Reeds die dag dat Charl opdaag vir sy oudisie het ek besef dat hy anders is as enigiemand wat ek nog ooit ontmoet het. Hy loop gebukkend onder ’n oormaat talent, het meer energie as ’n kragstasie, is uitbundig, belangstellend en het beter maniere as enige ander wese van in die twintig.

Maar wat my die meeste beïndruk, is dat Charl die kuns van briefskryf beoefen. Die mooiste skeppings uit eksotiese papier en weelderige koeverte, tydsaam versier met ’n klassieke handskrif en bewoord met liefde, hiermee beloon hy die mense in sy lewe.

Hoekom, met die nabyheid van ’n telefoon, die spoed van ’n e-pos of die kroon van hedendaagse irritasie: ’n getikte boodskappie op ’n selfoon, sou enige mens homself nog soveel moeite aandoen? Dalk, net dalk, is dit omdat sommiges in hierdie moeras van kitslewens en spoed hul gedagtes en gevoelens duursaam genoeg ag om te verewig en te deel.

Die eerste briewe is geskryf toe handelaars ongeveer 8500 v.C. hul transaksies op kleitablette uitgekrap het. Hierdie simbole of prentjies het verdwyn toe ’n tipe alfabet tussen 1700 en 1500 v.C. ontwikkel is. Met die tyd het skryfinstrumente ontwikkel van metaal, been of ivoor na penne uit vere, meestal dié van swane en ganse, en vir fyner skrif, dié van kraaie. In 1495 het Aldus Manutius in Venesië lopende skrif ontwikkel, kort daarna is die 26-letter alfabet in gebruik geneem en die skryf van briewe het hoogmode geword.

Die idee dat briewe gereeld afgelewer kon word, het die beskawing gaande gehad. Geleerdes en geletterdes het elke dag letterlik ’n paar uur afgestaan aan die skryf van briewe.

Voltaire se korrespondensie alleen beslaan 45 volumes. Toe, in 1800, het die posbedryf, soos ons dit vandag ken, ontstaan en die kuns van briefskryf het skielik sy poëtiese en eksotiese beeld verloor. Al hoe minder is daar geskryf om die vreugde daarvan en al hoe meer uit nood.

In oorlogstye kon soldate kontak hou met hul families. Kennis, uitvindsels en ontdekkings kon vinniger met die wêreld gedeel word en liefdesdramas kon hulself oor ’n afstand uitwoed. Tussen 1883 en 1894 het ’n Britse kamerbediende 52 briewe aan haar vriendin geskryf terwyl sy die wêreld met haar adelike werkgewers deurkruis het. Hierdie versameling briewe is nou ’n gesaghebbende bron van inligting oor die Victoriaanse tyd, wêreldstede en koninklike howe.

Deesdae is ’n posbus gevul met rommel, rekeninge, bankstate en aanmanings. Word daar nog koeverte verseël met goeie wense, persoonlike verhale, verlange, ’n poging tot ’n gedig of selfs net ’n resep vir ’n gunsteling-gereg? Verbeel ek my of neem ons makliker die pen op vir ’n venynige debat, ’n familietwis, om geld te leen, om bronstig ’n foonnommer onder ’n ruitveër te los of om ’n bekende oor die vingers te raps op die brieweblad van ’n glanstydskrif? Hoeveel van ons ken nog die opwinding van ’n gefrommelde liefdesbrief, die warmte van ’n waarderende nota op ’n lessenaar of die versigtige handskrif van ’n veraf tante, lynreguit op dun lugpospapier? Loop iemand nog rond met ’n kosbare geskrif in ’n beursie, in ’n baadjiesak, naby aan die hart? Is daar nog waarde aan iemand se tyd, kenmerkende reuk of indirekte aanraking?

Gereeld verskyn die leerhouer uit my kas. Sommige van my ouma se briewe is al 25 jaar oud. Maar nog steeds is die handskrif uniek en die liefde lewendig. Die meeste briewe begin met ’n naskrif bo langs die datum, iets wat haar bygeval het nadat sy reeds gegroet het. Sommige is volgeskryf teen die kante en binne-in die koevert met agterop die flap ’n laaste gedagte en ’n goeie wens vir die posman. Dít is die geskiedenis van my familie, die plekke en die vreugdes van my kindertyd.

Onlangs het ek gesit en kyk hoe ’n jong professionele persoon ’n aantekening maak. Die handskrif was lomp, onseker en onpersoonlik, tipies van ’n generasie wat identiteit en kommunikasie moet aanleer voor ’n rekenaar. Skryf, en dus ook briefskryf, is nie meer ’n noodsaaklikheid nie, bloot ’n tydverdryf, ’n kunsvorm. En vir dié wat dit beoefen en dié wat dit ontvang, bly dit ’n noodsaaklike vreugde. Soos ’n ferm omhelsing of ’n lank begeerde soen.