My plan van aksie Saterdagoggend by Aardklop was 'n besoek aan die SARIE-, Lééf en Idees-tydskriftente om 'n paar vriendinne te groet en om dan deur die stalletjies te draf op soek na 'n grys broek vir 'n foto vir SARIE se Kersfeesboek.

Die broek moes 'n eenvoudige snit en styl hê en by die vyfde klerestalletjie hang sy daar in haar volle prag. Perfek.

Ek het my fonds pas oor my arm gegooi om te betaal toe die gewoel van Aardklop skielik in stadige aksie oorgaan.

"I was totally not prepared for the child bearing hips of the Afrikaner women," hoor ek die eienares van die stalletjie by iemand kla.

Dis soos in die flieks. Vir 'n paar sekondes is die feeslawaai stil en haar stem weerklink oor die vol tent.

Sy kon netsowel Heil Hitler! in die Killarney Mall geskreeu het.

Jo jo! Hier kom moeilikheid, weet ek.

Ek en my grys broek staan vasgekeer aan die einde van die gangetjie. Voor my staan die uitspreker van die gewraakte woorde en aan die ander kant van haar staan 'n vrou met 'n arm vol klere saam met haar slanke dogter.

Die statige lang vrou met child bearing hips draai in stadige aksie om.

"I beg your pardon?"

"I was just saying I didn't have enough stock for the bigger women at the festival ..."

"Do you understand Afrikaans?" vra die vrou terwyl dit vir my lyk asof sy al langer en statiger uitrys van woede.

"Barely ..."

"Well, my English is excellent. I live in Bothaville and though my mother is from English decent and some of my best friends are English, I am proud to be Afrikaans ..."

Sy swaai haar ring wat sekerlik net 'n agste karaat minder as die Cullinan-diamant weeg onder die vrou se neus sodat dié 'n goeie reuk van mielie-geld kan kry.

In 'n sagte, maar ysige stemtoon vertel sy die vrou hoe sy alle ismes van rassisme tot rockspaaiderisme verpes en hoe sy dink ons kan 'n wonderlike land hê as mense mekaar aanvaar.

Dis duidelik die vrou uit die mielie-adel is meer de bliksem in as Boetman.

Ek kyk vinnig rond vir 'n ontsnaproete ingeval die vuiste begin klap. Ek besluit ek sal onder die klere-rails deur leopard crawl as dinge handgemeen raak.

Ek sal ná vanoggend se preek aan my tieners oor dronk mense by die rockfees moeilik kan verduidelik dat ek 'n blou oog opgedoen het tussen die laag op laag gekreukelde feesmodes van Aardklop.

Gelukkig doen Mev. Bothaville haar adellikheid gestand en na sy die vrou met 'n sagte perfekte Oxford English uitgetrap het, stop sy die hoop klere wat sy sou koop netjies in die stomgeslane vrou se arms en stap weg.

"Vrystaat!" sê 'n man met 'n kort denimbroek, reuse kuite en vellies.

Ek wou eintlik net 'n grys broek kom koop. Ek was nie voorbereid op 'n heruitbreek van die Boere-oorlog in een van Aardklop se tente nie.

Ek is ongelukkig een van daardie mense wat nooit gereed is met die regte antwoord op die regte tyd nie en voel instinktief hier moet ek liefs my mond hou. Die mieliemagnaat se vrou het immers klaar mooi vir die vrou ge-explain hoe sy oor die saak voel.

Ek sit my grys broek woordeloos op die hoop klere in die vrou se arms en stap ook weg.

Skielik hou ek niks meer van die broek se style nie.