Die uitleg van SARIE KOS vir Herfs skop binne dae af (ja, Barbara het al weer 'n hele uitgawe se resepte geskep, die stories is geskryf en die foto's geneem), en ons grafiese kunstenaars is reeds besig met die uitleg van ons Winter Mode- en Skoonheidsbylaag, wat saam met SARIE se Mei-uitgawe op straat sal wees.

En toe sien ons ook kans om dié week SARIE se eerste, interaktiewe webtuiste bekend te stel! 'n Hele nuwe wêreld gaan nou vir ons oop. Die wonderlike ding van nuwe tegnologie is dat ruimte ('n skaars, kosbare ding in die gedrukte media) skielik nie meer 'n probleem is nie. Waarvoor daar in SARIE nie self plek is nie sal jy nou op die web kan vind!

Boonop sal ons kan gesels net wanneer en hoe ons lus het - sommer so tussen SARIE-uitgawes deur. Van nou sal lesers ook gereeld hoor waarmee ons besig is en hoe ons maak om elke uitgawe goed én betyds op die rak te kry. Glo my, ons het soms senuwees van staal nodig om als te laat werk soos ons dit beplan het. Hopelik gaan ons sommer dadelik van jou ook begin hoor, ongeag waar jy bly. Want dis nóg 'n ding - in die kuberruim is alles bymekaar. So, of jy nou www.sarie.com lees uit Brittanje, China, Kanada of Korea (ja, sowaar), ons is verheug om van jou te hoor. (SARIE-intekenaars sit juis die hele wêreld vol - in 28 lande om presies te wees.)

Die lekkerste is dat hierdie nou saamval met die viering van SARIE se groot verjaardag vanjaar. 60 jaar gelede, op 6 Julie 1949, het Sarie Marais vir die eerste keer op die rak verskyn. www.sarie.com is dus die nuutste in 'n lang ry mylpale vir die tydskrif oor baie jare. Om te dink SARIE was destyds net in swart-en-wit te kry, later was net die voorblaaie in kleur, maar daarvoor is hulle Italië toe gestuur om gedruk te word en dan al die pad terug SA toe verskeep. Nóú het ons SARIE in volkleur - en boonop op die internet!

Hoewel papier en die gedrukte media altyd my eerste liefde sal wees - die kleure en geure van 'n glanstydskrif is mos pure verleiding - bly die onmiddellikheid van die internet fassinerend. Ons het byvoorbeeld teen 5.30 vanmiddag geweet dat 72% van SARIE-lesers sê Minki en kie. se onlangse kaalbors-foto's help net mooi niks in die veldtog teen vrouegeweld in SA nie. Net so interessant is dat André le Roux se Op die vrou af-rubriek, “Eksieperfeksie”, al meer as 100 besoeke gekry het - en hier is borste ook ter sprake!

Op SARIE self teken ek op die oomblik my eie Maledive-reisstorie vir die fabriek af. Einde verlede jaar was ek saam met 'n paar media-vriende op dié ongelooflike eilande, en julle sal die storie in die Maart-uitgawe (die een op die rak!) kan lees, en julle verwonder aan daardie blou-blou foto's. Dit moet een van die mooiste plekke op aarde wees - 'n mens het eintlik nie genoeg byvoeglike naamwoorde vir die kleur van daardie water nie. Maar daar kom ek toe 'n ding met my swembroek oor, en dís die Redakteursbrief wat ek vir dieselfde uitgawe (9 Feb op straat) aan 't skryf is.

Vanaand is ek op pad na die Suidoosterfees se opening in die Kunstekaap, die stuk Miss Africa South, met Vinette Ebrahim (Charmaine van 7de Laan) in die hoofrol. Ek sien uit daarna, want ons het juis in die SARIE wat nou op straat is (die een met die mooie Anneline Kriel op die voorblad) 'n roerende storie oor ons eerste Mej. Afrika-Suid, Pearl Jansen. Sy het destyds nooit werklik SA, of haar mense, se erkenning geniet nie - selfs nie toe sy in 1970 tweede was in die Mej. Wêreldkompetisie in Londen nie!

Gaan lees die storie as jy dit nog nie gedoen het nie - dis 'n verhaal van hoop en nooit moed verloor nie. Intussen laat weet ek julle hoe Vinette lyk met 'n kroon op die kop en die rol van skoonheidskoningin vertolk!

Groete

Michélle

André le Roux, skrywer van Op die vrou af:

Met ons nuwe webwerf het dit baie leeswerk gekos om foute met die oorskakeling van SARIE-artikels na die webwerf uit te skakel. Ek het byvoorbeeld drie jaar se rubrieke (van Laaste sê deur Kaalkop en Marita tot by Op die vrou af) woord vir woord en paragraaf vir paragraaf met 'n fyn oog deurgegaan.

Toe pak my linkeroog op.

Bloedrooi. Aartjie gebars en dit lyk sleg.

Iemand beveel aan ek kry Computer Eye Relief-oogdruppels, 'n naam wat natuurlik deur 'n slim farmaseutiese bemarker uitgedink is omdat die hele wêreld met hul oë voor rekenaarskerms sit (Zimbabwe en Darfoer uitgesluit).

"Ek soek Computer Eye Relief," sê ek vir die apteker. Sy sê hulle het dit nie.

Ek haal my bril af en sê: "Kyk na my oog. Ek soek iets vir my oog." Die apteker skrik glads en kry ander oogdruppels.

Langs die apteker staan 'n assistent, so 'n opgeskote vrou, wat die hele gesprek volg.

Toe ek uitloop, kyk sy my so en sê: "Skryf u nie Op die oog af in SARIE nie?"