Ek lees twee keer om seker te maak ek verstaan die SMS reg. Ons wag al so lank saam met haar hiervoor. Anci het Vrydagaand laat laat weet sy gaan in hospitaal toe want daar is ’n moontlike skenker lewer. Saterdagoggend is sy teleurgestel want die lewer was nie geskik nie. Lank voor ons destydse minister van gesondheid Manto Tshabalala Msimang haar lewer gekry (en daarna opgemors het), het sy al gewag vir haar lewer. Ons moes toekyk hoe ons geliefde goudgeel word soos iemand wat haar quick tan verkeerd aangesmeer het. Sy het steeds dapper elke dag haar pos by die universiteit gevul, maar sy was vir jare nie meer ons energieke Anci nie. Ek weet elkeen voel so oor ’n geliefde, maar Anci verdien om gesond te wees. Ek ken niemand wat die lewe so voluit aangryp nie. Sy is doelgerig en immer positief. ’n Beste “lagmaat”. Ek weet die jong lewer wat sy vanaand kry, is jonk en dit beteken iewers rou ’n jong mens se gesin. Maar as hulle Anci kon ken, sou hulle bly wees hul kind se lewer gaan nou in haar voortleef. Of dit hulle sal troos, weet ek nie, maar ek kan hulle verseker die lewer sal aan ’n wonderlike mens ’n tweede kans gee. Miskien het hulle kind nooit kans gekry om te gaan studeer of studies te voltooi nie, maar die geskenk wat hulle so onselfsugtig gegee het, het, gee ’n briljante akademikus nou kans om ander jong mense se lewens met haar kennis te verryk. Vir ons wat nou in hierdie ure vir ons Anci bid, gaan die nuwe kans op gesondheid ’n kosbare lewe spaar. “As ek eers gesond is, kuier ek julle moeg,” het sy Vrydagaand belowe. En ek weet sy sal. Met die nuus dat sy uit die teater is, maar nog twee dae kritiek sal wees, het ek God gevra om haar die kans te gee om weer die wêreld plat te reis, om haar weer uit haar keel te laat lag. Ek hoop dat elkeen wat hier lees, sal gaan kliek op die Organ Donor Foundation of South Africa se webtuiste by www.odf.org.za.

Vanaand het iemand wie vir my kosbaar is ‘n noodsaaklike orgaan gekry. As dit nie vir ‘n skenker en sy/haar gesin se betrokkenheid by dié organisasie was nie, het ons haar dalk verloor. Mens raak mos eers bewus van die goed as dit na aan die huis tref.