Kuli Roberts se rassistiese rubriek laas Sondag oor bruin mense het my herinner aan al die kere dat ek dié glansvrou al by funksies gesien het. Hmmmm ... Koos wat in my tuin werk, praat die mooiste Afrikaans. Hy het daardie iets wat respek afdwing. 'n Waardigheid wat ek bewonder. Hy het nie voortanne nie. Ag, askies, Tweet Kuli ná die skade gedaan is. Sy het dit glo nie so bedoel nie. Wat hét jy dan bedoel, me Roberts? Jou rubriek in Sunday World oor bruin vroue was vir my heel duidelik: “They have no front teeth and eat fish like they are trying to deplete the ocean ... they love to fight in public and most are very violent ...” Miskien het jy nie verder gedink as wat jou vals wimpers strek nie? Jy beledig mense van wie die meerderheid minder venyn in hulle het as wat in die puntjie van een van jou duur Italiaanse skoene sal pas. Nie almal het dieselfde voorregte as jy nie. Ek wens soms ek kan die warmte en opregtheid van ’n Kaapse blommeverkoper in ’n canned fruit bottel opvang en elke dag ’n lepeltjie daarvan geniet. Jy beledig my bruin vriendinne, jy beledig druiweplukkers, appelpakkers, korporatiewe vroue, vistermansvroue... As mens eers jou kussing vol venynige vere uitgeskud het in die wind, kan jy nooit weer elke veertjie bymekaarmaak nie. Al vra jy askies. Wie gee om wat ’n bevoorregte sosiale vlinder kwytraak? Ek wens ek kon sê NIEMAND NIE. Maar in ’n land waarin ons rasseverhoudinge nog baie broos is, kan ons nie meer sweepings statements soos dié van me Roberts toelaat nie. Ek onthou die dag toe me Roberts ‘n huurmotor by ’n lughawe voor my weggegaps het. Toe sy wegry, het ek net voortanne gesien soos sy gesmile het.