In 2007 het ek in New York ’n onderhoud gevoer met Aerin Lauder. In ons gesprek van so 40 minute was dit daardie woorde van haar wat my die meeste getref het. Sy het gepraat as die nuwe “gesig” van die Estée Lauder-dinastie; ek het geluister as SARIE se redakteur. Estée Lauder en SARIE – die twee het ’n jaar uitmekaar ontstaan (1948 en 1949), inderdaad kontinente en ’n oseaan uitmekaar, maar albei met een doel: Om vroue in die taal van hul hart góéd te laat voel oor hulself en hul wêreld. Lauder se taal was skoonheid, ons taal was Afrikaans.

Nou, ná 6 dekades, staan SARIE hier. En ons skitter! Want steeds is dit die glansblad wat derduisende Afrikaanssprekende vroue elke maand inspireer, soos ons vanaf dag 1 gedoen het toe SARIE op 6 Julie 1949 verskyn het en binne 24 uur landwyd heeltemal uitverkoop het. Toe Sarie Marais die verwesenliking was van ’n droom vir ’n tydskrif, in Afrikaans, wat vir vroue ’n hele nuwe wêreld sou ontsluit. ’n Wêreld van Audrey Blignault en Alba Bouwer, Chanel en Dior.

Oor haar eie mylpaal het Esteé Lauder destyds gesê: “As jy jou produk in iemand se hande sit, en dis gehalte, sal dit self die praatwerk doen.”

En praat SARIE nie oor die jare nie! Ons skryf en skep, luister en gee ons mening, ons reis van Tietiesbaai na Thailand, Potchefstroom na Portugal, ons neem foto’s wat ons argiewe van hoek tot kant vul, ons deel vreugdes, deel mekaar se pyn, ons verwerk teleurstellings en proe oorwinning. En ja, natuurlik, ons bak en brou asof daar geen môre is nie. Maar méér as dit... ons vertel stories. Deernisvolle Suid-Afrikaanse stories. Stories van die land en gewone mense wat ongewone dinge doen. Ons maak memories.

So met elke vertelling raak SARIE se verhaal en lesers se stories al meer verweef. En dís ’n emosionele band waarteen selfs ons redakteurs allermins bestand is!

In sy afskeidsboodskap in Junie 1976 het SARIE-redakteur Hennie Cronjé gesê: “Om ten nouste betrokke te kon wees by SARIE is ’n gelukspakkie wat vorentoe saamgedra kan word.” En Bakkies Rossouw, nadat hy ná slegs 3 jaar as redakteur van SARIE in Junie 1994 weens kanker moes groet: “O, ek sal terugverlang kantoor toe. Julle, die lesers, het dit só ’n plesier gemaak om redakteur van SARIE te kon wees.”

Izak de Villiers het sy gevoelens oor sy naderende skuif na Rapport as redakteur in April 1991 só bewoord: “Met hierdie SARIE gee ek jou ’n drukkie. Ek gee jou ’n drukkie omdat ék ’n drukkie wil hê. Om te weet dat jy, sonder dat ek te veel verduidelik, iets verstaan van ’n tyd van kom en ’n tyd van gaan.“ In Maart 2001 het Lizette Rabe haar laaste redakteursbrief begin: “Oor SARIE voel ’n mens, soos Alba Bouwer jare gelede gesê het, soos ’n familielid, of iemand wat na aan jou lewe.”

Na aan jou lewe kan nie nader aan die waarheid wees nie. Hier voel ons SARIE se storie in ons bene en ons ken haar hartsdinge. Ons erken haar geskiedenis, die waarde van haar erfenis, en ons volg trots in die voetspore van elkeen wat al ’n waardevolle bydrae tot ons tydskrif gemaak het. Maar ons weet ook die waarheid lê in ons vermoë om SARIE vorentoe te neem sodat die tydskrif vir minstens nóg 60 jaar wêrelde van inspirasie vir die Afrikaanssprekende vrou sal ontsluit. Vier dit saam met ons!

Vertel ons van jóú SARIE-herinneringe.


Tot ons weer gesels wanneer ons Augustus-uitgawe, met ’n verjaardaggeskenk spesiaal vir jou, teen 6 Julie op straat sal wees.

Lees ook al Michélle se vorige redakteursbriewe.