Op 31 Julie het Le Clos nie net vir Madiba trots gemaak nie, maar ook wêreldnuus gemaak. Hy het sy held en die grootste Olimpiër van alle tye, Michael Phelps, in die 200 m-vlinderslag geklop om goud. Hy kon dit skaars glo; die wêreld kon dit skaars dink. Phelps, die koning van die swembad, geklop deur ’n jong man met ’n vinnige glimlag. ’n Onvergeetlike oomblik. En só is ’n nuwe ster gebore: jonk, fiks, vreesloos, onkeerbaar. Net oomblikke daarna sê Le Clos vir Phelps: “Ek wil hê jy moet weet jy is my held, my rolmodel.”

’n Paar dae vroeër het ook Cameron van der Burgh op die podium gestaan nadat hy die wêreldrekord in die 100 m-borsslag verbeter het. Suid-Afrikaners was uit hul nate. Só sien hy homself, met daardie goue medalje, het Van der Burgh ’n jaar terug in ’n SARIE-onderhoud gesê. Dís sy enkele grootste fokus. Sy goue droom.  

Die Olimpiese Spele is ’n grootse gebeurtenis. Ons sit vasgenael voor daardie kassie, verstom deur die mens se fisieke vermoëns. Maar dis daardie aanhouer-wen-gees wat jou asem wegslaan. Die pyn, die teleurstelling, die mislukking, die selftwyfel is nooit genoeg om daardie gees te blus nie.

Niemand vertel hierdie storie beter as Oscar Pistorius nie. Met sy 89-jarige ouma in die stadion het hy teen van die beste naellopers in die 400 m gehardloop: hulle met ’n vaste tred, hy op sy blink, geboë lemme. ’n Medalje was die “Blade Runner” nie beskore nie, maar vir baie het hy gewen nog lank voordat hy deelge-neem het. ’n Held; die inspirerendste storie van die Spele, het die wêreld laat weet.

Waaraan skryf ons hierdie wen-gees toe?

My ma, sê Pistorius eenvoudig. Die ma wat hy op 15 verloor het. Sy wat hom geleer het dat verloorders nooit dié is wat deelneem en laaste kom nie, maar dié wat in die eerste plek nie deelneem nie. Nee was nooit deel van haar woordeskat nie. Dis ook nie Oscar se taal nie

Pure passie straal uit die jong Le Clos. Jy hoef nie te vra waar dít vandaan kom nie. Luister net hoe praat sy pa, Bert, in die BBC-TV-onderhoud (kyk op YouTube) met drif oor sy seun. As kind het hy veg-gees getoon, sê sy onderwysers vandag. En ’n verbysterende werketiek.

Vir Van der Burgh is dit die geloof dat elke mens se toekoms in sy eie hande is. “Vanaand toe ek uitstap om te swem, het ek vir myself gesê: Jy bepaal jou sterre. Ek het ’n kans gehad en dit benut!”

In so ’n wêreldarena sien ons mense op hul beste, wanneer hulle die geskiedenis herskryf en die haas onmoontlike regkry. Ja, ons sien uitsonderlike talent, maar laat ons nooit vergeet nie dat dit die resultaat is van jare se opoffering, grenslose passie en sonderlinge fokus.

Soos met alles in die lewe: As jy dit wil hê, moet jy dit gaan haal.

Chad le Clos

Oscar PistoriusCameron van der Burgh