Oorsee is dit beslis minder herkenbaar, behalwe in Ierland waar ‘n belangrike hoofstuk in Melanie Verwoerd se lewe afgespeel het. En sy in die publieke oog prominent geraak het deur gebeure buite haar beheer. Gevra waarom sy die van behou, verduidelik sy enersyds dat sy langer ‘n Verwoerd was as wat sy enige iets anders was. Sy is 26 jaar terug getroud met Wilhelm Verwoerd en het ‘n dogter, Wilmé en ‘n seun, Wian.

Sy het ook nie werklik ‘n identiteit met haar nooiensvan nie, omdat sy op negentien reeds getrou het.  Andersyds -  “ ek is nie naïef dat die van ‘n rol gespeel het in die politiek in 1994 rondom die verkiesing, toe ek as ANC parlementslid verkies is nie. Dit het my toe gehelp. Maar ek dink  nie dit het meer ‘n rol gespeel in die 1999 verkiesing nie. Toe ek eers oorsee gegaan het, het die van glad nie meer ‘n rol gespeel nie.”  Ons gesels oor haar memoir, The Verwoerd who toyi—toyied (Tafelberg, R195),  oor haar lewe, politieke lewe, werk by Unicef en haar verhouding met die Ierse radio- en televisie-aanbieder Gerry Ryan, sy dood en die drama wat daarom afgespeel het.

Die eerste deel van die boek gaan oor haar volgepakte gesinslewe en interessante politieke loopbaan. Die tweede deel is ‘n verhaal van liefde en verlies en die effek daarvan in al die betrokkenes se lewens. Haar verhouding met Gerry Ryan, sy skielike dood en al die bespiegelinge daaroor het haar ‘n baie herkenbare persoon in Ierland gemaak, want Gerry Ryan was immers baie bekend. Verwoerd vertel ‘n roerende liefdesverhaal, van ‘n soulmate wat sy verloor het en hoe sy dood die aktivis in haar wakker gemaak het – om te veg teen die ongeregtigheid van die publisiteit oor hom en die gerugte oor sy dood. Sy wou hààr storie vertel, maar ook hulle storie – die ware verhaal van wat regtig gebeur het.

As jy terugkyk na alles wat  in jou lewe gebeur het, hoe sal jy jouself in ‘n neutedop beskryf?

Ek het baie daaroor gedink die laaste tyd en spesifiek wat die kern-beginsels en dinge is wat my regtig dryf ? Ek het nog altyd sterk gevoel oor ongeregtighede en dat ek moet uit praat wanneer ek glo dis die regte ding. Dit het in my lewe met ‘n prys gekom, maar dis regtig wie ek is. Vir my is die waardes van empatie, omgee, liefde en medemenslikheid verskriklik belangrik. Daarmee saam gaan geregtigheid.  Dis wie ek is, maar daarvoor het ek elke nou en dan in warm water beland.

Die hele ding oor ongeregtigheid, is dit een van die groot redes waarom jy die boek geskryf het, om Gerry se verhaal te vertel?

Ek sê in die inleiding ek wou nie regtig die boek geskryf het nie. Ek’s al ‘n paar keer gevra om my memoirs te skryf. Maar ek het gevoel mens skryf nie memoirs as jy nog in jou veertigs is nie. Dis belaglik en arrogant. Daar kan nog so baie gebeur daarna. Ek het ook geweet daar sal ‘n drama rondom die boek wees as dit uitkom in Ierland. Daar was konstante media aandag, maar ek het die laaste twee jaar weggekruip en skaars uit die huis gegaan. Ek sou dit verkies het om nie enige verdere publieke aandag te trek nie, maar dan sou die waarheid nooit uitgekom het nie. My probleem was ook ek het net twee weke voor Gerry se dood ‘n belofte aan hom gemaak  - om as hy eendag dood is oor hom en ons te praat.  In daardie stadium het ek het gedink ons het twintig, dertig jaar nog saam, so dit was ‘n maklike belofte om te maak, maar twee weke later is hy skielik oorlede. . .

Aanvanklik het dit gelyk of alles okei gaan wees, maar so ses maande na sy dood het mense en die pers al die leuens oor hom begin vertel. Dit het vir my baie moeilik geraak en ek het besef dat ek  my belofte aan hom sal moet nakom. Vandag voel ek baie verlig dat ek dit gedoen het. Daar was ‘n tweede rede ook om die boek te skryf,  ek het gevoel ek het myself begin verloor tydens die hele treurproses. Al die media-dekking het dit vererger – ek het Gerry Ryan se girlfriend geraak en dit was moeilik om te onthou presies wie ék is. Die skryf het baie gehelp om myself te “onthou” en dis waarom ek nooit nét ‘n boek oor Gerry of ‘n “kiss and tell”- boek sou skryf nie. Dis my storie waarin hy ‘n belangrike rol gespeel het

Wanneer mens iemand wat jy in die boek beskryf as ‘n “soulmate”verloor,  is dit klaar ongelooflik moeilik. Jy het ‘n dubbele dosis komplikasies gehad, met Gerry se eks-vrou, die geweldige media aandag en kontroversie rondom sy dood  en die gerugte dat dwelms ‘n rol gespeel het. Het dit die rouproses moeiliker gemaak?

Ek het al oumas en oupas verloor wat vir my swaar was, maar mens verwag dit mos half. Hierdie was die moeilikste ding waardeur ek al ooit was. Om iemand na aan jou te verloor is altyd swaar, maar as dit onverwags is, is dit soveel erger. Daar was baie dae wat ek kon sê: al maak dit seer om asem te haal, al wat ek vandag kan doen, is om asem te haal. En dis wat ek dan gedoen het.  Wat dit soveel moeiliker gemaak het, was dat ek die heeltyd gevoel het dat ek ‘n gehoor het wat my dophou en sommige wat hoop dat  ek uitmekaar gaan val en ondergaan. En dit op ‘n tyd waar  mens moet kan terugtrek en privaat kan wees en veilig voel om net te kan treur. Ek blameer nie die media nie. Hulle het gedoen wat hulle doen. Ek het vinnig besef dis die prys wat ek moes betaal omdat ek in verhouding was met iemand wat baie bekend was, tenspyte daarvan dat ons baie privaat was deur al die tyd wat ons bymekaar was.

Ek het ook nooit besef hoe belangrik die rituele rondom die dood is nie. Vandag weet ek hoe belangrik dit is om deur die genesingsproses te gaan. My uitsluiting met onder andere die ‘wake’ en dat ek by die begrafnis eenkant moes bly, was vreeslik moelik.  Maar die moeilikste was beslis die publieke aandag en dat dit so aangehou het. Elke keer as ek gedink het ek kom op vir asem dan gebeur daar  weer iets en die pers skryf daaroor. Ek het later gevoel ek staan in die see en die branders bly my omslaan. En natuurlik het ek toe op die ou einde my werk verloor deur die media aandag.

 Hoe voel jy daaroor dat jy so uitgesluit was by al die rituele rondom Gerry en die drama wat hom afgespeel het daarna?

Ek was so verward, ek kon nie glo wat gebeur nie. In retrospeksie, weet ek dat dit so ‘n moeilike tyd met die media was en dat almal maar net die beste probeer doen het wat ons kon. Almal wat betrokke was het daardeur gekom - opsigself ‘n prestasie.  My ervaring van uitsluiting was deels ook hoekom ek die boek geskryf het - omdat ek besef het ek is nie ‘n unieke geval is nie. Baie vroue het my gekontak na Gerry se dood. Omdat egskeiding nog redelik nuut is (dit het eers in ’95 wettig geword  in Ierland)  weet die Iere nog nie lekker wat om te doen met tweede verhoudings nie. So baie mense het tweede verhoudings en het selfs kinders, maar hulle is nie wettig geskei nie, omdat daar allerhande kompleksiteite rondom die wet is.

Ek het klomp briewe gekry van vroue wat jare saam met ‘n man is en kinders het, maar hy is steeds nie geskei van sy eerste vrou nie. Ek het gehoop die boek sal bietjie help dat as ander mense dalk in ‘n soortgelyke in die situasie in die toekoms is, hulle bietjie sal dink oor hoe om dit sensitief te hanteer. In die intense routydperk direk na iemand se dood kan niemand reguit dink nie.  Daar’s gesê  ons was die eerste  hoë profiel-paartjie met wie dit gebeur het. Daar was nie regtig ‘n presedent van hoe om hierdie situasie te hanteer nie en dit was ‘n probleem. Kon daar bietjie meer medemenslikheid gewees het?  Ja, beslis.

Jy was in Ierland, ver van jou familie net met jou kinders. Waar het jou ondersteuning vandaan gekom?

My vriendekring het letterlik in twee, drie weke gekrimp. Ek kon vanaand iets sê vir iemand en die volgende oggend staan die joernaliste voor my deur en sê: “ek hoor . . . “  So het ek letterlik my vriendekring gereduseer tot twee mense in Ierland en een persoon in SA met wie ek gepraat het - dis steeds so. Daar was wel ‘n paar goed wat gehelp het. My kinders was vir my ‘n baie groot ondersteuning, maar dis ook vir my baie hartseer, want hulle het self hulp nodig gehad.  Dae wat die lewe so donker geraak het, het ek uit die bed opgestaan net oor die kinders. Maar ek het gou besef mens moet terapie kry as jy deur so iets gaan. Ek het met ‘n gewone terapeut gepraat, maar ek het ook ‘n grievance councillor gesien. Iemand  moet jou hand vashou deur hierdie proses.

Wat my spesifiek in Ierland baie gehelp het, was die gewone mense op straat. Oornag het my gesig baie bekend geword en mense stop my gereeld net om my ‘n drukkie te gee of  te bemoedig. Dan het my werk ook baie gehelp. Drie weke na Gerry se dood het ek teruggegaan, omdat ek bekommerd was oor die werk, maar dit het ook my ontvlugting geword. Dit was die een plek waar ek veilig gevoel het.

Het jy nou ‘n wantroue in mense?

Ja, natuurlik. Om jou ‘n voorbeeld te gee, sogenaamde vriende het my gereeld geteks oor die laaste drie jaar dan sal hulle sê: “Jammer oor die storie in vandag se koerant, ek het bietjie geld nodig gehad om die huur te betaal.” Dan was dit iemand wat jy vertrou het. Dis een van die negatiewe oorblyfsels van die laaste drie jaar.  Ek was nog altyd vreeslik lief vir mense, ek hou van mense en nou is ek sku en baie versigtiger. Ek het voorheen aanvaar mense is goed en gaaf  en nou sukkel ek daarmee. Ek verwag deesdae dat mense negatief gaan reageer of  nie betroubaar is nie.

Hoe het alles wat gebeur het jou verhouding met jou kinders, Wilmé en Wian, beïnvloed?

Ons is ‘n baie hegte groepie. Ná ek en Wilhelm geskei is, het dit ons drietjies geword. En daai bande is baie versterk na Gerry se dood. Die vreeslike dag toe ek vir Gerry op ons slaapkamer vloer gekry het, was Wian by my. Hy was maar sewentien. Hy het letterlik oorgeneem en my gehelp, want ek kon nie reguit dink nie. My seun het in daai paar minute ‘n man geword en ‘n groot prys daarvoor betaal, met posttraumatiese stresversteuring vir ‘n paar maande. My kinders het my gedra deur die laaste drie jaar, maar die media-belangstelling het ook ‘n tol op hulle albei geeis.

Deur al die jare was dit vir my ‘n absolute prioriteit om my kinders se privaatheid te beskerm. Maar skielik moes hulle die joernaliste wat konstant die voordeurklokkie gelui het en voor ons huis uitgehang het, hanteer. Dit het die lewe baie moeilik gemaak. Dit bly ook vir hulle moeilik om die goed te sien wat oor hul ma geskryf word. Maar ons is deur alles en ek staan net in verwondering oor my kinders se resilience.

Jy’s baie gedrewe in jou professionele lewe. Dit moes ‘n slag vir jou wees toe jy jou werk verloor het oor die omstredenheid wat deur die media geskep was rondom Gerry en jou met sy dood

Dit het my wind uit geslaan. Die ergste was toe ek Gerry verloor het, maar toe ek my werk verloor, was dit net daai een ding te veel. Dit was die een plek waar dinge nog normaal was en ek was net absoluut mal oor die werk. Dit was so lekker om geld vir Unicef in te samel en dit het so goed gegaan. Ek het 27 miljoen Euro ingesamel oor vier jaar. In die laaste jaar het ons die geld verdubbel ten spyte daarvan dat 70 % van Ierse welsynorganisasies ten gronde gegaan het. Ek het die beste span rondom my gehad en ons was na aan mekaar ook. Ja, en toe verloor ek die werk.

Die ding waarmee ek die meeste daarna gesukkel het was die ongeregtigheid daarvan. En natuurlik wat dit gaan beteken vir die toekoms – of ek weer ‘n werk gaan kry en hoe ek die kinders wat my verantwoordelikheid is finansieël gaan versorg. Ek het baie gesukkel op ‘n spirituele vlak met hoe dit moontlik is dat mens  so groot prys kan betaal, net omdat jy lief was vir iemand. Ek het al hierdie goed verloor;  my privaatheid, my werk, my inkomste  en natuurlik het ek vir Gerry verloor. Daarmee saam het ek ook al my drome vir die toekoms verloor. Ek het gesukkel om my kop daarom te kry, om sin te maak oor hoekom dit gebeur? Maar nou weet ek daar’s nie altyd ‘n rede vir alles nie. Soms slaan die lewe jou winduit en al wat jy dan kan doen is om te besluit wat jy daarmee gaan doen.

Ná die Unicef-drama het ek het terug gekom huis toe en besluit dat dit my nie gaan onderkry nie en dat ek alles moet doen om weer gesond en heel te word. Ek het diep gerou, maar ek het ook geweet ek moet die ongeregtighede aanspreek. Die boek was deel daarvan. Dit was nie meer ‘n opsie om stil te bly nie. Die waarheid moes uitkom en daarom moes ek die boek publiseer. Ek het ook besluit om die ongeregtigheid in ‘n hofsaak teen Unicef te takel. Die saak is  uiteindelik na twee jaar buite die hof geskik, met ‘n openbare verklaring van Unicef dat my werk altyd van die hoogste standaard was. Ek het ook hofsake teen van die koerante gemaak wat ernstige leuens oor my geskryf het. Vandag voel ek weer heel en reg vir die volgende fase in my lewe.

Daar is wel nog‘n gat in my universe in Gerry se vorm en dit sal vir ewig daar bly. Ek sal hom altyd mis, maar ek sal ook altyd aan hom dink  met ‘n glimlag, want ons het wonderlike tye gehad. Ek weet ook dat as ek my lewe sou oorkry, sou ek weer dieselfde besluite geneem het.  Genadiglik is die rouproses nou ook makliker. Ek het onlangs gelees dat ‘n vrou oor rou gesê het dat dit soos ‘n handsak is wat jy optel, die dag as jy iemand na aan jou verloor. Jy kan nooit weer die handsak neersit nie, maar jy kan hoop dat die handsak ligter raak en dat jy later nie meer die heel tyd bewus is van die handsak oor jou skouer nie. Dis vir my ‘n mooi metafoor. En ja, my ‘handsak’ is nog  daar, maar dis ligter en daar’s selfs dae dat ek vergeet daarvan. En dis goed.