Ek meen, partykeer dink selfs ék ons huishoudelike krisisse klink miskien 'n bietjie dik vir 'n daalder.

Soos laas maand toe ons voordeur uitgeval het.

Néé, het ek vir myself gesê terwyl ek daar in ons voordeurlose huis staan, met die mistralwind wat teen 100 km per uur deur die gang waai, niemand gaan my glo as ek dit skryf nie! Die volgende dag, toe ons tuiste darem al minder soos 'n windtonnel voel - maar meer soos 'n plakkershut omdat ons die ingang met swart vullissakke moes bedek - het ek besluit ek móét dit skryf. Al is dit dan net om te wys, weer eens, dat die waarheid vreemder kan wees as enigiets wat selfs
'n taamlik verbeeldingryke storieverteller soos ek kan uitdink.

Verstaan my mooi, ons voordeur is nie sommer 'n ou popspeeldeurtjie nie. Dis 'n gewigtige meneer van 'n deur, 'n stewige houtraam rondom gietystertralies, met agter die tralies 'n enorme plaat glas wat sweerlik dik genoeg vir 'n vliegtuigvenster sou wees. Maar ná dit laas jaar buitengewoon baie gereën het, het die hout so geswel dat ons al hoe meer gesukkel het om die deur toe te kry. En al vertel ek dikwels vir verbaasde Suid-Afrikaanse vriende dat ek nie snags my voordeur sluit nie, wil ek dit nou ook nie wawyd oop laat gaap sodat al die rondloperkatte in die buurt ons Kosi-kat se kos kom steel nie.

Daarom het ons nou al 'n paar keer die sware deur van sy skarniere afgelig, steunend en kreunend soos gewigstoters in 'n gimnasium, om die kante bietjie af te
plat met 'n geleende skuurmasjientjie. Vergeefs, want 'n week of twee later is die deur maar weer so steeks dat jy hom met alle geweld moet klap om hom toe te
kry. Natuurlik nie 'n probleem vir die tieners in die huis nie. (Vir 'n tiener is die klap van 'n deur mos net nog 'n vorm van kommunikasie, soos SMS-boodskappe of foto's op Facebook.) Vir my en my man het dit nogal oefening gekos, maar ons het volhard tot ons nes ons hormoonbelaaide kinders die deur kon toesmyt.

Maar 'n deur wat so gedurig klap, laat dit klink of daar 'n bendeoorlog in jou sitkamer woed. Jy wil kort-kort platval om nie raakgeskiet te word nie. G'n mens se senuwees kan dit hou nie. Ons het almal al ietwat uitgerafel begin voel toe die doodskoot laat een aand deur een van die tieners (wie anders?) toegedien is. Net daardie één klap te veel, toe val die deur met 'n bloedstollende slag uit sy kosyn en die gang lê besaai met lewensgevaarlike glasskerwe.

Ons het die skerwe opgevee en die deur weer min of meer reg in sy kosyn gehang, maar die wind het die hele nag lank soos 'n siek kind gekerm deur die groot gat waar die glas voorheen was. (Ja, selfs nadat ons dit met swart vullissakke probeer toestop het.) En die volgende oggend, met man en kinders lekker warm by werk en skool, sak die eerste sneeuvlokke van die seisoen uit. Gewoonlik vir my 'n magiese oomblik, maar daar agter die swart vullissakke word dit toe bloot 'n vriesende oomblik. Nou moes ek boonop 'n besneeude pad beproef om 'n nuwe deur te gaan koop.

Maar terwyl ek nog so bibberend en besluiteloos op die drumpel van my nuttelose deur staan, merk ek vir die eerste keer 'n piepklein skroefie op wat dalk al dekades gelede in die kosyn agtergebly het. Die oomblik toe ek die skroefie verwyder, klik die deur sag en soet toe. Toe is dit sowaar nie meer nodig om die deur te vervang nie, net die glas.

Daardie byna onsigbare skroefie wat my so byna 'n nuwe voordeur gekos het, het my herinner aan die gesegde oor die kleinste jakkalsies wat die grootste verwoesting saai. Ek het die skroefie gehou sodat ek die les kan onthou.

En ja, seker ook as bewys, net ingeval iemand sou sukkel om hierdie onwaarskynlike storie te glo.