Is dit nie ’n kompliment wanneer iemand so in my belang stel dat hy as ’t ware tot in my siel kan kyk nie? Is dit nie wat ons begeer van die mense na aan ons nie? Dit lyk dan altyd na iets so aangrypends om twee mense te sien wat mekaar se sinne kan voltooi, wat net saam kan wees in stilte en tog kan verstaan wat in mekaar se gemoed gebeur.

Maar hoe meer ek gedink het oor die Indiane se eeue oue waarskuwing dat jy my menswees kan vernietig en ons verhouding kan skade doen as jy dink jy ken my, hoe meer het ek besef dis een van die grootste waarhede wat daar kán wees.

Ek dink byvoorbeeld hoe ek voel wanneer iemand ’n spreekwoordelike etiket op my plak. En hoe maklik doen ons dit nie: Jy is nou tipies vrou; jy is ’n grapjas; introvert; ekstrovert; te ernstig; oppervlakkig. Wat kwalifiseer ons om kenners te wees wat kan sien tot in die diepste geheimenisse van ander se hart?

Elkeen van ons ken daardie kwaad word wanneer iemand ons met paternalistiese meerderwaardigheid laat voel hulle weet meer van onsself en van wat goed is vir ons as onsself.

Die Indiane se wysheid leer ons om respek te hê vir die diepe misterie in elke mens met wie ons te doen het. ’n Nuwe wêreld gaan oop wanneer ons só met verwondering na mense kyk. Ja, persoonlikheidstoetse het seker ’n plek, maar wanneer mens en mens ontmoet, is misterie, verwondering en repek die onontbeerlikste bestanddele van die omhelsinge van die siel.

Juis hier, in die wêreld van verwondering, het ons vir die eerste keer gekoester gevoel.

Elke ma kyk na haar baba as die grootste wonder en diepste misterie waarmee ’n mens ooit in aanraking kan kom.

Is daar ’n groter misterie as om in daardie klein ogies te kan kyk waarin ewige wêrelde versteek lê, dat die brose bondeltjie mens voor jou paaie gaan loop waarvan jy nou niks weet nie?

As ons maar hierdie verwondering kan behou.

Elke ouer ken daardie selfverwyt nadat jy met jou grootmens-wysheid en ongeduld vergeet het die kind voor jou is volledig mens, iemand wat verwond kan word, wat wag op jou bewondering en respek.

Hoeveel keer is die sogenaamde “fase” waardeur ’n tiener gaan, nie maar net ’n kreet om as mens gehoor en benader te word nie?

Ja, op elke terrein van die lewe, van die intimiteit van die slaapkamer tot die geraas van die fabriek, roep ons almal maar: Sien my raak, en weet dat daar baie meer diepte in my is as wat jy kan sien.