My kind skryf rekord-eksamen. Uiteindelik.

Na twee weke van spanning waarin vanjaar se matrieks gewonder het of hulle eksamen betyds gaan plaasvind, was dit 'n verligting toe die skool aankondig die kinders sal nou rustig kan voortgaan met een van die belangrikste eksamens van hulle loopbane.

My kind het baie hard gewerk vir hierdie eksamen. Hy wil graag goed presteer sodat hy kan gaan studeer en 'n positiewe bydrae tot hierdie land kan maak.

Vandag skryf hy Afrikaans.

Maar 'n wettige betoging vind onder polisietoesig voor die skool plaas. Vakbondliedere word luidkeels gesing en vuvuzelas geblaas.

Die staking is 'n saak tussen die regering en die stakers. Dit is nie veronderstel om die kinders te raak nie.

Wel, tot dusvêr het dit my kind se matriekjaar geraak.

Hoe moet die kinders studeer en eksamen skryf as vuvuzelas voor die skoolhekke geblaas word?

Die kinders van Parys is reeds senuweeagtig nadat stakers 'n week gelede by die laerskool ingebars en kinders getraumatiseer het.

Ek bly oorkant die skool. Ek kan dus nie die lawaai wat my kind ontstel terwyl hy vir vanmiddag se vraestel studeer, ignoreer nie.

Dis hoekom ek besluit het om uit te stap met my kamera en die betogers af te neem. Ek wil vir julle wys hoe lyk dit voor die skool waar matrieks eksamen skryf.

Ek doen dit nie as verslaggewer nie. Ek doen dit as 'n ma wat haar belasting betaal en tot dusvêr aan die toekoms van hierdie land geglo het.

Ek was so opgewonde oor die gees van samehorigheid na die sokker. Ek het selfs met 'n negatiewe ekspat skoolmaat daaroor swaarde gekruis.

Jammer, Leon. Dis vir my bitter, maar ek trek my woorde oor jou negatiwiteit terug.

Nou voel ek bietjie soos 'n gek hier waar ek voor my kind se skool staan en toekyk hoe grootmense kinders se eksamen benadeel en hulle emosioneel ontwrig.

Natuurlik geniet die stakers die aandag terwyl ek hulle afneem. Een betoger druk sy vuvuzela in my gesig en blaas so hard hy kan.

Hulle gluur my uitdagend aan.

Ek vra 'n polisieman hoe kan hulle dit toelaat? Hy is skoon omgekrap met my dat ek dit durf vra.

"Is jou kind in dié skool? Skryf jou kind vandag eksamen?"

"Ja,"

"Dink jy dis reg wat hier gebeur?"

"Dit is 'n vreedsame staking wat vooraf gereël is."

Nou wonder ek hoekom ek dan nie "vreedsaam" oor die besigheid voel nie?