Hy was van laerskool tot met ons hoërskool se 36ste reünie vir my "Gertjie Bosman". Ek en sy sussie was saam in die klas. As kind het ek soms van hulle huis af saam met haar Voortrekkers toe gestap.

Gertjie was in my sussie se klas. Hulle was GROOT.  Ek was net vaagweg bewus van sy bestaan.

Ek onthou hoe hy op hoërskool as onderhoofseun in die vierkant gestaan het en die fluitjie geblaas het as ons klasse wissel. Hoe hy soos die wind kon nael. Die wiskundige wiz kid.

Dis al wat ek van my kinderjare van Gertjie onthou. Hulle het in Baobabstraat naby die hoek gewoon. My sussie sê hy het bloemlesings vol stories in die klas geskryf. Voor in het hy geskryf: Baobab uitgewers. Sy ma het kerkhoede gemaak en ons het miniatuur hoedjies by sy sussie gekoop vir ons Barbie-poppe.

Ek het "Gert' leer ken toe ek die eerste keer die skoolreünie eposse begin ontvang het. Dit is gesirkuleer toe hy die herontmoeting begin reël het vir die vyf jaar groepe wat die stigtingsjare van ons spogskool beleef het.

Elke Maandag het ons 'n kontaklys ontvang van al die leerlinge wat Gert opgespoor het.

Dit was die memory boekie wat Gert uitgestuur het, wat my die meeste gefassineer het. Ons kon almal stories uit ons skooldae skryf.  Gert het meer as die helfte daarvan geskryf.

Gert kán skryf! En ek is tog so 'n sucker vir 'n man wat kan skryf!

Ek kon deur Gert se stories elke gebeure in sy kinderjare "sien" afspeel. Van die padda wat hy geopereer het wat nie wakker wou word  ná die "hartoorplanting"  nie (natuurlik geïnspireer deur dr. Chris Barnard se eerste hartoorplanting) tot die dag toe hy en 'n maat Pepler se bos per ongeluk afgebrand het.

Ek en Gert het oor woorde begin korrespondeer. Ek het gevoel vir 'n wiskundige behoort  hy meer aandag aan sy skryfkuns te gee.

"Ry saam met my af Kaap toe vir ons reünie. Mollie het my gedrop..."

Eeeek!

Eposse was in daardie stadium van my lewe 'n veilige manier om weer met mense te kommunikeer. My lewe was in 'n gemors en ek het nie eintlik kans gesien vir sosialisering nie. Hoe kan ek van Parys na Kaapstad ry saam met "Gertjie Bosman"?

Wik. Weeg. Twyfel ...

Hoekom nie? Ek is depressief, my lewe is omgedolwe ...

Ons het 4 000 km Kaap toe en terug gesels en gelag. Ons het op Philippolis in die tronk geslaap (dis nou 'n gastehuis), ons het ons skool se naam op Ronnie's Sex shop in die Klein-Karoo se muur met 'n permanent marker neergeskryf, vis geëet, olywe geproe ...

Dit was twee jaar gelede.

Intussen het ek die Gert leer ken wat saam met my kookavonture kan aanpak, kan droom oor planne, kan raad gee.

Daar in Mimo's in Bryanston kyk ek vir die man wat 'n stukkende vrou opgetel het en weer help heel word het.

Hy het geduldig trane afgedroog. Ons het saam 'n groentetuin geplant, gepraat oor boeke, kruie, kos en musiek en lang ente gaan stap.

Voor ek my kon kry, het ek begin uitsien na die eposse, SMS'e en telefoonoproepe.

Wie het dit nou kon glo? Ek en Gertjie Bosman!

Ek moes leer van vertroue en weer uitsien na die toekoms. Hy het my in die slegste tydperk van my lewe weer leer ken. Hy het nie geoordeel of weggeskram van die stukke van my lewe wat ek so hard probeer bymekaarskraap het nie.

Hy het my anker en beste vriend geword.

Hy gee nie om as my katte op sy skoot klim nie. My honde is smoorverlief op hom. Hy leer my seun kook en my dogter bromponie ry.

Of ek ook dink ons moet trou?

Ja, Gert, ek dink ook dis 'n goeie idee!

En daar op 'n Donderdagoggend in Mimo's in Brynston skud ons die hand!

"Dis 'n deal, partner!" sê hy.

So tipies Gert.