Dit definieer Mars, daardie vulkaan-planeet, maar simboliseer terselfdertyd die rustigheid van ’n sakkende son. Dís nou maar eenmaal rooi se storie. Van die vroegste tye is dit ’n kleur van teenstrydigheid, en die skakering wat die meeste emosie by ons aanwakker, verklap vele studies.

Warm nuus is dat rooi hare die internasionale kollig nou soos ’n brander tref. In ons skoonheidstorie op bl. 108 (in die Junie 2012-uitgawe) sê die tendensvoorspeller Li Edelkoort rooikoppe gaan die mode- en skoonheidswêreld op sy kop draai. Aarbei-blond tot diep-amber sal die kleur wees wat ons almal, vroue en mans, begéér. Dit sal die voorkoms van die tyd wees.

Ek juig saam met elke rooikop, want niks is mooier as ’n bos vlamrooi hare nie. Saam met ’n ligte vel en oë en sjarmante sproete is dit nuut en verfrissend ná die oorheersing vir dekades van ons brunette en blondines. Hierdie is ’n wetenskaplike feit: net 2% van die wêreldbevolking het natuurlike rooi hare.

Rooikoppe ís inderdaad uniek en besonders.

Met rooi hare stap die geskiedenis ’n lang, vreemde pad. Egipte se Cleopatra was glo ’n rooikop, ook Napoleon en die komponis Vivaldi. So ook koningin Elizabeth I en die Bybel se Judas. Deur die eeue is rooikoppe op ’n troon geplaas ?en intens bewonder, maar net so genadeloos gespot, dikwels gevrees en verdryf. Want in ons wêreld word anders nie sommer aanvaar nie . . .

Oor die rooikopkind Nicolas in my lewe het ek al??’n paar keer hier geskryf. Die seuntjie wat van die begin af sy rooi hare en andersheid met ’n energieke onnutsigheid uitgeleef het. Totdat skoolboelies hom begin teiken het, en sy andersheid vir hom ’n emosionele struikelblok geword het. Uit die veld geslaan is ek dat “gingerism” vandag nog so ’n aaklige werklikheid is – ten aanskoue van ouers en onderwysers wat tog moet wéét dat hul kinders, hierdie boelies, hulle skuldig maak aan ’n vorm van diskriminasie.

NicolasNicolas

Dis nie net SA se probleem nie, dis ’n wêreldwye probleem waardeur rooikoppe al selfs tot selfmoord gedryf is. ’n Sterk stem gaan voortdurend internasionaal op om bevooroordeeldheid teenoor rooikoppe, ook in hul volwasse lewe, in dieselfde klas te sien as rassisme en haatspraak.

So is ek toe nie verbaas nie toe ek “Redhead Day” op die internet raaklees. Elke jaar, aan die begin van September, vier derduisende natuurlike rooikoppe van oor die wêreld hul uniekheid in die Nederlandse stad Breda. Net om vir ’n slag nie uit te voel nie, maar eerder uitsonderlik, tussen mense wat verstaan.

"Redhead Day"hans905 via flickr

Wat is dit oor anders wat ons só beangs maak, en dan só bevooroordeeld teenoor ander? Want anders is net iets wat ons nog nie verstaan en verken het nie. Die aanvaarding van anders is juis waarin ons groei en verryking as mense lê. Dit ís ?soos die kinderboekskrywer Dr. Seuss sê: “Waarom inpas as jy gebore is om uit ?te staan?” Dis ’n waardevolle les vir elkeen van ons, en sommer ’n lewensmotto ?vir elke wonderlike rooikop.

- Michélle van Breda, Junie 2012

* Vir dié redakteursbrief is my hare digitaal rooier gemaak! As jy jouself as ’n rooikop ?wil sien, probeer hierdie gratis aanlyn-mooimaak-sessie