Dis net: Ons is só omring deur inspirerende dinge dat dit eintlik 'n uitdaging is om dit nié raak te sien of te vóél nie. Ja, inspirasie beteken vir elkeen van ons iets anders, maar wat so eenders is, is dat enigiets daardie hartsvlammetjie aan die brand kan steek. Noem maar op: mense, natuur, woorde, herinneringe, gedagtes, dade, drome.

Net weke gelede is Aoeng San Soe Kji, die petite Mianmese vrou met die vaste tred en wakker oë, as 'n inspirasie vir die wêreld gehuldig nadat sy ná nóg sewe jaar in huisarres vrygelaat is. Haar oortreding? Haar meedoënlose stryd, ondanks aanslae op haar veiligheid, vir basiese menseregte in haar land - 'n reg wat ons hier so maklik as vanselfsprekend ervaar. Die ongelooflike redding in Oktober van die 33 Chileense mynwerkers nadat hulle 69 dae diep onder die aarde vasgekeer was en die wêreld saam laat asem ophou het, was die toppunt van inspirasie. Want watter vertroue het dit die mensdom nie weer gegee in ons eie wil en vermoë om te oorleef nie?

Net dié week lees ek oor 'n wêreld-kunstentoonstelling wat deur iets so eenvoudigs soos water geïnspireer is. Tog is dít die verskil tussen lewe en dood; water die verwoester, maar ook die heler. In SA, wanneer ons oor ware inspirasie praat, kan dit nooit wees sonder om Madiba te noem nie. Hy wat ons meer as enigiemand anders vir die eerste keer saam as 'n nasie geïnspireer het, en in sy donker jare in aanhouding self inspirasie geput het uit die woorde van die gedig "Invictus": I am the master of my fate: I am the captain of my soul.

En toe, so uit die bloute, hoor ons dat nóg 'n koninklike troue (behalwe ons eie Charlene Wittstock met prins Albert van Monaco) op die lys van 2011 se inspirasie-dinge is. Of ons die royals inspirerend vind of nie, dis duidelik dat prinses Di steeds vir prins William só 'n bron van inspirasie is dat hy met haar saffier-en-diamantring verloof geraak het.

Inspirasie het tyd nodig, dink ek altyd. Dis asof ?'n klomp inligting en idees in ons gedagtes wil rondkuier en -dwaal totdat die inspirasie ons, wanneer ons dit die minste verwag, met mening beetkry. En dán moet ons spring, want inspirasie laat nie op hom wag nie. Dis 'n nóú-ding - nou terwyl ons plan duidelik is en ons energie baie. Dis 'n aksie-ding, want inspirasie is net iets werd as dit ons aanmoedig om iets te doen. Om daardie droom te bewaarheid; die kreatiewe stemmetjie in ons te stil.

Nie een van ons hoef 2011 sonder inspirasie binne te gaan nie. Lees soveel jy kan, luister, kyk, praat, gun jouself tyd om dinge deur te dink en te ervaar. Die gedagtes en idees sál vloei. Die inspirasie ís daar. Ons begin juis met 'n spesiale inspirasieblad om te wys hoe jý, mense se hartstories en die wêreld om ons óns elke maand inspireer om 'n SARIE soos dié bymekaar te sit. My Inspirasie, ons inspirasie.