Daar is vandag iets op my spoor wat my lewe wil vertoorn. Ek het wakker geword ná 'n vreeslike nagmerrie en nie diep asemhalingsoefeninge, 'n koppie koffie in die tuin of my dagboek se daaglikse inspirerende versie kon my oortuig die dag gaan reg loop nie.

Maar ek laat my nie onderkry nie. Ek pak 'n stuk inspirerende vertaling en maak doelbewus 'n paar notas in my brein van die positiewe lewenslesse wat die vrou kwytraak.

Ná so twee uur se inspirasie reken ek my brein is nou reg geprogrammeer. My dag is nou op die regte spore.

Om my goeie bui te versterk, gaan pluk ek vir my 'n skottel vars ertjies in die groentetuin. Die eiers wat ek uit die neste haal, laat my ook baie heilsaam voel.

Ek gee 'n diep sug van gelatenheid.

Ná nog 'n uur se positiewe vertaalwerk is my kop so positief soos die lentebries daar buite.

Ek is trouens in so 'n goeie bui dat ek die kinders nooi vir 'n middagete by Shirley's. Miskien is daar sommer ook 'n boek wat ek kan koop.

Ai, die dag kan nie beter nie.

Ek koop vir my 'n laphartjie (ja, NOG een ...) vir my studeerkamer en 'n klip vir die tuin waarop staan ek moet die lewe aangryp.

Ha! Dink ek so in die stilligheid. Die geniepsige bui wat my ná sonsopkoms al bekruip het, is nou finaal getem. The power of positive thinking, soos Norman Vincent Peale sou sê.

Soos 'n positiewe skoenlapper fladder ek deur twee kunsgalerye.

Hmmmm ... dit was nou 'n fantastiese etensuur, dink ek toe ek my karretjie se neus huis se kant toe draai.

Skaars 'n klipgooi verder begin my "silwer strykystertjie", soos 'n vriend my kar noem, hoes en proes soos iemand wat verstik.

Reg voor Parys Auto Electricians kom sy tot stilstand.

Ek draf binne om my ingel des ligs van motorprobleme te gaan vertel die karretjie wat hy onlangs gediens het, staan voor sy voordeur.

Dierbare man.

Hy ref haar dat ek sweer my brose voertuigie se hart sal van skok gaan staan.

"Is sy vanoggend gewas?"

"Ja."

"Water op die plugs. En een van jou plug-drade is voos."

"O."

Hier moet ek noem dat mense op Parys nie teen dieselfde tempo as ek leef nie.

Die arme man kom dus nie agter dat ek brand om hom te vra hoe lank dit gaan duur nie. My etensuur is al verby.

Die dierbare man peuter so bietjie aan my kar en gaan staan dan buite en rook. Daarna gaan peuter hy aan 'n ander kar. Hy rook nog 'n sigaret saam met 'n vriend wat gou kom hallo sê.

Ek luister hoe hy sy vriend vertel van die pragtige foto's van sy nuwe kleindogter wat hulle ingeskryf het vir 'n babakompetisie.

Ek byt teen die binnekante van my wang om my gille te keer.

Ek haal diep asem en kyk na die uitstalling van antieke speelgoedmotortjies.

Ek lees my e-posse op my BlackBerry en loer wat gaan op News24 aan.

My kinders ken hulle ma al.

"Die man is seker besig ..." probeer Lieneke my kalmeer.

Ná 'n uur voel dit my brein gaan ontplof van ongeduld.

"Ons stap so lank huis toe," kondig die klein blikskottels aan vir wie ek pas toasted chicken-toebroodjies gekoop het.

Ek kyk nog 'n keer na die speelgoedkarretjies. Ek is op die punt om hulle te begin kategoriseer in jaargetalle toe die dierbare man se gawe vrou by my kom sit.

"Haai, en hoe gaan dit met die nuwe ou karretjie?"

"Daar staan sy..."

Ek konsentreer dat dit bars om nie my ongeduld te wys nie.

Die fout lê heeltemal by my. Ek weet.

Ek leef teen 'n stadstempo en nou wil ek hierdie mense in hulle rustige dorp kom aanjaag.

"Dis die vinnigste R500 wat ek nog verdien het," kom kondig die man aan nadat hy my strykysterjie vir 'n toetsrit geneem het.

Ek tel nog die note uit toe die man laggend vertel hy maak 'n grap.

Ek lag maar saam en neem my voor om vir meditasie- en joga-klasse in te skryf as ek nog 'n paar jaar op hierdie pragtige vakansiedorp wil oorleef.

By die huis gaan sit ek die klip wat sê ek moet die lewe aangryp in die tuin neer.

"Ja, oukei, oukei ... ek verstaan nou jou boodskap!" praat ek met die klip.

Koos kyk my aan asof hy dink ek het nou finaal my varkies verloor.

"Het Mevrou gesien die nuwe kar blink nou weer mooi?"

"Ja, Koos ... baie dankie!"