’n Ekonomie in krisis het die planeet oor vastelande heen geknel en geknou, en ondenkbare natuurlike rampe het nasies letterlik op hul knieë gedwing. In Midde-Oosterse lande soos Egipte, Libië en Tunisië is despote deur hul eie mense van hul goue trone verjaag, en hier in SA het ons geskok gestaan oor veral groeiende korrupsie en die mishandeling van ons vroue en kinders. En tóé kom ons geliefde Bokke sonder ’n Wêreldbeker by die huis en Bafana Bafana kwalifiseer nie vir 2012 se Afrika-beker nie. Nie ’n mooi prentjie nie.

Sonder twyfel het dié jaar harde werklikhede ontbloot. Maar – en hier is die positiewe tussen die seer en onsekerheid: Mense wêreldwyd het gepráát; hulle het van hulle laat hoor soos nog nooit tevore nie. In koerante, op radio, op TV, op webtuistes, op Facebook, op Twitter, in kantore, in die strate. Deur sosiale media was die planeet in verbinding; elke stem ’n mening.

Die gesprek het gewentel om waardes, beginsels, regte.Wat wás hulle? Wáár was hulle in ’n wêreld wat geblyk het rigtingloos te wees? Miljoene mense wou die optrede van gewetenlose leiers, maatskappye, organisasies en regerings nie langer duld nie. Ook nie die verwaarlosing van ons planeet nie. Die toekoms was in óns hande en ons moes dit na waarde skat. Ons almal se stem moes gehoor word.

Net ’n paar weke gelede was ek by ’n bymekaarkom om te praat oor die waardes wat ons as mediamaatskappy en as joernaliste dryf. Integriteit, respek, verantwoordbaarheid en moed is van die beginsels waarmee ons ons vereenselwig en waarby ons staan. Dis kernwaardes wat ons nou en in die maande en jare vorentoe sal lei.

Nou is dit byna Kersfees, die einde van ’n moeilike 2011. En ek wonder: Wat is ons Kerswaardes?
Elkeen van ons vier Kersfees anders. By die huis, dalk by die see, in ’n vreemde land, soms met oordaad, soms met genoeg. Vir sommige is dit ’n kosbare geestelike ervaring; vir ander weer ’n tyd vir dankbaar wees en besin. Vir elkeen is dit ’n eie keuse. Maar een ding is seker: Kersfees laat ons álmal ’n oomblik talm . . .

Want daar’s die opwinding van familie en vriende, van kinders wat lag, lang kuiers om die tafel, van spesiale geskenke en sjampanje, die geur van kerse en dennenaalde, trifle en hoenderpastei. Al daardie goed is feestelik. Maar Kersfees is méér . . . dit bring saam met hom’n gees van vrygewigheid en harmonie.

Wonderlike waardes waarmee ons Kersfees kan vier – as individue, as gesinne, as vriende en as ’n nasie. En waarmee ons ook ons sáám en samesyn kan geniet. Laat dít vanjaar ons almal se Kersboodskap uit die hart wees. (Só sal 2011 ook hopelik met waardigheid kan eindig!)

Aan jóú, van almal by SARIE,’n geseënde Kersfees en mag die gesprek tussen ons waardevol bly.