Of dit neem ’n tydjie om aan mekaar gewoond te raak, of die raakpunte is maar skraal, of daar is nooit eintlik raakpunte nie en sal nooit wees nie? Dit strek oor talle grense, trouens, dit strek oor alle grense.

’n Mens sit op ’n bus langs iemand wat jy glad nie ken nie en julle begin gesels, en wanneer die einde van die reis aanbreek, is julle vriende. Of jy stap by ’n winkel in en die assistent en jy vorm dadelik ’n soort “span” en jy gaan koop later verkieslik by haar. Of jy kom in ’n kantoor en die man of vrou weet wat jy wil hê en onmiddellik is daar respek. Of jy ontmoet by die kerk en nooit elders as die kerk nie, maar wanneer julle mekaar sien, is daar ’n groot vreugde. Dit kan oud, jonk, kind, van dieselfde of teenoorgestelde geslag wees of elke kleur onder die son.

Op ’n dag het ek sommer by ’n haarsalon ingeloop en gevra of hulle my hare sal sny. Ja, het die Asiërvrou gesê, en ons het spontaan begin gesels. Sy kon my
nogal iets vertel, ook (eers baie later) van sekere mense wie se “boss” ek is en sê dat ek ’n baie moeilike “boss” is en hoe op aarde sy naby aan my kan kom? Die
haarsalon het al verskeie male verskuif, maar ek gaan nog na haar om my hare te laat skeer.

By die apteek is daar twee sulke vroue. By die kerk is daar ’n paar mense. Samuel, eens my motorbestuurder by die koerant, is my swart seun. En Ansie van der
Merwe, wat by die koerant redaksionele assistent was en soms na my werk ook omgesien het, bly ’n vriendin. Sy was ’n ware “baas” wat ons almal geregeer het. Op ’n dag toe ek haar vir tee vra en sy dit neersit, sê ek baie dankie en sy loop. “Juffrou,” vra ek, “sê jy nooit iets as iemand vir jou dankie sê nie. Soos: Dis ’n plesier . . .”

“Nee,” sê sy, “dit is nié vir my ’n plesier nie. Ek hou nie van teemaak nie.” Dit was ’n grap, maar met net so ’n ietsie by.

“Sê dan net jy’s welkom.”

“Goed,” sê sy en stap aan, en van toe af was dit “welkom”. Hoekom ek haar uitsonder? Sy bel nog, ná jare, net om te hoor hoe dit gaan. Tans help sy ’n Kongolese meisietjie met haar tuiswerk. Sy sê die kind het dadelik in haar hart gekruip. Sy woon ook die ouervergaderings by die skool by vir haar “kind”.

Dit was met feitlik al my sekretaresses so. Ons kom klaar, uit en gedaan. Van die begin af. Maar wanneer dit nie so is nie, en die chemie werk nie, is die gort gaar. Dit kan ’n nagmerrie word.

Hoe wérk die chemie? Ek weet nie. Sekere tipes pas dadelik, ander nooit. ’n Jong vriend is met ’n Chinese vrou getroud en ek en dié klein Chinesie het dadelik mekaar aangevoel. Aan die ander kant is daar mense aan wie ’n mens nooit vat kry nie. Die chemiese formule werk nie.

Maar omdat dit vanjaar SARIE se verjaardag is, wil ek een mens uitsonder: Helene Fourie, my jare lange assistent daar. Tussen ons was daar van die begin af
bestanddele wat wérk. Sy kon my handtekens lees! Ek het haar eenmaal ingeskryf vir Sekretaresse van die Jaar, maar ons het nie die eindronde gehaal nie. Dalk het hulle nie van my bakkies op die foto gehou nie!

Nogmaals geluk, SARIE, mag die chemie altyd werk tussen jou en jou lesers. En bo-al, mag die “chemie” altyd werk tussen almal wat hier lees en . . . God.