Vir baie mense is Orania 'n rare koddigheid. Daar’s uiteenlopende menings oor die bestaansreg van so 'n volkstaat slegs vir wit Afrikaners. Die dorpie is van meet af in omstredenheid gehul.

Orania, (Umuzi, R350) is ’n dokumentêre fotoboek wat saamgestel is deur die fotograaf Michael Hammond en die joernalis en skrywer, Hanlie Retief. Hulle plaas die dorp en sy mense in konteks, menswaardig en met respek. Dis gewone mense met gewone ideale, nes enige ander landsburger. Michael Hammond se dokumentêre aanslag met sy foto’s is eerlik en reguit. Jy kan die gestrooptheid van die ongenaakbare wêreld in die foto’s sien. Tog is daar ’n gelatenheid en tevredenheid op die gesigte van die meeste mense in die portrette. Hanlie Retief kry dit reg om met min woorde 'n kamee te skets van elke mens met wie sy gesels. Die teks is in Afrikaans en in Engels. In die voorwoord gee prof. Andries Bezuidenhout waardevolle agtergrond en insig in die geskiedenis van Orania.

Wanneer ek deur die boek blaai, draai Carel Boshoff IV se woorde in my kop:“Om in Orania te woon is soos om tegelyk in die verlede en in die toekoms te woon.” Die boek is fassinerend en dra by tot die dokumentering van 'n unieke gemeenskap van Suid-Afrika. Ek het per e-pos met Michael Hammond gesels oor dié projek.

MH Hammond01

Wat het jou geïnspireer om ’n fotoboek oor Orania te doen?

Ek het lankal ’n fassinasie met hierdie gemeenskappie. Al wat ’n mens in die media lees oor Orania is ‘vreemdheid’. Hoekom sal mense dan so afgesonderd hul eie ding wil doen, terwyl Suid-Afrika blom in sy diversiteit? Ek wou vir myself gaan sien hoe die mense van Orania leef. Ek het geweet dat ander Suid-Afrikaners ook hieroor wonder.

Wat fassineer jou oor die gebied en sy mense?

Orania lê op ’n harde stukkie aarde in die Noord-Kaap. Dit verg uithouvermoë en vasberadenheid om daar ’n bestaan te maak. Dis asof die landskap en mense ’n verstandhouding het: Jy sorg vir my en ek sorg vir jou. Dit is iets waaroor ons te min dink, en ek het ’n diep respek ontwikkel vir die omgewing en sy mense.

Hoe het jy die projek aangepak?

Ek en Hanlie Retief het geweet dat ons iets anders wil doen met hierdie onderwerp. Ons wou dieper delf om die ware persoonlikheid van die dorp vas te vang en nie net vas te kyk in die kontroversiële aspek van ’n Afrikaner-volkstaat nie. Dus het ons besluit om geen kommentaar te lewer of menings te lig hieroor nie, maar eerder te fokus op die individue wat hierdie dorpie so uniek maak. Ons wou dit vertel soos dit is, deur narratiewe en portrette.

Is julle met ope arms verwelkom in die dorp om die projek te doen?

Die Dorpsbestuur gee permitte aan joernaliste wat die dorp besoek. Hulle het ’n beleid dat almal welkom is om die dorp te besoek, solank jy die inwoners se privaatheid respekteer. Verstaanbaar was daar skeptisisme. Die inwoners van Orania is gewoond aan joernaliste op soek na sappige stories. So ek moes hard werk om my idee aan hulle oor te dra, maar die meerderheid het my openhartig ontvang in hul persoonlike spasies en ek was later as ’n inwoner gesien.

Het jy ’n buitengewone fotosessie gehad, een wat in jou kop vassteek?

Gabriël van den Berg, die “perdekapelaan”. Sy plaas lê op die randjie van Orania. Sy ouers woon in die buiteland en het vir hom hierdie stukkie grond gekoop sodat hy met sy perde kan werk. As jong seun het hy ’n ongeluk gehad wat hom gestremd gelaat het, maar niks staan in sy pad nie. Hy is ’n ware ‘boere-cowboy’. Sy trots, nederigheid en selfvertroue sal my altyd bybly. ’n Sterk mens.

Hoe lank het dit geneem om al die foto’s te neem?

Ek het met ’n paar besoeke aan Orania deur 3 seisoene gewerk - altesaam amper 2 maande in dae getel.

Hanlie Retief het die teks geskryf. Hoe het julle saamgewerk?

Tydens my eerste paar besoeke aan Orania het ek gewerk aan die portrette. Dit sou gewoonlik lang geselsies veroorsaak waardeur ek inligting sou bymekaarmaak wat vir Hanlie kon help. Hanlie het later saamgekom en haar dae spandeer met die mense in die fotos. Ons het ’n lekker ritme gevind en soms sou ons saam mense besoek as ons in iemand interessants vasgeloop het of van gehoor het.

Wat is jou beste herinnering van die projek?

Die Rebelle. Orania se Rugbyspan ding na jare weer mee in liga-wedstryde teen spanne van omliggende dorpe van die area. Ek het so baie geleer van die mense en die dorp langs Orania se rugbyveld. Nie net oor Orania, maar ook oor myself.

Het jy die omslagfoto gekies?

Daar was net een foto vir die voorblad, en dis Ruaan Roets en sy hond Zeus. Daar is soveel simboliek in hierdie portret. Dis ’n foto wat my kom vind het, eerder as dat ek die foto gesoek het. Die jong blonde seun met sy groot hond en die spanning in die oranje tou tussen hulle. . . Die doringbosse en die grondpad. Ek het geweet dis die voorblad toe ek die sluiterknoppie druk.

Gunsteling-foto’s in die boek?

Daar is ’n hele paar portrette wat na aan my hart lê, met oomblikke en geselsies wat indruk gemaak het, maar die seun agterop die Toyota bakkie, Maarten Neethling met ’n koeldrankie in die hand is beslis ’n groot gunsteling. Dit was ’n warm stowwerige dag so naby die einde van die projek. Ek het diep ingedagte in die middel van die parkeerarea van Eureka Kafee gestaan en wonder in watter rigting ek volgende sou gaan, terwyl hierdie foto vir my sit en wag het.

Wie is jy en wat begeester jou?

Ek werk by die Universiteit van Kaapstad as fotograaf en woon in Rondebosch. Ek het ’n passie vir visuele antropologie, lang afstande ry en die natuur. Ek het vroeg hierdie jaar getrou met die nooi wat my gemotiveer het om dié projek te verwerklik.

Het jy ’n spesifieke fotograaf wat jy bewonder?

Suid-Afrika het ’n rykdom van inspirerende fotograwe. Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van David Goldblatt se ‘Some Afrikaners’ en ‘In Boksburg’. Ek geniet ook die werk van die Amerikaanse fotograwe Brandon Stanton (Humans of New York), asook Vivian Maier wat jare lank straattonele in die geheim gefotografeer het. Sy was ’n dagmoeder. Toe sy geleef het, is haar werk nooit gesien nie. Haar werk is gevind deur 'n jong man wat die negatiewe gekoop het op 'n veiling. Hy was nie seker wat hy gekoop het totdat hy die foto's begin ontwikkel het nie. Sy word vandag gereken as een van die grootste name in straatfotografie.