twee stelle toe gordyne voor my en kyk.

Ek weet die vrou links van my het pas gesterf. Regs van my hoor ek die dringendheid aan die dokters en verpleegsters se stemme. Ek weet Johan is in lewensgevaar, maar ek staan net daar soos 'n zombie.

Ek hoor hoe hulle my man skok. My oor luister vir die piep piep van die hartmonitor. Netnou was dit 'n te vinnige piep piep piep. Ek het goed geweet wat dit beteken.

Ek was al hier waar ek op hierdie oomblik is. Ek onthou hulle het my 'n vorige keer blitsig uit die waaksaal geneem. "Kry die vrou hier uit..." ek onthou elke woord en die dokter se stemtoon presies. Maar dié keer staan ek net daar. Ek weet nie hoekom nie. Niemand sien my raak nie, want hulle is besig om vir my man se lewe te veg.

Vrees vang my vas in die breukdeel van die sekonde na die skokgeluid. Ek ruik Johan se borshare brand. Dan begin 'n stadige, ritmiese piep piep piep. Ek kan nie spontaan reageer nie. Ek moet dink: Hoe moet jy nou reageer? Moet jy histeries raak? Is jy veronderstel om te huil?

Ek het eerlikwaar nie vir myself antwoorde nie. Ek staan net daar. 'n Suster neem my agter die gordyne in. Johan is wakker. Ek probeer 'n grappie maak: "Sien jy hoeveel mense gee vir jou om? Kyk net hoe staan ons almal hier om jou bed." Johan glimlag flou oor die commotion wat hy pas weer veroorsaak het. "Hulle is hier want hulle wil net weer geld uit my maak." Dis my en Johan se ding. Dis asof humor ons soms herinner ons leef nog. Ek is hier want ek het jou lief, wil ek sê. Maar ek sê dit nie.

Daar is verligte glimlagte rondom my man se bed. Hy is baie swak en ek word gevra om in die wagkamer te gaan sit. Die gesin van die vrou wat pas gesterf het, kom sit by my. Hulle kry tee. Ek staar voor my uit want ek voel dit sal 'n inbraak maak op hulle privaatheid as ek met hulle praat.

Wat kan ek in elk geval vir hulle sê? Hulle geliefde is dood en myne leef ... Ek sit met die vorms op my skoot en wag.

Maar niemand bring vir my tee nie.