Die stylpolisie is op 24-uur-diens, die modebloggers tik dat dit klap en die modekenners sit vasgenael voor die TV en die rekenaar.

Die Obamas kuier in Brittanje en Michelle Obama se uitrustings oorheers die nuus.

Geleenthede soos dié hou die 'gevaar' in van talle potensiële modeblapse! Die etiket, veral rondom die kies van uitrustings, is kompleks en fassinerend. Volgens Chris, modeghoeroe en SARIE se nuwe modedirekteur, het mens omtrent 'n doktorsgraad in mode nodig om dié slaggate mis te trap...

Maar tydens dié besoek deur die Amerikaanse president en sy elegante vrou aan Brittanje is daar nog min stylvoetjies verkeerd gesit. Dis wat Chris oor Michelle (én Kate) se uitrustings te sê het:

MET DIE AANKOMS

Die presidentspaar kom in Brittanje aan

(foto: www.zimbio.com)

Michelle lyk koninklik in 'n elektriese blou tweestuk-uitrusting deur die Britse ontwerperspaar, Preen, toe sy en president Barack Obama laataand op Stansted-lughawe geland het.

Chris Viljoen sê:

"Die potloopromp het 'n hoë middel en is tulpvormig (tulip) met plooie bo. Die hoë middel trek die aandag weg van haar heupe en beklemtoon haar fantastiese middel."

TOE SY EN KATE AAN DIE GESELS GERAAK HET...

Barbara Tfank & Reiss

(foto: www.lelalondon.com)

Dinsdagmiddag (24 Mei 2011) het die presidentspaar die pasgetroude (en bruingebrande!) William en Kate by Buckingham-paleis ontmoet.

Chris Viljoen sê:

"Michelle Obama doen hier wat sy altyd doen...aksentueer haar goeie punte en verbloem haar swakpunte. 'n 50's-uitklokrok deur Barbara Tfank doen presies dit! Die vroulike fatsoen daarvan beklemtoon haar dun middel en die knielengte eindig op die dunste deel van haar knie.

Ons sien haar ook gereeld in 'n bolero-baadjie. Dis 'n praktiese item: Dit hou warm sonder om té bonkig te wees. Dit bedek ook nie die res van die uitrusting nie. Sy rond haar uitrusting af met 'n paar amandelvormige puntskoene waarvan die hak nie te hoog is nie. Deftig dog dienlik.

Kate se bandage-styl-rok (dit vou om die lyf soos stywe verbande en is gewoonlik baie vleiend) is van die Britse high street-kettingwinkel, Reiss. Dit lyk of Kate voortbou op die boodskap wat haar bling-lose trourok aan die wêreld gestuur het. Dis styl-demokrasie op sy beste en die rok is na bewering reeds aanlyn uitverkoop!"

BY DIE ELEGANTE BUCKINGHAM-PALEIS-ONTHAAL


(foto: www.fashionologie.com)

Dinsdagaand is 'n elegante onthaal by Buckingham-paleis gehou. Michelle het 'n ivoorkleurige halternekskepping van georgette deur die ontwerper, Tom Ford, gedra.

Chris Viljoen sê:

Tom Ford is die 'koning' van glans en styl! Hy is bekend vir sy duur, eksklusiewe skeppings veral vir die stylvolle ouer vrou. Maar die jurie is uit of dié rokstyl werklik 'n wenner was...

Wat dink jy?