Kort-kort maak en my hande oop en bekyk dit. Dis ’n mooi present wat die lewe my gegee het. Nou sit ek en wonder waar ek die skat gaan bêre. Ek het vir te lank gedink geluk lyk heeltemal anders. Ek het my voorgestel dit is groter en blinker. Geen wonder ek het so vergeefs gesoek nie. Ek sou nooit dié beskeie klippie raakgesien het terwyl ek so deur die skatkiste van die lewe gekrap het nie. Miskien lyk elkeen se geluk anders. Myne, sien ek nou, se krag lê in eenvoud. Dit is gestroop vandroombeelde van feëverhale en die prentjies wat glansblaaie uitbeeld. Ek verstom my aan die elementêre skoonheid. Hoe kon ek my so lank daaroor misgis? Soms het ek na ander gekyk en onbewus gesoek na geluk soos hulle s’n. Vergeefs. ’n Mors van tyd. My geluk was lank weggesteek agter donker wolke en onder die puin van my lewe. Nee, ek gaan nie hier ’n pienk-boekie-stelling maak en jou belowe dis maklik om ‘n roosklippie net te vind nie. Dit is nie. Dit val nie in jou skoot nie en kom nie in Krismispapier toegedraai onder ‘n boom nie. Ons verdien dit almal. Maar jy moet daarvoor werk Die opdrag is eenvoudig, maar nie maklik nie: Kry jou kop reg. Pille, shrinks, meditasie, hibernasie help niks as jy nie die opdrag verstaan nie. Ek het al meer as genoeg selfhelpboeke gelees en hope teorieë gehoor oor die ware rusplek van geluk. Ja, ek weet dit was hele tyd in my. Maar om dit in jou hartkamers en tussen die miljoene selle van jou logiese brein te probeer vind, is ’n uitmergelende taak. Veral as jou wese besoedel is met kommer, hartseer, moedeloosheid en plein gatvolheid vir die lewe. Vra vandag vir iemand in Noord Japan wat sy dink geluk is. Om te leef, sal sy miskien antwoord. As haar geliefdes veilig is, sal sy jou makliker kan antwoord. Sy sal dalk ook kos, water en ’n warm slaapplek noem. Mens se perspektief van geluk verander baie as die tsunami van die lewe oor jou gespoel het. My hart en kop moes skoon gespoel word voor ek die kleinood kon ontdek. Met ’n stuk lewe wat agter my plat gevee is, weet ek my behoefte van geluk is eintlik eenvoudig. Ek wil in liefde en vrede leef. Net dit. Ek wil nie miljoene wen en op ’n weelderige huis se balkon sit en na die asemrowende uitsig staar nie. Ek wil sommer net happy wees. Ek wil ’n regmerkie in my dagboek kan maak by elke taak wat suksesvol voltooi is, ek wil my kinders en diere bederf en vertroetel en saans wil ek my my man ’n drukkie kan gee en sê: Dankie vir ’n lekker dag. Ek weet dié geskenk kon nie met waarborge nie en is suiwer van Genade afhanklik. Daarom draai ek my klippie in ’n fluweellappie toe en sit hom in die voorkamers van my hart. Daar waar ek hom elke dag kan kry en blink vryf.