Die oomblik toe my voet teen die groot hondelyf vashaak, het ek geweet hier word ek weer 'n objek van aerodinamika. Ek voel hoe my lyf deur die lug trek tot gravitasie oorneem en ek KA-DWA! neerstort. Ek was op pad in die donker gang af om Lieneke iets te gaan vra.

"Mamma! Is jy oukei?"

Ek is in 'n bukkende posisie met my hande en voete op die gangteëls. Lyk dit of ek oukei is? Daar swel dadelik 'n blou bult op my knieg uit. Op my pols is 'n blou uitstulping asof 'n aar gebars het.

My warmkombers is gelukkig reeds aan. Ek gaan lê effe bewerig op my bed. Ek probeer voel watter deel van my lyf is nie seer nie. My knieg is beslis op die oomblik die seerste. En my rug. Maar my rug is altyd seer, of ek nou val of nie. My nek voel of hy in 'n spasma trek. Beide my arms is seer. En die tone aan my regtervoet. Dus is dit net my linkervoet wat nie pyn nie, besluit ek.

Ek sit twee Rescue Remedy-pilletjies onder my tong. Dié kan ek gelukkig op die bedkassie raakvat. Dis vir Skock Anxiety & Sleeplessness. Ek is beslis in Shock. Ek kry myself geweldig jammer. Ek wens iemand kon 'n lawende lappie vir my voorkop bring.

Ná 'n halfuur bel ek op my sel my kind in haar kamer. Gaan jy nie kom kyk of jou arme ma nog leef nie?

"Ek is besig om my hare droog te blaas." Effe onsimpatiek, sou ek sê, maar sy kom maak tog later 'n draai.

"So, is Mamma nou oukei?"Nie die aandoenlike, simpatieke oomblik waarop ek gehoop het nie.

Quinne kom sit darem langs die bed. Ewe gelukkig en stertswaaiend. Sy het skynbaar geen benul dat sy die oorsaak is van my pyn nie. Ek raak aan die slaap en het 'n heel goeie nagrus vir 'n vrou wat 'n skudding van ten minste 2 op die Richterskaal veroorsaak het toe sy agt uur gelede met die gangvloer kennis gemaak het.

Maar die oomblik toe my wekker lui, het ek geweet ek het dit nie gedroom nie.

My hele lyf is styf en seer.

Sarah bring Vicks om aan die nek te smeer. Ek draai 'n wolserp om. Iewers in die huis is daar spierverslappers. Sarah moet maar gaan krap in die medisynekas. Die boksie sê ek moet twee drink.

Ek lees op die rekenaar al die nuus van die dag en beantwoord e-posse. Ek vra 'n sangeres of sy met my sal praat oor haar verbrokkelde huwelik en ek stuur 'n e-pos aan een van die Waterkloof-seuns se ma.

Maar ek voel ellendig.

Gert e-pos en sê hy weet nie wat hy gister verkeerd gedoen het nie, want sy laerug pyn.

Ek stel voor ons moet albei op 'n warmkombers gaan lê en onsself jammer kry. Dit kan ons ongelukkig nie doen nie, want nie een kan dit bekostig om 'n werkdag te verloor nie.
Soos dit 'n selfbejammerende kind betaam, bel ek my ma.

"Gaan dokter toe," is haar raad.

Ek kan nie, verduidelik ek. Ek sal of Vredefort toe moet ry of Potchefstroom toe om 'n vreemde dokter te gaan sien.

Ek KAN nie by my huisdokter instap en sê ek het WEER oor my hond geval nie!

Laaskeer het hy ongelowig gevra of my gekraakte duim sowaar deur dieselfde hond veroorsaak is wat laasjaar my pinkie se middelste beentjie middeldeur gebreek het toe sy met 'n stapsessie 'n ander hond wou bespring en die ketting my pinkie 'n hengse ruk gegee het.

My pinkie het lank met 'n krom boog in die lug gestaan. Nes 'n vrou wat by 'n damestee 'n teekoppie vashou.
"Gelukkig is dit nie Mamma se middelvinger nie. Dit sou nou vir jou 'n ding gewees het," was die droë wysheid van my seun. Toe ek my duim beseer het met die vorige val oor Quinne in die gang (ja, op presies dieselfde plek ... ek dink dis tyd dat ek begin besef dit is haar gunsteling-lêplek) was sy kommentaar: "Toemaar, Mamma het darem nog agt vingers wat werk."
Maar my liewe ma is baie meer simpatiek.

"Ek is seker die dokter sal dit nie snaaks vind as jy die derde keer na hom toe gaan oor dieselfde hond nie."

Ja, maar ek was ook by hom toe ek by die werk van die trappe afgeval en ek ook pimpel en pers en styf was. Ook toe ek in die waterkanaal ingery het en die airbags my lelik gekneus het.
Hy gaan sweerlik begin dink iets is nie pluis by die huis nie. In die drie jaar wat ons hier woon, het hy ook Tinus se gebreekte been gedokter en een nag tienuur by sy spreekkamer 'n tandestokkie uit 'n tienerseun wat by ons aan huis gekuier het se bo-arm gesny. (Lang storie.)

Ek is dus daarvan oortuig dat hy gaan begin dink daar is die een of ander vorm van geweld in ons huis.

Nee, ek sal beslis nie oor my nekspasma en knieg wat nie wil buig nie na hom kan gaan nie.

Netnou roep hy 'n maatskaplike werker in om te kom kyk wat gaan aan in my huis.
"Mevroutjie, is u seker u man slaan u nie?"

Ek hoor dit al.

So, "Mevroutjie" moet maar vandag met so 'n 30 grade tilt van die kop na regs na die rekenaarskerm loer.
My been rus op 'n stoeltjie.

En gelukkig kan my vingers nog tik.