Ek gaan haal pos by die poskantoor. Twee pakkies wag by die toonbank. ‘n Uitgewer het vir my ‘n boek, Stories van Hoop, gespos waarin ek ‘n bydrae gemaak het. Helené Bester het vir my twee groen draadharte gestuur om dankie te sê vir die storie wat ek oor haar troue vir Lééf geskryf het. Aan die harte is olyfgroen linte vasgebind. “Hoop dit gaan voriwind!” skrywe sy vir my op die poskaart waarop sy en Jacques glimlag op die eerste dag van hulle huwelikspad saam. Ek sorteer deur rekenings, kennisgewings en gemorspos. Die koevert herken ek dadelik aan die adres agte rop. ‘n Vreemde ironie. Dat dit arriveer so saam met die harte en boek vol hoop. Op die dag wat die swart hond weer die hemp voor my voete kom neersit het. Ek skeur die koevert nie oop nie. Ek vlug boekwinkel toe. Town & Country Cat van Lynn Holyn het skilderye deur Robert Goldstrom. ‘n Pragboek geskryf in kalligrafie. Dit vertel verhale van katte met uitdagende geaardhede en van die wat jou hart kan aanraak. Dis wat ek vandag nodig het. ‘n Aanraking van die hart. By die huis sluk ek ‘n pienk pil saam met tee en skryf ‘n stuk oor die vier pilare van gesondheid. Genadige navorsingswerk sonder emosie. Etenstyd gaan sit ek met my tee en katboek in die sonkol op die stoep. Tequila kom klim met haar te-groot-vir-‘n-skoothond-lyf op my skoot. Sy lek oor my hande en ek voel haar warm tong vinnig oor my souterige wang. Haar gesig rus op my bors. Sy staar na my. “Ek wil lees.” Lig ek haar in. Sy bly lê. Vir ‘n rukkie sit ons twee so stil. Ek voel my hond se hart klop teen my lyf. Vriend Cokes SMS my: “Jy is stil. Gaan dit goed?” Kobus SMS en vra of ons kan ontmoet vir koffie. Ek tel Tequila van my skoot af. “Ek moet nou gaan werk.” In my kantoor hang ek Helené se harte teen my venster. Ek begin vertaal aan ‘n stuk oor ‘n vrou wat ‘n kookboek oor koeke geskryf het. All the worlds a birthday cake, so take a piece, but not too much. Maar vandag is nié ‘n tjoklitkoek-dag nie, besluit ek. Vandag wil ek nie ‘n slice van die lewe hê nie. “Martieeeee!” Gil iemand van die voordeur af. Dis my vriendin, die skilder. My hart sak. Ek voel soos Gretha Garbo... I just want to be alone. “Ek het gevoel ek moet na jou toe kom. Ek sal koffie drink.” My vriendin is oorweldigend, mens stribbel nie teë nie. “Is jy besig? Kom ons gaan sit op die stoep. Hoekom bel jy nie? Ek het jou die naweek kom soek. Waar was jy?” Sy wag nie vir antwoorde nie. “Nou toe, wat gaan met jou aan?” “Ek is bietjie besig...” keer ek. Wat is dit vandag met alles en almal so aan my karring? Sy is een van daardie mense wat jou tot oorgawe dwing. Vir ‘n kunstenaar kan sy baie prakties wees. Sy gee nie drukkies nie. Net ‘n spul instruksies oor hoe ek die situasie moet hanteer. Toe sy by die hek uitry, draai sy haar venster oop en gee nog opdragte. Sy wag nie vir my antwoord nie en trek met ‘n spoed weg. Ek gaan sit by my lessenaar en skeur die koevert oop. Dear Mrs Pieterse Estate late: J Pieterse We refer to the above estate. We advise as follows. We are busy collecting proceeds from Samlam upon receipt, we will proceed to do the statement of assets and liabilities. Please always quote the reference. Our further advice will follow in due course. Martha Mabunda Estate Services Ek sal die hemp verbrand en die as onder een van my olyfbome inspit. Dalk sal ek een van Helené se harte aan die boom hang.