So skryf my vriendin. Ek steek vier kerse aan. Sielsuster in Switserland. Jou hart breek soos net ’n ma s’n kan as jou kind teen die dood veg. In watter verseboekie, in watter wyse se geskrifte, kry ek trooswoorde vir jou? “In die gesig van Die Dood, daar waar jy Die Dood in die oë staar, en hy vir jou terugkyk, waar jy hom ruik, Martie, daar het jy God se Hand met ’n hoofletter nodig. Dit is nie vir sissies nie.”

In haar handsak dra sy ’n skulp wat sy op die Camino-pelgrimsroete in Spanje opgetel het. Hoe sou sy toe kon weet van al die treë van geloof en hoop wat sy nog sal moet stap?

Elke dag tel sy klippe op.

“Ek dra vandag een vir jou,” beloof sy my ... “Ook een vir Ilze in Lusaka.”  Hoe lank kan ’n mens ’n swaar sak met geliefdes se laste so onselfsugtig dra?Sy ry hospitaal toe deur ’n kliniese Switserse stad. Sy sien pragtige standbeelde deur vensterruite vol reëndruppels. Daar wás dae dat sy daarna kon kyk en kon wens sy het dit met haar eie kunstenaarshande uitgebeitel.

“Maar iewers langs die pad het iets binne my doodgegaan,” bieg sy.

Wat beteken troos wat jy oor die kuberruim aanstuur?Of ’n SMS wat sê: “Moenie bang wees nie, ek dink aan jou.”

’n Kers brand vir my lagmaat. Sy is nou tweede op die lys vir lewer-oorplantings in die A-bloedgroep.

“God, U moet haar asseblief nie miskyk nie. U sal haar hoor, sy is die een wat so lekker lag. U sal haar raaksien. Sy is die een met die pers strepe in haar hare. Dra haar, asseblief. Dra die familie wie se harte so ruim gaan wees om vir haar nuwe lewe te gee ...” bid ek. En my gunsteling- ou knorpot, ek weet jy sê heeltyd dit gaan goed en jy is te besig om pret te hê om siek te wees, maar ek het al ’n pak kerse vir jou gebrand. Jou nuwe boek staan op die rak. Sal jou lesers weet jy het dit geskryf terwyl uitmergelende chemikalieë deur jou lyf gepomp is? Maar ek weet ons gaan weer saam wyn drink, skinder en skater ... en by kerslig feeste vier. Tot dan brand my kerse vir jou. Die woord “borskanker” het my soos ’n koue skoot water getref. Nee, nie sy nie! Nie my vriendin nie. Sy is dan ’n ma. Ma’s mag nie borskanker kry nie. Maar wie verdien dit? Ek bel vinnig. “Ek gaan oiukei wees.” Ek steek nou al ’n kers van dankbaarheid aan. Die laaste vuurhoutjie brand te lank voor die pit vlam vat. Ek voel die brandpyn.